Illustrasies Paula Dubois

Die kinders van vandag, sê ’n vriendin onlangs, is bederf en gemaksugtig en ongemanierd.

Sy maak so ’n tsk-geluidjie en skud haar kop meewarig.

Ek is ineens terug op Postmasburg en ek is tien jaar oud. Dis een van daardie bitter skaars reëndae – heerlik – en ek moet binne speel. Tjoepstil in ’n hoekie sit ek en brei ’n klein geel truitjie vir my Pixiepop, luister met gespitste oortjies na my ma en my tannie Lena se gesels.

Ant Lena kla oor vandag se kinders wat grootgemaak word vir die verderf. “Kyk nou maar hoe lyk hulle,” sê sy en trek ’n mond. “Die seuns is eendsterte, almal voor die voet! En die meisies! Floozies, sê ek jou, en snolle. Só besmeer van die kaskara, hulle lyk soos daai hondsdol Amerikaanse muishonde.” Ek laat val skoon ’n steek soos ek worstel met haar verbysterende uitspraak. Ek het geweet van eendsterte wat eintlik ducktails was. Maar wat op aarde was snolle? Vreemde diere het voor my geestesoog rondgedans: singende molle en besnorde snoeke.

En Ant Lena sê “kaskara”, maar sy bedoel sekerlik “maskara”. Al wat ék van kaskara weet, is dat dit ’n aaklige maagwerk-medisyne is wat my kêns Oupatjie by die lepels vol drink. Hy’t altyd geruik na ’n kombinasie van Borstol en snuif. En ’n derde, ondefinieerbare geurkomponent wat netsowel kaskara kon gewees het.

Oupatjie het my bietjie aan ’n verdorde voëlnessie herinner: aswit stoppels en stekels, maar met ’n sawwe verekern waarin jy ’n kuikentjie kon grootmaak. Hy’t by ons kom woon ná Kwaai Ouma se dood. En sy liewigheid het hom kort-kort by Mamma in die moeilikheid gehad, want hy’t die werfdiere byna een-een uitgeroei met sy liefde. Die kat het soms in ’n koma gegaan nadat hy en oupa ’n bottel Borstol kafgedraf het en die goudvisse het kort-kort pens omhoog op die damoppervlak gedryf ná een van oupatjie se brood-blessings.

Hy’t niemand se name meer geken nie, maar verdrietig gehuil as ek “Für Elise” op die klavier gespeel het. Soms, as ek hom troos, het hy met blye verwondering in sy oë aan my gladde kinderwang gevryf. “Rosie,” het hy dan gesê, “jy’s soos ’n rosie.”

As kind het ek sy verwondering nie verstaan nie, maar nou weet ek: In sy kindse gemoed was hy reeds vertroud met die mistigheid van dinge, met die feit dat alles verander en bly verander. Dat verandering die enigste konstante van tyd is. Aan niks kan jy vasklou nie, die tyd hol dit van binne uit. En die “kinders van vandag” is die ding wat ons daaraan herinner. My oupatjie, dink ek, het dit egter verstaan. Hy was nie bang vir my nie. Hy was betower. Ek en my jeug was nie afgang en verderf nie, maar bewys van die oneindige siklus van die lewe, van hoop.

Wat my terugbring by ant Lena: Die raaisel van die “Amerikaanse hondsdol muishonde” het my lank besig gehou. Ons plaaslike muishonde was sulke bedeesde, vaal klein goedjies met skelm ogies, iets wat jy sou verwag van intieme relasies tussen ’n chihuahua en ’n skeerbekmuis. Ek kon nie die verband na meisies getrek kry nie. Eers later sou ek ontdek sy’t na ’n wasbeer – oftewel “raccoon” – verwys.

Nietemin. Ek het die steek weer opgetel en my vas voorgeneem: As ek eendag groot is, sal ek nooit-ooit daai ding sê oor “vandag se kinders” nie.

En hier sit ek op die mooi Stellenbosch en luister hoe my tydgenote praat oor “vandag se kinders”. Hoe bederf hulle is, en gemaksugtig en manierloos. En ek wil van voor af ’n steek laat val. Nou wie de hel het hulle grootgemaak, wil ek uitroep.

En dis gewoon ook nie waar nie.

Een enkele voorbeeld: Op my dorp is die seuns van Paul Roos Gimnasium bekend vir hulle ouwêreldse hoflikheid. Hulle groet en hulle loop jou nie van ’n sypaadjie af nie, wag beleefd by ’n deur dat jy eerste ingaan, bied vir jou ’n sitplek aan. Raak jy aan die gesels met party van hulle, ontdek jy gewone seuns. Maar oulik en vol planne en cool idees. Die een wil ’n sjef word en die ander wil met okkerneute in Zambië gaan boer. Bleddie amazing, om nou ’n vandag-se-kinders-se-woord te gebruik.

En ek voel hoe die oupatjie in my hart blom en die siniese, paniekerige ant Lena krimp. Hoera vir vandag se kinders. Ek gaan koop sommer ’n bottel Borstol en roep die kat