Illustrasies Paula Dubois

My oudste sus het ’n standaard-antwoord wanneer jy vra hoe dit gaan: “drie sakke vol”.

Rommel, bedoel sy. Want sy spring-clean. Al vir twee jaar lank.

Sy’t begin toe sy afgetree het ná ’n leeftyd van hard werk. Regtig hard.

En sy’s behoorlik opgebruik, sê sy, want sy voel dit aan haar lyf. Buiten die rug en knieë, pyn omtrent elke knokkel in haar agt-en-sestigjarige liggaam.

Sy’t in die stoorkamer begin. Eerste was bokse vol tydskrifte en ou boeke – onder meer skoolboeke van 60 jaar terug. Alles is in ’n swartsak ingeboender vir herwinning. Maar haar man wil ’n oorval kry. Dis bleddie familie-erfstukke, roep hy ontsteld.

“Erfstukke se voet,” kap sy terug. “Voorgeskrewe geskiedenis uit daai tyd – Jan van Riebeeck en die Groot Trek drie maal oor en niks verder nie. Argaïes.”

“Presiés! Dis Africana! Dit hoort in die argiewe.”

“Dit hoort ge-recycle te word – vir iets nuttigs. Soos toiletpapier. Daar’s nou ’n nuwe geskiedenis. Gaan vra maar vir Herman Giliomee. Of Julius Malema, for that matter.” Sy vat die sak met mening en gaan pak hom in die kar se kattebak, begin dan met die volgende boks. Dis vol ou skoene, party by die 40 jaar oud. Soos die paar patent leather-blokhakke wat sy vir haar seun se doop gekoop het. Tydens die seremonie het sy meer trane as die baba gestort – oor die skoene so geknyp het. Nooit weer gedra nie.

Haar man wil opnuut stuipe kry. Dis kósbare goed, skel hy. En nee, sy gooi nie sy tekkies met die losgetrekte sole weg nie. Dis nog splinternuut. Dit kom uit die tyd (20 jaar gelede) toe skoene nog ordentlik gemaak is. Hy moet dit net ’n keer laat gom. En hy sál nog. En sy raak beslís nie aan die pantoffels wat die muise uitgepluis het nie. Sy oorlede ma het dit nog vir hom gegee. Dis kósbaar, verdomp en blerriewil.

Sy swyg, maar sy koester donker planne. Sy sal die boks stilletjies wegsmokkel wanneer hy nie kyk nie.

Sy misgis haar egter, want hy’s nou soos ’n werfhond wat muishond ruik. As Ousus aan die stoorkamerdeur vat, is hy by. Of as sy met ’n swartsak verby hom sluip spaarkamer toe. En dan begin die toutrekkery.

So klou hy verwoed aan ’n boks met ou dasse. Sy hele lewe lê daar in netjiese rolletjies das opgeteken: matriekafskeid, graadvang, trou, eerste werk. Laaste werk. Plus ’n leeftyd van daspresente van die kinders – tolletjiebrei-wonderwerke en een met ’n Kers-tablo opgeverf, Baba Jesus wat verdag baie soos Batman lyk.

So verskuif die slagveld van boks tot boks en ontstaan daar ’n hewige stryd by elkeen.

Dis toe sy ’n boks vol ou, verroeste visvang-goeters vat dat die skermutselings teatrale afmetings aanneem; hy gryp na sy linkerbors en roep dramaties ten hemele.

My liewe suster verklaar ’n skietstilstand met ultimatum: Sy sal niks van hom weggooi nie, maar hy los haar uit dat sy haar eie goed kan weggooi soos sy goeddink.

Maar hy’s skelm. Hy wag tot sy sawens met ’n hekelwerkie voor die TV sit, dan gaan rommel hy rond in haar plastieksakke in die kattebak. As sy haar weer kom kry, pop die matriek-geskiedenisboek tussen die kookboeke uit. Ook haar heel eerste Teflon-pan, sedert 1981 al sy kleefvrye status kwyt, beleef ’n heropstanding uit die kattebak, verskyn soos die daeraad uit die besemkas.

“Wat ís dit met die man,” vra sy, raadop.

Ek dink aan my eie kaste vol rommel. In my geval weet ek: My rommel is my lewensbewys, graffiti teen die grou mure van die uitspansel: Kilroy was here.

Maar daar kom ’n tyd, weet ek, dat jy moet laat los – daardie porseleinpadda wat ’n hawelose vrou in jou hand gestop het toe jy een winteraand vir haar komberse gevat het, die laaste verjaardagkaartjie wat jou pa voor sy dood vir jou geskryf het. Sulke goed. Flitse van jou kosbare lewe, maar rommel vir ’n begriplose buitestander wat dit eendag namens jou moet rommelhoop toe ry.

Ek sê dit vir my ousus.

Maande later is daar ineens ’n deurbraak: drie vol sakke in haar kattebak, meld sy. Hulle het dit saam-saam ingepak; met ’n bottel wyn tussen hulle elke item se volle verhaal gevier. En van afskeid geneem. Daar’s trane gepink, van verlies en van lag. Maar daar’s ook ankers gelig. En vryheid, ’n gevoel van ligter leef, gevind. En vrede. Veral vrede.