Illustrasie Paula Dubois

Toe die virus posvat en die mensdom se miernes oornag tot stilstand ruk, met die dood wat om tienduisende huise se hoeke sluip, het baie van ons aanvanklik nie mooi geweet wat ons getref het en wat om daarvan te maak nie.

Eers was daar die vloedgolf grappies en lawwighede, die frenetiese inkopies, huisskoonmakery, kuiers op WhatsApp en Zoom, ’n soort euforiese histerie. Tussendeur die skrikbeelde van sterwendes en eindelose rye lykswaens. Surrealisties.

Namate die lang skaduwee van die siekte gerek en die stilte ingesink het, het sommiges se gedagtes begin inwaarts keer. Hier op Stellenbosch was daar elke dag om 12-uur ’n klokkespel van die Moederkerk, wat jou ritmies tot stilstand beier. Jy’t tegelyk weemoed en koue rillings gehad.

“Vandag ek,” maan die klokke, “en môre jy.”

Op die radio was daar skielik gesprekke oor testament maak en jou sake regkry. Ook oor die dood en hoe om daar sin van te maak.

In dié tyd kom ek af op ’n vergete boekie wat juis oor dié soort van oerkwessies gaan. Dit handel oor navorsing op ’n klein gemeenskappie bejaardes in Japan wat nie net gemiddeld die oudste ter wêreld is nie, maar skynbaar ook die gelukkigste. Hulle geheim? Ikigai

In Japannees beteken ikigai min of meer die vreugde om besig te bly. Die uitgangspunt is dat elkeen van ons iets het wat ons aanvuur, ’n soort passie of voorliefde. Dit kan iets heel gewoons wees soos groentetuin maak, of iets groots, soos die relatiwiteitsteorie ontwikkel. Dit kan ’n werk of ’n stokperdjie wees, maar dis iets wat ons smoors lus maak om op te staan, wat ons lewens vervul en betekenis gee. En die truuk is om dit vir so lank moontlik te bly doen.

Héctor García en Francesc Miralles, die skrywers van Ikigai, het gekonsentreer op die grysaards van Ogimi, ’n dorpie aan die noordkus van die eiland Okinawa. Dis mense wat die Tweede Wêreldoorlog en ander latere rampe oorleef het, maar alombekend is vir die ligte, vreedsame tred waarmee hulle die lewe bewandel. Hul geheim, het een en elk in ’n stuk of honderd onderhoude verklap, is om lig te eet, genoeg te slaap en oefening te kry, maar veral om vriendskap te troetel. En nooit op te hou werk nie.

Gewone sleurtakies is vir hulle genotvol, sê die skrywers. Die filosofie is dat dié soort werk nou maar eenmaal deel van jou bestaan is. Jy kan netsowel waarde daaraan toevoeg, dit as ’n meditasie beoefen. In die Weste is Bill Gates, die filantroopmiljardêr wat Microsoft opgerig het, ’n voorbeeld hiervan. Hy het glo die gewoonte om saans self skottelgoed te was. Dit help hom om te ontspan en sy kop skoon te maak, sê hy. En hy probeer om dit elke dag ’n bietjie beter te doen.

Elke dag. Rustig, volgens ’n vaste patroon en met groot konsentrasie.

En dis juis hoe die oumense van Ogimi die lewe benader. Aftrede beteken steeds vroeg gaan slaap, vroeg opstaan, oefen, bid en die daaglikse roetine met werk en kook en eet volhou. En hulle kuier. Almal beklemtoon vriendskap en samesyn. Oud of te nie, hulle speel selfs hokkie met mekaar. Een ouma vertel dat sy nooit stres nie: “Ek gaan elke dag op straat uit en sê vir almal ‘Hallo!’ en ‘Sien jou later!’ Dan gaan ek terug huis toe en werk in my groentetuin. Saans kuier ek met my vriende.”

“Gaan stadiger,” sê ’n ander. “Jy leef langer as jy nie haastig is nie. Doen een ding op ’n slag, maar doen dit met aandag. Dan voel jy nie oorweldig nie.”

“Ek dans gereeld met my kleinkinders,” sê nog iemand, “en sing saam met hulle.”

Volgens die skrywers het hulle nie een oupa opgemerk wat net op ’n bankie sit en niks doen nie. Almal is besig. Hulle kom en gaan heeltyd, lag en gesels, help mekaar in die landerye, met huise bou, gemeenskaplike projekte aanpak. En hulle kuier. Sing karaoke, dans. En almal stoot die jare ver verby tagtig, negentig, selfs honderd. Altyd met ’n glimlag.

Ekself kon ook weer glimlag ná die lees van die boek – korona of te not. Soms lyk die lewe ingewikkeld, besef ek, maar geluk is eenvoudig en lê reg onder jou neus. Dit gaan oor doenig wees, oor liefde en hoop.

En om te dans. Altyd. Ligvoets, op jou eie musiek.