Kom jy as toeris in ’n Europese stad aan, is dit nie lank nie, of jy sit in die kerk. 

Jy gaan immers Europa toe vir die geskiedenis en die kultuur. Dus: In Rome moet jy direk na die Vatikaan, dié allerheilige sentrum van die Christendom en bakermat van die Europese geskiedenis, met sy meer as 70 000 kunswerke. In Parys skiet jy natuurlik regstreeks na die Notre Dame – afgebrand of te not. In Barcelona is dit die Sagrada Familia en in Köln, Duitsland, is dit die Domkerk. En so hop jy van kerk tot kerk dwarsdeur Europa.

Jy en miljoene ander. Tiene van miljoene (vyf miljoen per jaar in die Sistynse kapel alleen). Tog staan die kerke leeg. Nou ja, so te sê leeg. Op Sondae sit daar hier en daar ’n krom ou vroutjie in die voorste ry en die priesterlike stem galm godverlate deur die holle ruimtes des heerlikheids.

Waar is almal heen, wonder ek dan op my eentjie. Want die mens is mos maar immer altaarsoekend. Ons is nou eenmaal so besnaard – altyd iewers knielend.

Toe ek onlangs by die kinders in België kuier, beland ek op ’n Sondag in IKEA, die massiewe Sweedse winkelgroep vir “ready-to-assemble”-meubels en -huisraad. En net daar gaan die lig toe vir my op. 

Pleks van die vroeëmôre-mis, sit ons aan vir die gewilde IKEA-ontbyt. Die prys vir “lidmate” is gelyk aan ’n stuiwer in die kollektebord: €1,20 (net duskant R20). Daarvoor kry jy ’n warm, bros croissant, ’n kraakvars broodrolletjie, botter, twee plakke kaas of hoender en bodemlose bekers tee, koffie of sjokolademelk.

Orals om jou hang “spyskaarte” van die hele winkel, opgedeel in afdelings – van voorkamer tot waskamer – plus gratis potloodjies en maatbande. Jy kan solank rustig jou wense en verlangens invul, jou mate neerskryf vir enige holte of hoekie tuis waar jy ’n rak of ’n kassie wil hê. 

En dan begin alles. Jy loop stroomlangs saam met ’n leërskare. Die gangpaaie is breed genoeg vir gemaklike elmboogruimte, vir hele gesinne wat saam-saam die uitstap doen, soos by die karnaval – babas in stootwaentjies, oupa of ouma in ’n rolstoel of loopraam, die ganske ritserige kroos, ’n winkeltrollie of twee, noem maar op. En as die kleintjies lastig raak, gaan laai jy hulle af op die onderste verdieping in ’n reuse-speelplek met opgeleide kinderoppassers en jaartse vermaak. 

Jy loop in groot sirkels soos die biddende pelgrims van Mekka. Verby volledig ingerigte vertrekke – van babakamers tot badkamers. Elke vertrek is aantreklik ingeklee, tydskrifmooi gestileer en atmosfeerryk belig in elke kleurskakering en styl denkbaar: modern of klassiek, eklekties, minimalisties, romanties, speels of wat ook al. Vir groot huisruimtes of beknopte woonstelletjies. Sitkamers met banke, stoele, bypassende strooikussings, gordyne, vloermatte, laminaatvloere, teëls, plakpapier, koffietafels, kanttafels, tafelornamente, klankstelsels, TV’s, TV-rakke, boekrakke, staanlampe, hanglampe, skemerlampe, tafellampe, muurdekor, de lot. Volledige badkamers en kombuise met elke denkbare toestel of masjien. Plus muurproppe, ligskakelaars, gloeilampe van enige soort. Jy kan instap en ’n hele huis se inhoud koop, huidjie en muidjie in plat bokse daar uitdra en tuis gaan opslaan. Meer nog: Deesdae kan jy die hele huis koop – dak, deure, vensters, vier mure en als! En as jy binne die komende 12 maande van gedagte verander, kan jy die hele boel teruggee en jou geld terugkry. Twaalf maande!

Om en om met die opwaartse sirkels beweeg jy, hemelwaarts. Iewers in my agterkop roer daar beelde van Dante se Inferno en die nege sirkels na die verdoemenis. Tog voel dit nie so nie. Hoe dieper jy die hawe van huislike heerlikheid ingeswaai word, hoe sterker die magneet van die goeie lewe. Dít, liewe mense, wil IKEA vir ons sê, is waartoe die mensdom sedert Bybelse tye al streef: aangename, veilige, toeganklike, elegante, egalitêre selfdoen-gemak. 

Nou weet jy waar al die kerkgangers deesdae heen is. Hulle het gebid en hul gebede het IKEA gebaar. Meer as 957 miljoen per jaar buig nou hier die knie. Die IKEA-katalogus skop stof in die oë van Bybelverspreiding. Jaarliks word meer as R800 miljard se goedere in hierdie winkels verhandel – elke winkel gemiddeld so groot soos vyf rugbyvelde. So is dit.

Uiteindelik weer buite, sê my foon se treëteller ek het 4436 afgelê op hierdie pelgrimstog van die kapitalisme. Altesaam 3,1 kilometer. Mea culpa, fluister ek skuldig. Ave Maria, ora pro nobis peccatoribus ... bid vir ons sondaars. Amen.