Ek het ’n voëltjie in ’n koutjie, maar eendag kom sy uit.

Dié woorde draal dae lank in my kop. Ek weet nie of dit ’n liedjie is nie. Dalk is dit ’n versie uit ’n lang vergete kinderboek. Of ’n droom.

Hoe ook al. Dis grendeltyd. Eenkanttyd. Ek probeer die dae inrig om in die werklikheid te bly, bind die ure af in gerwe vlyt en sinvolheid. Ek woon alleen. En werk ook so. Soms loop die pogings goed en ander kere vervaag die tyd en vloei dae slonsig inmekaar.

Ek maak moeite met die kleiner rituele van my lewe: ’n wekker smoors, bed opmaak en stort, tande borsel en hare kam, rooi streep onder die neus vir ’n bietjie kleur. Ek vryf die hond se ore. Erkentlik swaai sy haar stert sodat dit ritmies teen die kasdeur kap. “Sal ons ’n deuntjie maak?” vra ek. “Jy speel die trom en ek sal fluit.”

Ons stap saam kombuis toe. Sy wag dat ek die ketel volmaak, ore soos gestrikte linte op haar kop. Dan maak ek haar kosbak vol en sy wag kwylend dat ek die sein gee. My koffie klaar gedrink, tel ek haar leiband op. Sy dans op haar agterpote.

Die kaal bome in die park kom traag te voorskyn uit die oggendmis, die gras is swaar van dou. Die hond nael agter eekhorings aan, verdwyn rivier se kant toe. Ek stap onder die vaal gedaantes van groot bloekombome deur, dink aan die dagtake wat wag.

Terug tuis maak ek ’n beker tee en skuif agter my rekenaar in. Die hond kom lê by my voete, lek haar modderige pote en raak aan die slaap. Sy maak moffelende blafgeluide, skop-skop met haar bene. Ek sukkel om te konsentreer, die sinne breek en krummel.

Teen die middag pak ek ’n mandjie in. Dis vir my moeder in die ouetehuis: ’n pakkie Lemon Creams, ’n piesang en smeerkaaswiggies – cheddar, haar lieflingsoort. Ek is opgewonde. Vandag is die eerste dag in weke dat ek haar weer mag sien – ofskoon net oor ’n afstand en deur die tralies wat die tehuis omring. Daar was “gevalle” onder die oues. Diegene wat nie siek geword het nie, moes in hul kamers isoleer. Dit sou haar swaar getref het, weet ek.

Sy begryp lankal nie meer die wêreld om haar nie, want die ouderdom het haar denke toegespin. Sy lewe in ’n sagte waas en ek vrees dat dit haar insluk. ’n Ewigheid gelede, toe die lewe nog normaal was en ek haar daagliks kon besoek, was ek die skakel na haar lewe en geskiedenis.

Die hond trek aan haar leiband toe ons soontoe stap. “Wees geduldig, liefie,” raas ek. “Ouma gaan tog nêrens heen nie.”

By die hek wag ons lank. Dan sien ek Mamma deur die groot glasdeure kom. Sy lyk kleiner. Weggekoes teen die helder son stoot sy haar loopkarretjie huiwerig in die rigting van die heining. Sy was onlangs 95. Afgesonder, salig onbewus van die verjaarsdag.

’n Versorgster stop haar tien treë van die heining af en sit ’n masker oor die oumoeder se gesig. Sy pluk dit dadelik af. “Watse ding is dit?” vra sy verward. “Ouma moet dit dra,” kom die antwoord sagkens, “dis maar hoe dit is.”

Ek roep van die heining se kant af en sy kyk op. Ek waai geesdriftig. Sy knik beleefd.

“Mamma, dis ek,” roep ek. “Hallo! Dis ekke!” Sy wuif onseker terug en kyk vir die versorgster, wat verduidelik dat dit haar dogter is. My ma kyk weer.

“Kyk wat het ek vir jou gebring,” roep ek en haal die koekies uit. Ek roep my naam, laat sak my masker dat sy my gesig kan sien. Sy kyk en kyk en daar kom ’n lig op in haar oë. Sy beur hek toe. Die versorgster keer, maar oumoeder stoot haar met die karretjie weg. Ek moet haastig wegtree van die heining, sien hoe sy haar arms deursteek, gryp na my, ’n drenkeling. “Kom,” roep sy.

“Ek mag nie,” sê ek lamlendig terug. “Maar ek kom môre weer. En oormôre en elke dag tot altyd!”

“Soentjie!” roep sy.

“Kóm,” praat die versorgster haar aan. Sy knik inskiklik en laat haar gedwee weglei.

Toe ons terugstap, rem die hond weer aan haar leiband. “Gedra vir jou,” sê ek. “En hou op grens. Die voëltjie sál weer uit haar hokkie kom. En jy sal sien: Sy vlieg óf hier na my toe, of sy vlieg hemel toe. Die een of die ander, sy sal inskiklik wees.”