Illustrasies Paula Dubois

By die die betaalpunt van die tuinsentrum staan ’n man voor my in die ry met twee lewensgroot sementflaminke in sy trollie. Neffens sit daar ’n padda wat ’n sambreeltjie vashou en ’n guitige tuindwerg met buitensporig groot neusgate.

Die man sien die kyk op my gesig. Ek probeer wegkyk, maar die neusgate van die dwerg hipnotiseer my.

“Ja, mevrou,” sê die man en sit sy flaminke neer. “Dis hoe dit lyk as die land se koperdraad op is.”

Ekskuus?

“Kabeldiefstal. En noudat daar niks meer oor is om te steel nie, begin hulle met dié klas van goed.” Hy wys met sy ken na die sementkreasies in sy trollie. “Jy kan dit nie bleddie glo nie.”

“Ai,” sê ek simpatiek, maar ek gló hom. Mense steel. Alles en enige ding. Soms is dit uit pure slegtigheid. Gierigheid. Soms is dit uit nood vir brood. En soms ... ja, soms is dit die snaakse kronkels in hulle kop. En hulle dierbaarheid.

Laasgenoemde is my lot. Ek kyk na die inhoud van my eie trollie: ses Echeverias (vetplante), twee aalwyne, een groot wingerdstok, twee reuse-vlinderorgideë. Ek self is nie besteel nie; het ook niks gesteel nie. Hierdie is boetedoening vir ’n ander een se diewery: ’n sagmoedige ou dame van 93, byna volkome van al haar varkies verlaat. My moeder.

In haar grysheid steel sy plante. Uit die tuin, van stoepe af, uit die gange. As langswonende inwoner van haar bejaardetehuis was sy eens ’n voorslag: ’n tuinier wat steggies maak en oral indruk en nathou; wat die siekes besoek; ontredderde nuwelinge welkom heet met blomme, gebede en tee. Maar die ouderdom het haar getoor van huisvertroetelaar tot witkop-huiskraai. Iewers het die drade tussen gee en neem sagkens gekruis.

Eenkeer kom ek by die ouetehuis aan en daar’s konsternasie. ’n Reusewingerd wat oor twee vloere gerank het, lê op die grond. Verslae inwoners en personeel staan kopkrappend rond (herinner sterk aan Hompie Kedompie en die senior seksie van die koning se soldate).

Ek gewaar my moeder se skewe stappie. Sy’s haastig aan’t weghobbel met ’n druiftak in haar loopkarretjie se mandjie.

Suster Joan, die gesondheidsbestuurder, kyk ronde-oog na my. “Jinne,” sê sy, “jou ma raak nou soos Simson! Wat’s volgende – Tarzan?”

Ek wil lag, maar sien niemand anders wat dink dis snaaks nie. Tot dusver was haar “skade” beperk tot kaktusse en hier en daar ’n roos of ’n hen-en-kuikens of so. En sy is goedig gedoog, want sy’s geliefd. Maar Tannie Tarzan is dalk “een brug te ver”.

Ek marsjeer agter my ma aan. Sy’s in haar woonstelletjie besig om die wingerdtakkie in ’n leë ou koffiebottel te rangskik saam met afgerukte loof uit die clivia-bedding en ’n aantal varingtakke. Sy’s in haar eie wêreld, glimlag gelukkig vir haar artistieke werk.

“Ma!” Blymoedig kyk sy op, g’n sweem van skuld of skaamte nie. “Het jy die wingerd afgetrek?”

“Ek? Ek het net ’n takkie afgepluk.”

“Afgeruk, ja. Die hele wingerd.”

“ ... laf wees nie, kindjie. As hy af is, het hy self daar afgeklim.” Sy hou die vreemde rangskikking ingenome na my uit. “Mooi, hè? Gaan sit hom vir my daar by die radio neer.”

Ek neem die pot by haar en soen haar. En agterna gaan paai ek vir suster Joan. Ek sal ’n nutsman kry om die wingerd weer op sy krukke te kry, belowe ek. En twee nuwes koop.

Arme suster Joan. Sy moet al die klagtes opvang en afweer. ’n Vorige keer het dit byna by die polisie loop draai toe my ma ’n “snaakse ou swart boksie aan ’n toutjie” by ’n muurprop in die gang sien lê en dit opgetel het, “want netnou val iemand daaroor.”

Dit blyk toe ’n verwer se selfoon te gewees het.

Hy’s woedend by my ma se woonstel in. Maar sy woede moes wyk voor Ma se minsaamheid. Hy’s soos die Messias ontvang en weer daar uit met sy foon, ’n Bybelkaartjie met koffievlekkies op en ’n lemoen. En ’n drukkie.

Eenkeer het suster Joan haar met ’n varsgeplante spekboom in haar loopkarretjie se mandjie betrap. “Hy’t vanself daar ingespring,” was haar vrolike verduideliking.

Deesdae steel sy nie meer so dikwels nie. Die skemer haal haar in. My trollie by die planteplek raak triestig skraal en ’n toekomsverdriet kom rank in my gemoed. Want die dag kom nog, weet ek goed, dat ek sielshard na dié dief gaan verlang.