As my ma my nou moet sien, besef ek op my eerste dag in ’n nuwe oefenklas, sal ons haar moet lawe.

Ek lê op ’n oefentafel op die naat van my rug, bones in the light, soos die antie van Putsonderwater sou sê, en knieë wawyd oopgesper. Onbetaamlik, sou Ma sê en haar aangesig verberg. ’n Dame lê nie in die openbaar soos ’n sloerie-moerie met jou blaker wat openlik vir die dak staar nie.

’n Omgedopte padda, dis hoe dit lyk. ’n Oopgespykerde spithoender. Die ergste van alles, sou Ma sê, is dat mens nog betaal ook hiervoor. Báie betaal.

“Oop-oop-oop!”, roep die instruktrise, “rek daai knieë oop! Bring jou kant, laat die spiere brand!”

Ek bring my kant. En alles brand. Tot my kleintongetjie.

Dis my eerste dag by die gim en ek verwens hom. Ek het ingeskryf in ’n opwelling van vrome nuwejaarsvoornemens. Dit gaan oor die krismisvet wat afgewerk moet word – dat jy darem weer kan voel jy’t ribbes. En hierdie oefenklas, sê almal, is die heel beste op die dorp. Die oefenjuffrou het universiteitsgrade en sal enige ou knol in ’n spogperd omtower. Maar daar’s pyn by betrokke. Erge pyn, kan ek jou vertel. My tande gaan stomp gekners wees lank voor ek weer ribbes het.

Buiten die spesiale juffrou is die klas ook spesiaal oor die oefentafels waarop ons lê – op onse rûens, meestal. Kontrepsies met toue en katrolle en bewegende dele; hulle lyk soos iets tussen ’n kraambed en ’n mini-hyskraan. En dit het ’n streng naam wat ek nooit kan onthou nie – iets onverbiddeliks soos The Corrector of The Enforcer. Ek noem dit sommer ’n pynbank.

“Oop, toe, oop, toe! Bewéég daai knieë! Skoenlappervlerke! Oop, toe. Oop, toe! Knyp die boude, squeeze, squeeze, squeeze!”

Ek squeeze en knyp en skarnier. Maar my knieë wil nie oopvlinder nie, hulle het klem-in-die-kaak. Die juffrou se poniestert wip in my rigting. “Gluteus maximus! Gebruik daai boude. Hou die pubis gelig (ag nee sies, sou Ma sê)! Naeltjie ingetrek. Stabiliseer jou kern!"

Ek squeeze. Maar my brein bly weier om tegelyk te knyp en te skêr en die juffrou verander van taktiek. Nou moet ons die stiebeuels inspan. En ja, daar’s wragtig stiebeuels. Die goed haak hier van agter jou ore af oor jou kop en vir die insteekslag lê jy bene in die lug soos ’n onderstebo kewer.

Maar niks aan hierdie masjiene werk eenvóúdig nie. Die tafelblad beweeg op en af op vetgesmeerde wieletjies. Jy moet kophou dat jy bars anders gly jy onder jou eie gai uit en donder daar af. Dit kos helse inspanning om jou enkels sonder ongevalle ingesteek te kry.

Nou verduidelik die juffrou ons moet aftrap in die stiebeuels sodat ons rûens kan opgly met die tafel saam. En weer af. Dis soos om te sit, maar dan op jou rug. Ons oefen die vierkopspier, sê sy, oftewel die kwadriseps. Waddehel, dink ek, kan ek en my vierkop nie maar huis toe gaan nie?

Girr-garr gly almal op en neer op hulle rugnate op hulle tafels. Almal behalwe ekke. My een voet het deur die stiebeuel geglip en die ding wurg nou hier iewers in die sawwe vette tussen kuit en knie. Die ander voet trap lug en die katrolle wirr hier bo my kop en ek gly heeltemal skeef. Hoe meer ek wring en wikkel, hoe meer verstrengeld raak ek. Ek lê daar soos ’n uitgebraaide koeksister in ’n macramé-eksperiment.

Aan die einde van die les gryp ek my handdoekie en wil stilletjies wegsluip. Om nooit weer terug te kom nie. Die juffrou keer my voor. “Almal sukkel aan die begin,” paai sy en haar poniestert wip bemoedigend, “maar vir ’n eerste keer het jy goed gedoen. Ons moet net eers jou core sterker kry, dan volg die res vanself. Jy sal sien.”

“Um,” sê ek skaapagtig en vee oor die bol-gewelf van my heupe. Ek loer na háár skulpturele heupetjies. Iewers diep onder my core – dalk bokant my vierkopspier en onder die maksimus – voel ek ’n glimmering van hoop.

“Tot môre dan,” groet sy vrolik.

“Tot môre,” beaam ek bewerig en skuifel uit kar toe.