Afknypgebreksindroom, noem hy dit.

Kyk maar, sal hy sê, ná ’n aandete by iemand se huis. Die gasheer en -vrou stap gesellig saam kar toe. Maar ineens tel die vroue spoed op. Die een onthou iets van lewensbelang wat sy nog moes gesê het. En net daar sit hulle ’n magistrale diskoers op tou.

Manne ontkoppel makliker. "Nou maar raait," sê hulle. Dan klim die een in en skakel die kar aan en die ander een staan effe tru, hande in die broeksakke. Alles klaar. Niemand praat onnodig nie of maak oogkontak nie, maar wag in beleefde lankmoedigheid.

Volgens my flous hulle niemand nie. Want kort voor lank trommel een sy vingers op die stuur en die ander een gee sy vrou ’n kyk oor die dakkap van die kar.

Die afgelope Maandag was dit weer so toe ons afskeid neem van ou-ou Johannesburgse kennisse wat onlangs in ’n veiligheidskompleks hier tussen die Bolandse wingerde ingetrek het.

Ek was al met die een voet in die kar toe Marie sê sy sien my hopelik weer sodra haar oorsese kinders se kuier verby is. Hulle het mos die gestremde ou seuntjie, fooi.

Ek, dadelik: Moenie vergeet van daardie fantastiese nuwe kinderkliniek in die Kaap nie. My eie bloedneef is mos ’n spesialis daar. Sy moet net sê, dan kry ek vir hulle ’n afspr...

"Ons moet nou gaan," hoor ek agter my.

Ek buk terug in die kar. "Ek kom, skat."

"Nou maar tóé!"

Ek en Marie ruil nog vitale laaste inligting, haastig, maar skynbaar nie vinnig genoeg nie. Dié slag rev hy die kar se enjin.

"Sal julle die pad weer kry om uit te kom?" vra Marie nog.

"Ja-ja! As my vrou net sal kom , nè?" Openlik kortgebaker.

Ek dink onwillekeurig aan dominee Terblanche, herder van die NG-gemeente op Britstown sowat 55 jaar gelede. Op ’n aand, in ’n soortgelyke afknyp-situasie tussen my ma en tannie Terblanche, buk hy by ma pa se venster in en hy sê: "Ja, broer, hoe Moses ooit dié spulletjie deur die Rooisee gekry het, sal ons seker nooit weet nie."

Tuisgekom sê my ma, ongeamuseerd, as Moses dalk beter na die vroue geluister het, het die Israeliete verdomp nie nóg 40 jaar in die woestyn bly rondswerf nie.

Ewenwel. Ek groet vir Marie en sit skaars of my man trek daar weg met ’n vaart, skiet straataf en mis ’n wollerige hond net-net.

"Wat gaan met jóú aan?" roep ek ontsteld.

Hy antwoord nie, jaag net nóg vinniger op ’n stopstraat af.

"Dis nie nodig om ons te verongeluk net oor jy nie maniere het nie."

"Ek het ’n nood," sê hy knarsend. "En ek weet nie of ek die huis gaan haal nie."

"Bleddie hel, jy kon mos dáár gegaan het."

Hy skud sy kop driftig. "Dis nie so ’n nood nie."

Die groot nommer dus. Twee.

"Dis daai vrou se kos!"

Ek wil nog stry, maar onthou skielik die poeding – gebakte pere in rooiwyn – en hoe ’n peer in enige vorm of gedaante my goeie man se fabriekwerke opstook. Eskom sal jaloers wees.

"Jy moes eerder gepraat het, man, dan was dié gejaag onnodig."

"Dis júlle wat verdomp nie kan end kry nie!" Hy rem skielik hard, maak ’n U-draai en swaai by ’n systraat in. Om ons flits die eenderse landgoedhuise verby. Hy jaag op ’n stopteken af, kyk links en regs.

"Waar de hel is dié plek se uitgang?" Ons bekyk die wêreld en in die stilte hoor ek ’n dreigende rammel daar uit sy benederyk.

Ek bel vir Marie, maar my man keer verwoed, hy wil nie sy nood met vreemdes deel nie. "Nou maar jy kan nie op ’n sypaadjie gaan nie," roep ek, "dis so te sê op iemand se voordeur!"

Hy swyg en sit voet in die hoek. Om ’n draai en dan nóg een. Plek-plek skree die bande op die nuwe keisteenpaadjies. Daar's nóg ’n hond. En dan ’n eend. My man swets.

"Ons het van die berge se kant af ingekom," hyg ek hulpvaardig.

"Nee, man, die berge is noord."

"Ons moet stop en vra."

"Hierdie tyd van die n–? O, hel." Van onder sy sitplek kom daar ’n dowwe skoot en hy trap die petrol plat. Besete. Ek wil nog ruit afdraai, maar klou vir lewe. Dink: "Halsstarrig" asem.

Dan skiet ons plots voor Marie se huis verby. Dié was op die punt om die voordeur toe te maak. My man skop die brieke in, gooi die kardeur oop en vlie uit. Verby ’n verbaasde Marie en Pieter die huis in.

"Sleutels vergeet?" roep Marie van die voordeur af.

"Moses," proes ek en draai vensters af. "Hy gaan sien vir Moses." Sy vra liewer nie. Anders kry ons weer nie afgeknyp nie.

Dié keer, die lag.