Illustrasies Paula Dubois

Het jy my kom haal,” vra ’n tannie gebiedend toe ek gister by die ouetehuis instap. “Ek wil nou huis toe gaan.”

Sy sit statig in ’n rolstoel, groot borsspeld op haar netjiese baadjielapel en ’n driftige kyk op haar verweerde gesig. Haar versorger wys vir my om verby te hou. “Dis ok, mevrou, ons gaan nêrens nie, ons is tuis,” paai sy.

“Ek wil húis toe gaan,” beveel die tannie en skud haar benerige vuis.

Ek glip haastig verby die drama in die kleine na my eie ma se woonstelletjie onder in die gang. Agter my hoor ek weer die tannie uitroep: “Nou maar wáár woon ek dan?”

My ma se plekkie is vol winterson, warm en gesellig. Sy sit op haar geliefde gemakstoel, besig om ’n prentjie van ’n feëprinses in te kleur. Die son vang haar hare, omskep dit in ’n vlamwit stralekrans. Soos altyd is sy bly om my te sien.

“En wat doen ons vandag?” vra sy grootoog.

“Ons kyk foto’s,” sê ek en sit my mandjie neer. Daarin is inkontinensiedoeke, ’n pakkie Lemon Creams, twee piesangs en ’n plastiekhouer vol ou gesinsfoto’s. Ek sleep die foto’s elke tweede dag saam. Dieselfde foto’s wat sy oor en oor kyk, want sy vergeet. Die ouderdom vee al om die twintig sekondes die hardeskyf van haar geheue skoon. Sy herken geeneen van ons vier kinders se babafoto’s nie. Ook nie die plekke waar ons vroeër gewoon het nie – Postmasburg, Britstown, Calvinia, Potgietersrus, Jacobsdal, Pretoria. Skoongevee.

Haar eie jeug, die plaas op die Hoëveld van die destydse Transvaal, die ossewa vir nagmaalbesoek, die donkies vir skool toe. Haar kindertyd, die poppe wat sy en haar vier susters uit mieliestronke gemaak het. Weg.

Ek gee vir haar ’n foto aan: sy self as strooimeisie, ’n stuk of tagtig jaar gelede. Raafswart hare met rosies daarin. Sy kyk verbaas daarna. “Ek?” vra sy.

“Kyk hoe mooi is jy,” sê ek. Sy glimlag verleë en gee die foto terug, steek haar beaarde hand uit vir die volgende een.

Ek dink aan die plompsagte handjie van ’n vriendin se dogtertjie vroeër die oggend, wat ’n blommetjie na my uithou. Hoe het Mamma se handjie op dié leeftyd gelyk? Hulle was brandarm en Mamma moes vroeg die skool verlaat om te gaan werk – sy, ’n skrander, kreatiewe vrou met ’n kop vol drome.

Mamma het gedroom van ’n loopbaan, van maatskaplike werker word. Toe word sy ’n huisvrou, oftewel ’n tuisteskepper. En het sy nie tuistes geskep nie. Self mure geverf en gordyne gemaak, al die nuwe huise leefbaar gemaak. Bokse ingepak, die ou huis blink geskrop om skoon agter te laat. Weer geskrop aan ’n nuwe woning en die bokse uitgepak. Hoeveelte kere deur haar lewe. Tot hier, in die ouetehuis, haar (voor-?) laaste huis.

Nou het sy alles vergeet, begin ook praat van “huis toe” gaan. Dit herinner my aan die ou Totius-gediggie “Die wêreld is ons woning nie.” Dit beskryf ’n enkele reier wat mistroostig kyk hoe die son oor die vlei sak en die mis opkom, ’n nes vol jong voëltjiekuikens wat deur die wind uit ’n boom geruk word. “ ’n Koue gril deurhuiwer my; / en ’k sien dit dan in alle ding / wat in die skemer my omring, / die wêreld is ons woning nie.”

Ek gee vir my ma nog ’n foto aan: ’n gesinsfoto van 1966. Mamma se swart hare is styf gedoen, my twee ouer susters het beehive-kapsels.

“Frikkie,” sê sy en druk haar vinger op die soet gesiggie van my klein boetie. “Nee, mamma, Frikkie was jou jongste broer. Hierdie is Gerhard.” Sy glimlag en gee die foto terug.

Met die uitstapslag sit die tannie met die borsspeld steeds by ontvangs. Sy huil. Haar versorger en suster Joan, die gesondheidsbestuurder, probeer troos en kalmeer.

“Ek weet dan niks meer nie,” kla die tannie. “Wat is my naam? En waar woon ek?” wil sy verdrietig weet. “Want ek wil huis toe gaan.”

Tuis aangekom, groet die buurvrou se tuinman my. Hy is vreeslik bly, sê hy, want hy’t genoeg geld bymekaargemaak om huis toe te gaan – Malawi toe. Hy lag van oor tot oor, dolgelukkig. Sy tande skitter teen sy mooi donker gelaat.

Opgevrolik betree ek my eie huis, gooi die gordyne oop en maak ’n beker warm sjokolademelk. Ek drink dit behaaglik in die son, tevrede met die hier en nou, met hier een geluksalige moment. Met hierdie huis.

Vir nou is dit genoeg.