My tandarts is mos so ’n aangename kêrel. Hy groet asof hy werklik bly is om jou daar tussen sy tydskrifte in die ontvangslokaal aan te tref, asof dit ’n heerlike verrassing is. Jy maak sy dag. 

Die meeste mense sal blommend reageer op so ’n groet. Die laaste knypie benoudheid sal verdwyn en hulle sal heel inskiklik saamstap na die stoel.

Almal behalwe ek, dan.

Ek reageer soos ’n skaap ter slagting. My bene skop onwillekeurig styf en my hakskene boor halsstarrig die grond in. Die dokter moet my behoorlik uit my stoel kom trek.

Vra my nie waar hierdie banggeid vandaan kom nie. Dalk het ek iewers in my verre kleintjietyd ’n bloutjie met die tandmuis geloop. Of dis dalk selfs verborge trauma uit ’n vorige lewe, wie weet. Feit is, ek is bang. Vrekbang. Net vir spoke en spinnekoppe is ek banger.

Nou moet ek weer sê: My tandarts is ’n liewe man, die knapste op die dorp. Sterk en gesond (hy’s ’n body builder in sy vrye tyd). Sy glimlag is Julia Roberts-gehalte, sprankelende gebit. En sy neushare is keurig kort ge-trim. Dis belangrik ja, vir die grilfaktor – jy kyk immers in sy neusgate op terwyl jy oopbek en platgespalk daar lê.

“Ons sien daai tandjie sommer tjop-tjop reg,” sê my tandarts en glimlag soos Julia.

“Ek dink ek moet maar laggas kry,” fluister ek floutjies.

Die tandarts lag heerlik, asof hy selwers reeds die hele voorraad opgebruik het. “Ag, nee wat,” sê hy en bind vir my ’n groot borslap om. “Jy sal niks voel nie.” Ja, raait, dink ek paniekerig. Dis wat die Engel ook vir Jakob daar in Genesis rond gesê het voor hy sy heup afgemoker het. Die tandarts stop my kieste vol watte en smeer verdowingsgoeters aan die tandvleis waar hy gaan inspuit.

“Waarna kyk jy graag?” vra hy dan vriendelik en wys na ’n moewiese televisieskerm agter sy kop teen die plafon. Maar my brein is korreltjieklein versteen. “Diere,” besluit hy namens my en skakel die kanaal van rugby oor na BBC Earth.

Die beeld flikker en ’n rooi romanspinnekop verskyn, die kamera ingezoem op sy boosaardige monddele en agt wredeoë. Hulle sit soos ’n duiwelse kransie agter my tandarts se blonde kop.

“Nnnnggr,” protesteer ek, maar my tandarts het klaar my kake oopgesper en bring glimlaggend die spuit nader. “Net ’n prikkie," paai hy. Agter sy kop spring die rooi roman op ’n niksvermoedende sprinkaantjie. Hy gryp die ou dingetjie in sy harige rooi pote vas en steek sy knypers deur haar bors.

Ek ruk in my stoel en die tandarts trek die spuit effe terug. En dan kom hy weer.

Op die TV spartel die sprinkaantjie verwoed, maar die rooi roman se kake werk onverbiddelik, plons in die sawwe vlesigheid van haar maag. Geel slymerige binnegoed drup oor sy mandibels. Onwillekeurig skop ek styf en knyp my oë toe. Dan voel ek die volgende prik van die spuit en my oë vlieg oop. Op die TV is die rooi roman weg. Nou is daar ’n reuse- bobbejaanspinnekop wat met moordgedagtes na ’n paddatjie kyk. Ek knyp weer my oë toe.

Maar hulle skiet oop sodra daar ’n aardbewing in my mond losbars. Dis ’n drukboor en dit voel of dit knarsend dwarsdeur my skedel vreet, al 22 kraniale beenplate skud uit hul fondamente los. Ek wriemel om onder die boor uit te kom. “Amper klaar,” glimlag die tandarts. “Dit voel dalk erg, maar ons skuur net liggies om die growwigheid glad te kry.”

Die bobbejaanspinnekop spring op die paddatjie en druk hom vas. Die padda skop en trap. Sy bek vlieg oop en sy ogies peul by hul kaste uit. Teen dié tyd is my ganske lyf in ’n staat van rigor mortis, tone omgekrul, knieë byna agtertoe geknak. Jy kan met my water skep, so holrug lê ek daar.

“Daar’s hy!” kondig die dokter vrolik aan. “Alles klaar, jy kan maar spoel.”

Dit kos moeite om my aan die stoel te ontstrengel. As ek opstaan, knak my bene agtertoe, soos ’n pasgebore kameelperd s’n. Die dokter help my by die spreekkamer uit. “Sien jou weer,” sê hy en gee ’n skitterglimlag.

Ek wil iets sê, maar my mandibels is lam. “Mfffshhl,” is al wat ek kan bemeester voor ek wankelend vlug.