Illustrasies Paula Dubois

Wat word van die gebrokenes van hart?

Dié vraag word in ’n gesaghebbende wetenskaptydskrif gevra. En dit prikkel my dadelik, want almal weet hulle gaan boek in by oorl’e Elvis se Heartbreak Hotel, ’n plek met swaar donkerpers fluweelgordyne, stowwerige kunsblomme en liedjies soos Un-break my heart en Achy breaky heart oor blikkerige luidsprekers.

Maar die artikel gaan toe glad nie daaroor nie.

Dit het eerder te doen met die meganika van die ou klopper – dinge soos ’n slap of springerige hartspier, lekke en letsels, verlammings en versakings. Niks te doen met gebrokenheid nie, eerder met die binnewerkings van die fisieke ratkas agter jou ribbes.

Tog, dink ek toe, is daar weinig verskil. ’n Gebreekte hart is ’n gebreekte hart, of dit nou fisiek of geestelik van aard is. Die een kan ewe hard lek as die ander. Of slap word, verlamming kry, gaan lê en jou versaak.

Vorige jaar het die koerante berig van mense wat sterf aan gebrokehart-sindroom. Dit was na aanleiding van ’n geliefde radiojoernalis wie se hart ingegee het ná geweldige trauma by haar werkplek. Die wetenskaplike naam: streskardiomiopatie. Ten tyde van groot skok, stres en hartseer stel die liggaam kwaai hoeveelhede streshormone vry, die linker-hartkamer vergroot en pomp stadiger. Als dodelik.

In die mediese wetenskap bly hartsiektes ’n groot uitdaging. Want die ding met ’n hart is dat sy selle onvervangbaar is, anders as by ander organe, sê nou maar die maag of vel. Laasgenoemde verloor elke minuut sowat 30 000 selle, wat die liggaam gou-gou vervang.

Ongelukkig nie die hart nie. Soms help pasaangeërs of ’n hartoorplanting, maar te veel mense sterf aan onklaar harte – daar’s doodgewoon nooit genoeg in die “handel” beskikbaar vir oorplant nie.

Aanvanklik het die kweek van organe uit stamselle belowend gelyk, want daar was groot sukses met sommige organe. Maar die hart laat hom nie sommer kweek nie.

Geen hoop dus, vir “stukkende” harte nie? vra die tydskrifartikel. Tóg wel, antwoord hy!

My eie hart gee ’n sprongetjie, want ek hoort ook deesdae by hierdie klub.

Ek lees geesdriftig verder: Biologiese wetenskaplikes praat nou van ingrypings wat selle in staat stel om hulself weer heel te maak. Hoe dit sal werk, weet nugter, maar die mooie daarvan is dat jy dalk selfs jou afdraande brein (of ander dele van die liggaam) so nou en dan sal kan verfris. Dit laat my dink aan ’n mollige skoolvriendin wat so graag dun enkels wou hê om goed te lyk in hoëhakskoene. Sy het vas geglo die dag sou aanbreek dat sy vir haar ’n paar enkels kon “bestel”.

Helaas.

Tot die middeleeue het mense geglo die hart is die bron van die asem en die siel, die kern en essensie van die mens. Koninklikes se harte is dikwels uitgehaal en apart begrawe. Die komponis Frédéric Chopin se liggaam rus byvoorbeeld in Parys, maar sy hart in Pole. In antieke Arabië, weer, was die hart ook in beheer van spysvertering, van beweging en balans.

Alles waar, meen ek, tot vandag toe. Kyk maar of jy lus is vir rondhol of jol as die hartseer jou plattrek. Kyk of jy balans het en kan staande bly.

Vandag se go, go, go-kultuur laat nie toe vir dié soort hartkwaal nie. Dis ’n kwessie van reg of weg. Drink ’n pil, kry ’n oorplanting, kry ’n lewe. Die Heartbreak Hotel is lankal gesloop, ontwikkelaars het die grond gekoop en bou ’n Secure Lifestyle Village daar; die ou begraafplase met hul sement-engele en harte apart word uitgekap vir snelweë.

Die wêreld, sê Ernest Hemingway, breek almal van ons. Agterna word sommige juis sterk in die gebroke plekke.

Gelukkig het ons digters wie se woorde voortleef.

Soos Leonard Cohen, troebadoer van die gebroke hart. Hy wat gesing het van die kraak in elke ding, daar waar die lig na binne kom. So jy wag daarvoor, die “nuwe, vreemde krag stil en verterend” waarvan ook Eybers praat, om in jou op te skiet.

Om sin te gee en heilig te maak, hierdie een lewe wat ons het.