Waarom het engele vlerke, wil ek op ’n dag by my ma weet.

Hoekom nie rolskaatse of surfborde of towertapyte nie? Was hulle nie bang hulle rokke waai op as hulle so moet vlieg nie? 

Ma sit met spelde in haar mond en hurk voor my, besig om die naat van my nuwe nagmaalrok af te steek. Sy sug. En met die rugkant van haar hand vee sy ’n fyn sproeisel sweet van haar hoë voorkop weg.

“Engele,” sê sy, en haal een van die spelde uit haar mond, “moet vinnig kan beweeg. En daarvoor het jy vlerke nodig.”“Maar skaatse is ook vinnig.”

Ma gee die naat so ’n kwaai plukkie en ek versit ’n voet om stewig te staan. Dan steek sy die volgende speld, vryf die materiaal glad oor my middel. Sy werk sekuur, wil klaarkry voor ons kleindorpse nagmaalsaamtrek Sondag. 

“Vir skaatse het jy heeltyd afdraand nodig,” sê sy en werk die spelde na die hoek van haar mond voor sy nog een uithaal. “En daar waar die engele moet werk, is dit nie altyd afdraand nie.”“Maar op surfborde kan hulle vinnig seil,” stel ek voor en maak denkbeeldige luggolwe met my arms.

“Moenie woel nie,” sê ma, “netnou steek ek jou raak.” Ná ’n ruk sê sy: “Surfborde is onhandige goed. Die engele met surfborde sal sukkel om dit by ’n deur ingedra te kry. En towertapyte moet weer elke aand afgeborsel en opgerol word. Met vlerke is die engel se arms los, kan hy jou vinnig voor ’n kar wegraap, uit ’n put of ’n myntonnel kom haal, want hy trek die vlerke plat.”

“Word engele gebore?”

Ma beskou haar handewerk so ’n rukkie, draai my kinderlyfie dié kant toe en dan weer terug. Haar berggroen oë betrag my liefderik. “Soggens baie vroeg,” glimlag sy, “moet jy die eerste wolkies dophou. Daai roserige pienkes. En die lila-perses. Soms is dit net so ’n wasempie, maar as jy bly kyk, sien jy dit word iets.” Sy dink so ’n bietjie na. “En engele is nie net jonk nie, soms is hulle oud.”

“Was hulle dan eers mense?”

“A ja a! Kyk maar as jy weer so ’n krom klein oumatjie sien. Dis haar vlerkies wat so boggel op haar rug. Hulle is op die punt om uit te kom. Dis hoekom jy altyd mooi moet wees met ’n ouma en ’n oupa. 

“En kinders met sproetjies,” sê sy en druk met haar wysvinger op my neus, “se kanse is goed om engeltjies te word.” Ek knik gewigtig en gaan speel. 

Maar kort hierna besoek ’n engel ons – die doodsengel. Hy’t in die vroeë oggendure ingesluip en onse pa kom haal. En Ma soos ’n drenkeling laat lê.

Bedags het sy uit hol oë gekyk. Snags het sy die veld ingevlug. Dalk het sy gehoop die engel kom haar haal uit haar bitter dal van droefnis. Maar dit was ek wat telkens uit die donker opgedaag het. Strompelend onder ’n sterrenag tussen bosse en klippe tot ek haar vind. In stilte sou ons saam die dag inwag, dophou hoe die harde winterlug ysblou glim, g’n niks gepla met roospienk wolkies waaruit engeltjies dartel nie. 

“Ek moet skool toe, Ma,” moes ek oplaas die stilte breek. Dan het ons opgestaan, met litte styf van koue teruggedrentel huis toe.Laas jaar kort voor Kersfees sit die engel weer op die stoep.

Binne lê Ma en kreun van pyn. Sy het op 95 haar heup gebreek en haar liggaam haal dit nie. Hy’s besig om homself af te skakel. As die pyn te erg raak, sing Ma om haar aandag af te lei. “Bly by my Heer, terwyl die skadu’s daal,” sing sy in ’n bewende stem terwyl die engel geduldig sy toonnaels buite sit en knip. 

Op ’n Saterdagaand net ná elf steek hy skielik sy hand uit en vang haar laaste asem op. Ek hou my hand oor haar bors, voel hoe haar ou hart vir oulaas fladder en dan verstil. Dwarsdeur die nag sit ek by haar, ek en my broer. Ons streel haar hare, soen haar dooie hande en gesels met haar en met mekaar. Tot die stil, beleefde ouens van AVBOB haar kom haal.

Hulle lig haar stywe ou liggaam sagkens uit die bed om in ’n gryserige lyksak in te vou. Verbeel ek my ek het knobbels agter haar skouers gewaar? Ek en my broer stap na buite en kyk hoe daar lila- en roospienk wolkies op die oosterkim verskyn. Koebaai, Ma, dink ek. Of is dit hallo?