Op my hoge ouderdom bevind ek my skielik weer in speelgoedwinkels met Kerstyd. Nie vir ’n kleinkind, soos jy sou verwag nie, maar vir ’n oumens. My moeder.

Met elke jaar dat die tyd haar nader aan ’n honderd tik, verdwyn die skapies uit haar gryse ou kop (ou dames hou mos nie varkies aan daar bo nie, by hulle is dit skapies). Stil-stil sluip die outjies weg, enkelgelid, elk met ’n ietsie onder die blad wat hy uit die arsenaal van ’n leeftyd se vlyt en vaardigheid gesteel het. Kort-kort merk ek dat daar nóg iets kosbaars weg is. Sy’t ophou onthou hoe ’n telefoon werk. Of haar dierbare ou hande het vergeet van brei, selfs van kraletjies ryg.

En nou’s dit Krismis en ek soek ’n toepaslike geskenkie vir Oumoeder hier in die kleuterafdeling van die dorp se speelgoedwinkel. Die ander oumas in die winkel kyk na goed soos pienk slimhorlosies. En slym. Vandag se dogtertjies hou glo baie van slym. Ai. Ek hou maar verby.

Ek dink aan die eerste keer toe ek vir ’n ouer ’n Kersgeskenkie moes koop, en hoe ek haar tóé verloën het.

Dit was naamlik die jaar van die Groot Ontgogeling, toe een van my ouer susters met die storie gekom het dat Kersvader nie bestaan nie. Ek was woes woedend vir hierdie kettery en het rumoerig rewolusie gestook. In só ’n mate dat my jonger boetie sy onskuld oor die man met die lang wit baard ook kwyt is. Maar ons mamma het wyslik die situasie ontlont met ’n geldjie en die belangrike opdrag dat ons tweetjies daarmee geskenkies moes gaan koop.

Opwinding.

Waar begin jy met so ’n groot opdrag? Erger nog, wat koop jy? Boeta het dadelik verklaar dit word ’n goue horlosie vir Mamma en ’n Jeep vir ons pa. In die Algemene Handelshuis op die dorp het ’n volgende ontnugtering ons egter ingewag. Die tannie agter die toonbank moes uitlê dat ons R2,50 nie genoeg is vir Jeeps of goue horlosies nie.

Blikskottel. Ek was maar agt en Boetakie net vyf. Skielik is die wêreld van klokkies en linte en kerse en koek soveel valer en selfs ’n bietjie brak, soos die water van die Groot-Karoo waar ons toe gewoon het. Boetie begin sommer huil. En die tannie agter die toonbank voel natuurlik vreeslik. Sy stel voor dat Boetie iets kies vir Pappa, want hy’s mos ook ’n man. Ek moet vir Mamma kies.

En daar kraai die haan toe vir my, want ek besluit ek is die oudste en daarom mag ek die Hoof van die Huis se geskenk uitsoek. Boetie het probeer stry, maar ek het die gewigsvoordeel gehad.

Begeesterd het ek die rakke van die groot winkel afgestap, alles noukeurig bekyk. Kort-kort het ek teruggehol na die tannie agter die toonbank om pryse te tjek. Soms het ek vir Boeta raakgeloop. In die waspoeierafdeling het ek hom met ’n pak Omo in die hand betrap en hard betig (so ’n Omo-boks is groot en ek is mos bang sy pakkie lyk groter as myne). In die ysterware-afdeling het ek hom met ’n hamer gevang – en streng gekapittel (ek was jaloers oor ék nie eerste aan ’n hamer vir Páppa gedink het nie).

Toe die tannie ons geskenke toedraai, het sy vir my ’n bietjie senuweeagtig gelyk. Ek kon sien haar mondhoeke lyk springerig.

Maar Pappa was dawerend-gelukkig met sy persent. Hy’t uit sy maag gelag van pure plesier oor die “rugborsel” wat in sy pakkie was. Natuurlik het een van my ouer susters die pret probeer bederf. “Wha-ha-ha, dis ’n toiletborsel!” het sy gekraai. Mamma se moordende kyk het haar stilgemaak. Maar dit het nét gehou tot Boetie se pakkie ’n buisie tandepasta onthul het. Tóé het sy proesend die vertrek uitgevlug.

“Kopkant én stertkant,” het Mamma wyslik verklaar, “is ek en Pappa nou die skoonste op hierdie dorp.”

Deesdae is Oumoeder se Kersfees weer klokkies en linte en kerse en koek. Van my kry sy ’n prinses-inkleurboek. Sy’s in haar skik, maar die mooi geskenkpapier maak haar blyer. En voor die aand uit is, plunder sy die Krismisboom, pluk die engeltjies en balletjies en klokkies en steek dit in haar loopraam se mandjie. Ek los haar. En soen haar. Want sy’t my reg geleer, mos. Dis waaroor Kersfees gaan: deernis en lankmoed en liefdevolle wysheid.