Ek sou so graag my moeder weer ’n nagsoentjie wou gee,” sê tannie Corrie met ’n verleë glimlaggie.

Ai, Tannie, sê ek. Want waar gaan haal mens dan nou ’n trooswoord vir so ’n ou verlange? En oud sal dit wees, want tannie Corrie is al by die negentig.

“Ja, jy weet,” sê sy saggies, “soms is my mammie nog net hier langsaan in haar kamer. Dan’s dit aand en sy’s al uitgetrek en sy roep ‘Slaaptyd, Corrie!’ Dan moet ek die poppe wegsit en haar ’n nagsoentjie gaan gee.”

Ons is in my ma se klein woonstel in die aftreeoord naby waar ek woon. Hier’s pas gekoek en getee en ek is besig om koekkrummels en blertsies icing van die vloer af op te vee. Die paartie het g’n spesifieke rede gehad nie. Was sommer vir die nuwe jaar. En om die blouerige post-Krismisspook te verdryf.

Almal was al weg toe tannie Corrie arriveer. Sy’t die tye van die tee en die vieruur-biduur verkeerdom gehad.

Sy’s klein, tannie Corrie. Haar wieletjie-loopraam is amper hoër as sy self, laat haar bietjie soos ’n kind op ’n Harley Davidson lyk. Ek neem die Harley by haar, parkeer hom en help haar op ’n stoel langs my ma.

Sy gaan nie bly nie, skerm sy. Die biduur.

Ek gee vir haar koek en sy eet in stilte. My ma is besig om haar leë papierbordjie netjies skoon te vee. Sy praat nie veel meer nie. Ná ’n groot siekte onlangs het sy iewers in haar agterkop in verdwyn en ’n stil, vredige afskynsel van haar ou self agtergelaat.

So sit ons ’n rukkie in stilte, die drie van ons.

Dan kom die nagsoentjie ter sprake.

“Ek hoor haar duidelik,” sê tannie Corrie. “Dis nie stemme of goed nie. Ek hóór haar gewoon.”

Voel seker soos gister, nè, Tannie?

“Nie gister nie, Kind. Dis nou.”

Ek kyk na die klein figuurtjie, haar nek diep in die skouers in teruggetrek asof die jare dit so teruggetimmer het. Skoliose, weet ek, is die siekte se winkelnaam. Dit knak die rug soos ’n verwelkte blomstingel en die lyer se aanskyn sak vloer toe. Sy moet behoorlik haar kop draai om jou aan te kyk. Nes ’n voëltjie wat skuinskoppie maak.

“Nou sit ek saans as hulle my gewas en uitgetrek het en ek kyk hoe dit buite donker word. Dan hoor ek haar: ‘Cor, dis tyd.’”

Hoe voel Tannie dan? vra ek versigtig. Raak jy nie bang nie?

Sy skud haar kop. Haar hare is só yl, ek sien die vlekkies van haar pienk kopvel.

“Nooit. Dis dan my ma. Ek was maar agt toe sy oorlede is. Maar vir my is sy nog helder daar. Sy sit in haar bed in haar spierwit nagrok en japon en haar hare is losgemaak vir die nag. Dan gaan gee ek vir haar ’n soentjie.”

Sjoe, sê ek onbeholpe, dis asof die tyd stilstaan, nè?

“Mens het nie benul van tyd nie,” bevestig sy. “Tot jy oud is. Jy dink dis iets wat net vorentoe loop. Maar wat weet ons?”

Ek knik en dink aan Einstein wat bewys het dat tyd ’n illusie is. En dat die snelheid daarvan relatief is tot die spoed waarteen dit waargeneem word. Ek stel my voor dis dalk soos wanneer ’n mens op die stasie in ’n stilstaande trein sit en die trein naas joune begin skielik beweeg. Jy weet nie of dit jy of die ander is wat vertrek nie. En of jy vorentoe of agtertoe gaan nie. Vreemde gevoel.

In wetenskapfiksie reis mense lankal deur die tyd – sedert H.G. Wells se bekende boek The Time Machine (1895). En nou blyk dit bewysbaar te wees. Op papier, altans. Stephen Hawking, die genie in die rolstoel wat so verwoed werk om die misterie van tyd te ontrafel voor sy motorneuronsiekte hom inhaal, praat van wurmgate in ons uitspansel – dun tonneltjies tyd-ruimte wat twee verskillende tydsgleuwe met mekaar verbind. Vorentoe, agtertoe, skuinsdwars kortpaaie deur die tyd. Wie weet?

Nou kan ek my nie voorstel dat tannie Corrie saans in wurmgate rondklouter nie. Maar dat sy haar moeder hoor, daaraan twyfel ek nie. En dat sy dan eensklaps weer ’n jong kind is wat haar poppe wegpak met die een oortjie gespits vir die roep uit die kamer langsaan, dit glo ek gewis.

“Nou ja,” sê sy skielik en wikkel uit haar stoel, “die biduur begin en daarna is dit aandete. En dan slapenstyd.”

Ek trek vir haar die Harley nader en sy groet so met die skuinskoppie. “Sien jou weer, Kindjie.”

Sien jou weer, Tannie, sê ek. Dalk môre.

Of dalk sommer gister.