Illustrasies Paula Dubois

’n Vriend uit Pretoria bel en vertel van die groot inbraak wat hulle die vorige nag gehad het.

Hulle woon op die derde verdieping van ’n woonstelgebou en die diewe moes teen ’n pyp opgeklim het tot op hulle balkon. En toe saggies deur die huis rondgesluip het. Nie hy of sy vrou of Piet, die parkiet, het wakker geword nie.

Groot skade, natuurlik. Selfone van die bedkassies reg langs die slapendes. Tablette en skootrekenaars. Plus ’n lelike, ronde koperskinkbord wat sy vrou van ’n reis na Indië teruggebring het. Blykbaar ’n hengske ding. Jy kan drie groot waatlemoene in skywe op hom uitstal, so groot.

Hoe sou hulle weer pyplangs met die ding na benede geklim het, wonder ons. En dit sonder om soos ’n staatsorkes uit die een of ander piesangrepubliek te klink. Dalk het hulle ’n groot sak by hulle gehad, stel ek voor. Sak soos in mieliesak, nie meelsak of rugsak nie. Laasgenoemde sou vir die kleiner goed gewees het.

Miskien, sê my vriend skepties. Steeds. Op- en afklim teen ’n pyp is ’n handeviervoetbesigheid. Jy kan nie nog ’n mieliesak ook oor jou rug dra nie. Buitendien twyfel hy of ’n mieliesak wyd genoeg sou wees.

Jinne. So ons praat hier van ’n ding so groot soos ’n trekkerwieldop, vra ek.

Trekkers het nie wieldoppe nie, help hy. En sy vrou kan sweer daar is van haar onderklere ook weg.

Haar ónderklere? Soos in broekies en goed?

Broeké, sê hy droogweg. Sy vrou is mos ’n bitter stewige vrou. En dis nie net die broekgoed nie, dis die “bostukke” ook!

Kan jy nou meer. Wat op aarde sou hulle dáármee wou maak? Die motief kan darem seker nie eroties wees nie (niks Franse kant en Victoria’s Secret nie, reken ek. Liewer eerlike, hardwerkende cross-your-heart-items. Ruimskootse formaat.)

Dalk het hulle die broekgoed gebruik as klankdempers, sê hy.

Almiskie, sê ek sommer dadelik (want my verstand weier om in terme van klankdempers en onderklere te dink), en die bra’s is dalk vir hul rekwaarde betrek.

Ja? Hy klink opreg geïnteresseerd.

Nee, ek meen nou maar, gorrel ek, as jy twee van hulle aan mekaar vasbind en dan span jy dit oor die skinkbord en bind die hele spulletjie so op jou rug vas ...

Sjoe.

Ja, man. Soos in die Ninja Turtles met hulle skilde op hulle rûe. Hulle bind mos daardie skilde so kruisdwars oor hul borse vas.

Um. Oukei ... Maar dit laat nie baie spasie oor vir die skootrekenaars en die tablette en goed nie.

Kyk, sê ek, as jy ’n rugsak agterstevoorom opsit, jy weet? Jy bind die strêpse agter vas, soos ’n bra. En dan sit jy die groot skottel op jou rug en jy bind die hele spulletjie met die “rekke” weer voorkant vas. Dan het jy steeds jou hande vry. Jy sal dalk net met lang arms teen die pyp moet afspaander, want nou’t jy mos vrag van voor af ook, bietjie soos ’n kangaroe.

’n Kangaroe?

Ja, man. (Ek is nou op ’n roll.) Dit sou bitter jong outjies gewees het, rats, fiks, akrobaties, met sulke spesiale rotsklimskoene. Hulle seil soos geitjies daardie drie vloere uit. Erg professioneel. En met sulke vinnige minibusse as getaway cars. Tien teen een lede van ’n sindikaat, of so iets.

Hy is skielik haastig. Dis die voordeurklok, sê hy, dalk die versekeringsmense.

Halfuur later bel hy weer. Goeie nuus: Alles is teruggevind. Sommer hier naby, straataf. Nog net so op daardie reuse-wawiel-skinkbord uitgepak en toegegooi met ’n kombers. Agter op ’n voos ou 1978-Datsun-bakkie, wat klaarblyklik sonder petrol gaan staan het. En met skinkbord en al gelaat staan is.

Ergste is die voordeursleutels op die skinkbord. En my vriend wat skielik onthou hulle het die vorige middag klere gewas en op die dak oor die draad gaan hang. Toe hulle terugkom en voordeur oopsluit, lui die huisfoon en selfoon tegelyk binne (Piet die parkiet is hier iewers in die prentjie) en hulle skarrel na binne en vergeet die sleutel steek nog in die deur.

Ek moet bieg ek voel effe teleurgestel hiermee. As ’n mens dan nou beroof móét word, moet dit dan met jou eie sleutels wees? En jou ou sorrie besittinkies op jou eie skinkbord daar uitgedra na ’n getaway car sonder petrol? Ek meen ... jinne.

As dit weer my beurt is vir ’n inbraak (dit gebeur mos maar elke nou en dan met elkeen in dié land) sal ek mooi vra dat ’n netwerk supergeslepe Nina Turtle-kangaroes my teiken.