Illustrasies Paula Dubois

Dit het jy nou van ’n dorp, dink ek toe ek weer vir Manie in die hardewarewinkel gewaar. Jy loop telkens dieselfde mense raak.

Ek ken nie vir Manie nie, maar ek sien hom gereeld hier. Vandag staan hy langs ’n vrou – eenderse magies wat onder eenderse fliesjekkers uitbol. Sy noem hom “Pappie”.

Hulle kyk na staanders waaroor jy nat wasgoed kan hang om droog te raak. Moet my nie die goed se naam vra nie. Ek skat dié is net so lomp en kompleks en obsternaat as die ding self.

Heel vroom en netjies oopgevou staan die demonstrasiemodel daar op die hardewarewinkel se vloer, blommend van nuttigheid en oulikgeit. Dit slaan in ’n japtrap op en vat jou hele laai frokkies en sokkies, belowe die aanwysings op die boks, met nóg plek oor vir ’n hele week se vadoeke. Agterna vou jy dit weer mooitjies op vir wegbêre in sy kompakte doos.

Alles leuens, natuurlik. Eerstens sukkel jy jou blou om die ding aanmekaargesit te kry. Dit bestaan uit verskillende pale en penne en uitsteeksels – bietjie soos ’n satelliet – wat inmekaarhaak en -skakel en -skroef om uiteindelik met sulke lang, uitgestrekte arms jou wasgoed te ontvang. Maar jy moet fyn hang, die ding omtrent bekruip. As jy een sokkie dié kant van die hoof-as het, moet daar een ander kant ook hang, liefs dieselfde soort. Vir balans, sien, want anders tiep hy. En dan vou hy homself op. Of erger, hy buig. En dan kan jy hom netsowel weggooi. Hy staan nooit weer behoorlik nie. Met die eerste nat pêntie dop hy om. En jy kan maar vergeet, jy kry hom nooit weer terug in daai boks nie.

Ek hou asem op, want ek sien Manie is lus vir die ding. “Bietjie ingewikkeld, Pappie,” mymer vroutjie, “dink jy nie?”

Manie is nie ’n man van baie woorde nie, het ek al geleer hier in dié winkel. En hy laat hom ook nie sê nie. Hy is, helaas, ’n man. Hy vryf nog een keer oor sy maag en lig dan een van die verraderlike bokse van die rak af. Sommerso met die een hand. Chuck Norris van die hardewarewinkel.

Moenie, Manie, wil ek benoud roep. Ek het al rotsvaste huwelike sien knak onder hierdie klas van apparate. Opslaanwasgoeddroogmaakstaanders. En opvoubare langbeen-lê-strandstoele. Om van ’n tent nie te praat nie. Ek en my oorlede geliefde het al hierdie dinge beproef en dikwels diep beskadig anderkant uitgekom.

Een aand in die Sederberge, byvoorbeeld. Ons het ’n tent geleen, want ons is saam met gesoute kampeerders en wil nie soos sissies in die huurhutjies gaan slaap nie. Maar ons doen alles verkeerd, beginnende by éérs paartie hou, dan, in die donker, vir die eerste keer in ons lewe, ’n tweemantent-affêringte opslaan. My ou liefie was ’n Hollander, lief vir Kaapse wyn. Tienduimig. En ná ’n paar wyne selfs méér so. Soek ook nie hulp of raad nie.

Meetaan al kap hy sy knie raak met die rubberhamer waarmee jy die penne indryf. Ek wil help, maar hy ruk die hamer weg. Sy elmboog tref die enigste tentpaal wat al staan. Hy kap die ding weer in, maar met soveel woede dat die paal buig.

Dan kry ons nie die penne nie. “Potverdomme!” roep hy uit, blameer my sommer vir alles. Óm ons het die meeste tente al stil en donker geraak. Ek byt my tong en ons wroet soos molle in die donker verder. Maar verniet. Daar’s g’n pen te bekenne nie.

En toe begin dit reën. Eers saggies, en die Hollander verklaar summier: “We ga gewoon onder het zeil liggen.”

’n Uur later word ons wakker. Drywend op ’n dam. Op ons opblaasdubbelbedmatras, verstrengeld in die wurggreep van ’n pap tent. Die res van die nag sit ons in die kar en baklei. Ligdag vertrek ons huis toe.

Daarna het ons vele soortgelyke besoekinge van Satan beleef. Die groot troef was so ’n wasgoedstaanderbesigheid. Die Hollie sê hy weet hoe, hy’t nie raad óf kommentare nodig nie, dankie.

Ek sal jou die pynlike res van daardie ekspedisie spaar, maar weet net dat daar uiteindelik verwoed met ’n tienpondhamer tekere gegaan is voor hy dit woes en wrokkig in die vullisdrom probeer vernietig het. Gelukkig kon ek keer voor hy die hele spul aan die brand steek.

Ek kyk na Manie met sy boks by die kasregister. Hy haal sy kredietkaart uit. Agter hom staan ’n bekommerde tannie Manie. Sy weet al, sien ek: Van hiér af loop haar dag net een rigting, en dis afdraand.