Illustrasies Paula Dubois

Soms gebeur dit mos net. Jy word wakker en die wêreld sit skots en skeef. Iets het oor jou lewer geloop. Jy weet nie wat dit is nie, maar jy weet dit sit jou dwars.

Voorbeeld: Jy maak jou gewone make met die goue oggendstond en trek die slaapkamergordyne oop. Die een gordyn is steeks. Een of twee trekslae help nie. Met die derde een “trip” jou “flippit-switch” en breek daar ’n wilde woede in jou los. Jy moet keer of jy ruk die hele gordyn daar af en gooi hom op die vloer. En spring op hom. En smyt hom dan met groot geweld by die venster uit.

Ineens dink ek aan my kwaaikop-oupa. As hy die dag sy befoeterde voet eerste uit die katel geswaai het, het mens en dier dit ontgeld. En dit was nie ligte musiek nie, hierdie ontgeldery van hom. Die mense sê hy kon ’n bobbejaan uit ’n berg uit skel. En jy wou nie rondstaan as sy geskel in daadkrag manifesteer nie. Hy was ’n groot man, ver oor die ses voet in die ou taal en so sterk soos ’n bees. Hy kon ’n sak mielies aan die ore vat en met gemak op ’n wa lig. (Ek weet nie wat ’n sak mielies weeg nie, maar glo dit moet in die koers van ’n Mini Cooper wees.)

Daar word steeds in die Hantamgewestes staaltjies vertel van ou Mattie Brynard se knorrebolligheid. Een storie wat my as kind diep getref het, is dié een van die ou katjie.

Oupa het blykbaar een môre weer met so ’n moerakerasie opgestaan. Ouma en die sewe kinders was in die plaaskombuis doenig toe hulle sy swaar voetval in die gang hoor. Die volgende oomblik het hy aardskuddend gebrul en die kombuis op een been binnegebars – bloed aan sy groottoon. Blykbaar het die werfkatte se kattermaai hom heelnag getreiter. En toe hy by die wakis verbyloop, sit die hoof-miaauer daar en skree doodluiters vir kos. Natuurlik het Oupa ’n heftige skop na die kat gemik, maar tref toe die kis.

Sulke tyd, het my pa vertel, moes hulle kinders laat spaander, want niemand wou binne bliksemstraalafstand van Oupa af rondhang nie.

Nou ja, ek skop wragtag nie katte nie. Ek trap skaars tuinslakke dood. Maar as ek omgeëllie is, kou ek lag-lag jou ore af. En dit pla my, die idee dat ek straks na my betjoinkste oupa aard.

Ek vra my ousus toe sy bel. “Jong, vra liewer na wat onder al jou woede sit,” sê sy filosofies. “Dis dalk dinge wat jou angstig maak. Selfs hartseer – want ons het mos maar almal sawwe kolle waar die hartseer woon.”

Die woede, verduidelik sy, is eintlik ’n sekondêre emosie. As jy sy skirts ’n bietjie oplig, ontdek jy die grootmenere. Goed soos bangwees en onsekerheid, skaamte, verdriet. Dis nie lekker gevoelens om te hê nie, so jy’s geneig om te wil weghardloop. Woede, daarenteen, is maklik en ons is goed geoefen daarin. Jy vaar uit, of jy skel en gooi ’n heerlike volbloed-vloermoer. Vir ’n oomblik voel jy in beheer, al is jy buite beheer. Jy voel minstens minder magteloos.

Ek dink aan al die woede in ons land. Is dit onsekerheid? Vrees? Almal is so ontsettend kwaad. En Oupa? Dalk was hy net broos, immer onseker oor boer in die genadelose Karoo?

En ek? Wat sit onder al my sikkeneurigheid?

Verlange, besef ek laataand. Ek verlang na ’n kind wat in ’n ver land woon en van wie ek ’n ruk lank nie gehoor het nie. My verlange laat my behoeftig voel. En ’n bietjie verleë. En eensaam. En ja, laat ek maar erken, ook ’n bietjie hartseer.

Dié ontdekking bring onverwags ’n groot kalmte oor my.

Ek gaan maak ’n beker tee en vat dit met ’n boek saam bad toe, gooi ’n ekstra doppie roosolie in die warm water. Met die ingly voel ek hoe my skerp kantjies wegsmelt en ek ligter raak. Woede, besef ek ineens, is ’n geweer wat na twee kante toe skiet. Jy mik dalk buitentoe, maar jy verwond ook na binne.

Hoeveel wonde is daar nie reeds in hierdie land van ons nie, wonder ek. Ons leef in ’n see daarvan. Iewers moet ons ophou daarmee.

Ek steek ’n kers aan en stuur ’n stil gebed in die rosige stoomwalms op: Mag dit hier begin. Sommer by my