Illustrasies Paula Dubois

’n Vriend van wie ek lank laas gehoor het, bel met die nuus dat hy skielik in tale praat.

Ek het ’n beroerte gehad, sê hy. En toe ek wakker word, kan ek nét Engels praat. Sowaar! Ék wat van die Vrystaat kom! Met ’n naam soos Frik!

Erger nog, bieg hy, is die ligte vorm van Tourette-sindroom wat hy bygekry het. Hy vloek skielik spontaan. Lelike siesa-woorde, maar dié in welluidende Afrikaans.

Wat my toe aan die dink sit oor woorde – hoe lank dit ons vat om dit in ons koppe in te kry en hoe eensklaps ons dit weer kan verloor. Hulle sê kinders wat leer praat, leer elke twee uur ’n nuwe woord by tot hulle ’n woordeskat van sowat 20000 het.

Dis baie woorde, veral as jy dit op een slag moet gebruik. Blykbaar kon Shakespeare. En ’n oorlede tante van my. My pa het altyd gesê hy wil ween die slag as hy die foon optel en dis Ant Nelie. Sy praat op die in- sowel as die uitasem, het hy gekla.

By my ma se ouetehuis is daar weer ’n oom wat net een woord sê: tja. Ek kan sweer hy’s ’n filosoof, want só verander hy enige onskuldige groet tot ’n diepsinnige bepeinsing oor die stand van dinge. Sê jy “goeiemôre” antwoord hy met “tja”!

Dalk het sy ander 19999 woorde hom al verlaat. Watter een sou eerste oorboord gespring het, wonder ek. Dalk die dikkes, soos rompslomp of drommedaris. Of styweboordjiemenere soos jubilarium en eeufeesherdenkingskomiteevoorsitter, selfs die rakkers: karnallie of klitsgras. Maar wat het van die oom se familie-skatkis geword, wonder ek, daardie woorde wat net in gesinne gebore en gebesig word?

Ons almal het hulle – afkomstig van een ou wat ’n woord mishandel of verkeerd uitspreek. Aanvanklik is dit snaaks en word dit aspris so herhaal, maar binnekort is dit deel van die familie-leksikon en weet jy gans nie meer wat die eersgebore woord was nie.

So praat een van my vriendinne se mense van tanniematiesous. Iemand anders vertel weer haar mense praat van wieka wirka as hulle bedoel vice versa. En vir Le Creuset-potte sê hulle Le Kriekkriek.

’n Skoonsuster het die woord “gôn” by ons ingesleep – van haar Sap-ouma Nel wat gedink het kamerjas klink te ordinêr vir háár “gown”. En oor sy gesukkel het met haar valstande het sy ge-tantoffel, pleks van pantoffel. Al die Nelle tantoffel en gôn en as jy jou weer kom kry, dan gôn jy agterna.

Want so ’n verkeerde woord is ’n neet van ’n ding, baie soos sypaadjie-kougom. Trap jy een keer in hom, kom plak hy in jou kop se agterplaas soos arm familie. Voorbeeld: my ma het altyd gepraat van ’n koesjy: “Ons gaan ’n paar koesjy’s bak vir die basaar.” Dis natuurlik oor die Kook en geniet van destyds nie ’n fonetiese uitspraak by die quiche-resepte verskaf het nie.

En dan kom vang daardie einste koesjy jou uit as jy intelligent wil klink. Jy grawe verwoed in jou kop rond, maar die woord het sy Franse alie vir jou gewip, sy tasse gepak en vertrek. Dalk terug na Provence, bak vir die locals bobotie of iets dergeliks.

En hy’s nie net by my weg nie, hy’s by my liewe ou moeder ook weg. Haar woorde-knapsak het ’n gaatjie gekry, onlangs. Sy was die woorde-aanmaker in ons gesin, maar nou skud sy hulle een-een uit.

Koesjy, byvoorbeeld, dwaal liefdeloos in die koue kombuise van haar dogters rond. Hy sal nooit weer geurend uit ’n oond verskyn nie. Sy’t van hom vergeet.

Selle geld vir die ou la-di-da’s.

Mamma het eers in haar later jare kennis gemaak met ’n hadeda en sy is seker die enigste mens wat groot deernis vir dié gevogelte het. Die deernis is nog daar, maar haar eie woord vir hulle is weg. “Watse ou voëls is dit,” wil sy deesdae by my weet, “met so ’n treurige ou deuntjie?” Sy vra dikwels, want sy vergeet.

La-di-da’s, Mamma. En hulle klink maar so, want hulle vlieg Frankryk toe. Agter die woorde aan.

En sy knik haar kop inskiklik, asof sy meen dis soos dit hoort.

Tja