"Kan iemand help met ’n ‘message’-bed, een met ’n gat waar die gesig kom?”

Dié noodkreet was onlangs op my buurt se WhatsApp-groep. Ek, wat net so nu en dan ’n oog gooi oor verrigtinge daar, moes lank gaan stilstaan by dié oproep tot redding. Onnodig lank. Ek wil aangaan met die lewe, maar as ek my weer kom kry, dan wonder ek oor daardie boodskapper-bed. En die gesig wat in die gat kom.

Ek ken nie juis veel mense in die buurt nie, wat natuurlik nie help nie. Ek kort konteks, sien. Maar dis ’n woelige groep, so ek hou ook nie goed tred nie. Dit verg klaar buitengewone hoeveelhede naasteliefde om net by te bly met die doen en late van al die hondjies en katjies. Hulle is óf weg (hordes foto’s, almal sielig) óf hulle verskyn waar hulle nie moet wees nie (nogmaals foto’s, meestal nie kompetisiemateriaal nie).

En dan is daar die raaisel van die konyn. Dis ’n vaalgrys dier waarvan ek omtrent sewentigduisend foto’s op my foon het – oor die jare in tientalle agtertuine afgeneem. Is dit een konyn? Op al die foto’s lyk hy dieselfde: rooi-oog-verstarring. Tog is hy oraloor. En wie s’n is dit? ’n Raaisel binne ’n enigma. Soms kom daar ’n iets verby wat jou egter aan die keel beetkry. Soos die noodkreet oor die tablet. Ek tel die storie by Moses op. Iemand skryf: “Vra Moses. Hy was die eerste persoon wat ’n tablet gebruik het.”

Intrigerend, dink ek. Wat was die vraag? Voor my geestesoog sien ek ’n benoude ou oom met ’n tablet. Sy eerste. ’n Ongevraagde iPad uit ’n krismispakkie van die kinders en kleinkinders. Met liefde. My hart word week vir hom. Ag, shame, man. Maar ek moet ook glimlag vir die spitsvondige Moses-inskrywing. Dan wip ’n volgende in: “En Abraham was die eerste backpacker.” Cool. Ek grawe in die muisnes van my geheue vir die geskiedenis van Abraham. Vind hom in Genesis: Hy’t by sy ouers gebly tot hy 75 was. Toe vat hy die pad die vreemde in. En word die volksplanter vir die ganse Jodedom. Super cool.

Maar dit help die ou oom niks. Ek worrie, maar word afgelei deur ’n volgende noodkreet: “Het iemand ’n aanbevlieging vir dreinpype?” Ek weet dis ’n spelfout, maar die rilgedagte aan “aanbevliegers” onder ons ... Ek trek sommer.

Maar dis die oupa en sy tablet wat my nie wil loslaat nie. Dan sien ek nuwe kommentaar: “Mense, Moses se Tien Gebooie was nie op marmer nie. Dit kom uit die Amerikaanse flieks.” Marmer? Wat het dit met die saak te make?

Uit ’n ander koers soek iemand ’n telefoonnommer vir droë hout. En dadelik kom daar ’n opvolgvraag: “Letterlik of figuurlik?” Ons vind nooit uit nie, want daar’s klagtes oor ’n groot wit hond wat straataf hol en al die vullissakke oopskeur. “Hy’s te vinnig om sy naam of nommer te sien.” En dan het iemand weer die vaal haas gewaar.

Wat nou van die arme oom met sy tablet, mense?! Iemand sit ’n YouTube-video op oor kintsugi. Ek wil nie kyk nie. Ek het werk. Hierdie groep se dinge is tydrowend. As jy jou laat insleep, glip die ure gou verby. Maar ek kyk tog. Sien dit gaan oor die Japannese kuns om gekraakte breekgoed reg te maak met ’n mengsel van gom en goud. Dis ’n diep video. Oor die omhelsing van gebrokenheid en Hemingway wat skryf hoe die lewe almal iewers breek en hoe ons sterk word in ons gelapte “broken places”. Mooi. Maar wat nou van die oom? “Daar’s ’n vreemde hond saans voor my hek.” Die foto wys ’n benerige, ou wit hond. Hm. Ek persoonlik sou ’n priester laat kom.

Dan is daar iemand wat ’n groot “basil”-plant wil uitkap en sy blare vir die buurt aanbied. “Dit maak lekker pesto,” kom die belofte. “Hoeveel?” wil een weet. “Groot bos, baie blare.” Die buurt se taalbul voeg sy sentjie by: “Basilie in Afrikaans.” Gmf. Pedant.

En die oom?

Ek loop terug op die stroompie inskrywings. En ontdek daar was toe nie ’n oom nie. Newwermaaind ’n tablet. Al my gebekommerdwesery was verniet. Die hele storie het begin by iemand wie se marmerblad gekraak het. Ek sit die foon vies weg. Laat dit vir my ’n les wees.

En die bed met die verskynende gesig? Dis natuurlik ’n “massage bed”. Dûh.