Een rede hoekom ek so van die Kalahari hou, is die stilte. In die middel van ’n bloedige Desemberdag, as die wêreld plat trek onder die hitte, raak alles stil. Voëls sit roerloos in die groen dieptes van die doringbome, oopbek, ventilerend; selfs die insekte keer hulle tot die skuiltes van ’n blaar, ’n klip of die skaduwang van ’n duin. As jy dán gefokus luister, kom dit na jou toe. 

Dit het teenwoordigheid. As jy jou oë sluit, voel jy dit aan. Dis soos ’n iets, ’n iemand, wat van iewers uit die niet in jou persoonlike ruimte kom staan. Wat ritmies inval by jou asem, jou hart se klop. 

Mense het dikwels moeite met die stilte – soos die plek waar ’n gesprek soms oopval, of tydens beurtkrag as die TV blind en stom word. Hulle raak onrustig, miere-in-die-broek-kriewelrig, selfs paniekerig of bedruk. Wil ten alle koste vlug. Maar nie ekke nie. Die stilte trek my aan, laat my weer tuiskom in myself en anker my. Dis waar my waters van rus is. 

Die stilte hou ook wysheid in. Dié idee is jare gelede in ’n ongewone preek aan my uitgelê – ’n preek sonder woorde. Stel jou voor: ’n Rooi Kalahari-duin. Die skadu van ’n kameeldoringboom. ’n Gr ys ou man van San-herkoms. En ek. Geen woord wat tussen ons twee val nie. Net stilte. 

Hoe ek daar beland het, is ’n lang storie en het te doen met navorsing destyds vir ’n roman. Die ou man was oom Dawid Kruiper, leier van die Khomani-San, en dit was kort voor sy dood. 

Ek wou by hom gaan leer oor die oeroue wysheid van die San. Hy het vertel, maar op ’n kol het sy stem weggedraal en ná ’n ruk selfs heeltemal opgehou. Ek dag die onderhoud is verby en maak druipstert my ou bandopnemertjie en my kameras bymekaar. Ek moes weer terugry Kaap toe. “Sit, juffrou,” beveel die oom toe. En ek sit maar. 

En ek sit. En die oom sê niks. En ek sê ook maar niks.

Driekwartier, naderhand ’n uur. Ná ’n tyd van ongemaklik rondskuif en van sug en na my foon kyk (geen sein so diep in die Kalahari nie), gebeur daar iets. My asemhaling kom tot rus. Ek hoor my hart se kalm klop. Bokant ons koppe raak die ligte wieg van die eeue oue takke hoorbaar. Ek hoor die wind wat roer, die ritsel van ’n insek in die lang gras teen die duin. Die veld verander in ’n katedraal. Oom Dawid is die leraar op die duinekansel. Sy teksvers die vlerkklap van ’n sprinkaantjie. 

En ek hoor hom en ek verstaan. 

Meteens is ek weer terug by ’n warm Kersvakansie uit my kindertyd in die Karoo. Ons het iewers op ’n plaas in ’n digte staning doringbome saam met ’n aantal ander gesinne uitgekamp. En smiddags, as die grootmense skuins gaan lê, moes ons kinders ophou raas. En skielik kon jy die boomgom ruik, die sysies in hul neste bo ons koppies weer hoor roer. Jy was in die groot natuur, maar jy was veilig en vredig in die wete dat jy hoort. Nie net hier, tussen jou mense, op hierdie plek en plaas nie, maar ook op hierdie aarde. Alles was oukei. 

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek hou van klank, van baldadige musiek en lag en praat en kinders wat jil, selfs die irritasie van Jingle Bells in die winkels dié tyd van die jaar. Ná my man se dood vra mense my altoos of die stilte my nie vasdruk nie. Nee, sê ek dan. Dis juis wat ek mis. Ons kon goed met mekaar praat, ja. Lang, diep, smaaklike gesprekke. Maar dis ons stiltes bymekaar wat ek mis. Die saam sit by ’n vuur of buite sit en lees – intieme gemeensaamheid, ingebind as ’n geheel. 

Hier op Stellenbosch gaan baie mense see toe in Desember en die dorp loop leeg. My buurt raak stil aan honde, motors en masjiene. Ek bou ’n Krismisboom vir my familie wat oorkom vir die Krismismaal. Daarna gaan sit ek buite, kyk hoe die hitte op die kraanvoëlblomme dans. Eers dan hoor ek die goeie Kersfeesboodskap: vrede op aarde en in die swye ’n heilige welbehae.