Illustrasies Paula Dubois

Soms kyk ’n mens mos in die spieël en jy skrik skielik kliphard vir die beeld wat terugkyk.

Want normaalweg kyk jy mos nie rêrig soos in ky´k nie. Jy kyk vlugtig, terwyl jy gou tjek vir pietersielie tussen die tande en of die bolla darem nog bo sit. Of ingedagte, terwyl jy flos.

Nou die dag maak ek die fout om ’n slag te síén wat ek sien. En skrik my kaduks.

Probleem is dat ek ’n bietjie gewig verloor het en toe skielik met konsertinasindroom opgesaal sit. Jy weet mos: wanneer die konsertina wind verloor en hy hom mooi geplooi inmekaar vou. Daardie sindroom.

En dadelik dink ek aan pampoen.

Ek was klein, bitter klein. Ons het op Calvinia by my ouma Stienie gewoon. Vir ’n ekstra inkomstetjie het Ouma klere gemaak en wanneer die tannies kom aanpas het, is die lang spieël uitgehaal – daardie gruwel van ’n uitvindsel en die wortel van alle kwaad in elke vrou se lewe.

Ek moes kwalik vier gewees het, pril in my onskuld, toe ek in die kloue van daardie instrument van euwel beland. Dit sou ’n laatoggend gewees het en ek het dalk by Ouma in haar werkkamer gespeel terwyl sy ’n stuk lap aan’t stik was. Die lang spieël sou al klaar gestaan het, want iemand moes kom aanpas. Dalk het ek manewales uitgehaal voor die spieël om myself te vermaak, ek onthou nie juis nie. Wat ek wél vir seker weet, is dat ek in ’n stadium in daardie spieël gekyk en die kolle op my gesig ontdek het! En daarna moes verneem dat hulle permanent daar was. Deel van die pakket van my lewe.

My ma het die trane weggelag. En toe pleeg sy verraad.

Toe ons daardie Sondag ná kerk by my oom Danie-hulle gaan eet, word die storie aan etenstafel oorvertel. Nadat die gelag bedaar het, vra oom Danie toe of ek geweet het pampoen is so goed vir sproete – goed wetend, natuurlik, dat ek die oranje groente verafsku.

“As jy dit regkry om ’n week lank pampoen te eet,” fluister my oom Danie toe, “gaan jy sien hoe daardie sproete verdwyn.”

Ek het geëet. Langtand, aanvanklik, maar mettertyd met groter entoesiasme. En iedere aand ná ete ’n stoel voor die badkamerwasbak se spieël ingesleep om inspeksie te hou. In die dowwerige lig van die enkele 60W-gloeilampie kon ek my vas verbeel die sproete was ’n bietjie ligter.

Die Sondag daarna het oom Danie sy eie inspeksie gedoen.

Sy vinger sou oor sy Clark Gable-snorretjie gly en hy sou sê: “Hmm, lyk my daar’s vordering. Maar ek meen dit sou nóg vinniger gaan as jy bietjie patats probeer.”

Kloekmoedig sou ek my toelê op patats, besield en gedrewe. Die groenerige, kluitjierige ou knolle sou ek man vir man kafdraf daardie week. En sawens die nodige inspeksies doen en my soms verbeel daardie vlekkies lyk bietjie ligter. Dalk was die nare patats inderdaad die wondermiddel.

Maar bedags, in Ouma se duiwelspieël, was die sproete weer geil in die blom. Dan was daar weer nuwe raad van oom Danie.

Ek dink ek het die spel volgehou deur al die knolgroentes, deur al die geelgroentes en deur sommige van die verderflike peulgroentes ook. Dis toe die Brassicas op die toneel kom dat die grappie op ’n stokkie was – vir my, altans. Ek het eenvoudig ’n streep getrek by groenkool, om van sy lelike twee susters blomkool en broccoli nie eens te praat nie.

Dit het buitendien ook g’n stuk gehelp nie. Daardie sproete sit nog net so. Dwarsdeur my skooljare, my simpel puberteit, sorrie universiteitslewe, lekker beroepslewe en ander kant uit tot hier – die sproete klou. Geen salf aan te smeer nie, letterlik.

En nou is dit sproete met plooie. Geen verbetering nie, vertel die ellendelingspieël my.

Tot ek dieper kyk. Tóé sien ek dit: Dis my lewe wat daar op my gelaat sit. Alles wat ek meegemaak en beleef het. Alles wat ek geleer het, selfs al weer vergeet het. Alles wat ek liefgehad het. Ook verloor het.

Wat ek daar sien, is wat kosbaar is. ’n Hele lewe, gedra deur die eenvoud van ’n asemteug. Ek sien die wonderwerk van lewend wees, die voorreg om hier te wees. Om die son op my vel te voel, ’n kind se lag of die janfrederik se lied te hoor, om te sien hoe ek myself behaaglik inskud in ’n ou vrou se gedaante, ouer as wat ek nog ooit was.

En skielik is ek bly. Wat kan ’n sproet of ’n plooi my skeel? Ek is oud genoeg. Ek het liefgehad, is liefgehê. Ek skrik vir niks. Laat staan nog pampoen.