“Jy skiet hom met ’n skerp skoot, Manie,” hoor ek ’n man nou die dag in die ysterwarewinkel vir ’n pel sê.

“En jy moet mik, jong, want as jou korrel uit is, beland die hele spul op die vloer en dan kry jy op jou jis.”

“Geneuk,” mompel Manie. Hy’s nie van die breedsprakige soort nie, lyk dit.

Ek staan agter hom en sy vriend met die goeie korrel in ’n ry by die bitter besige Builders. Weerskante van ons is daar uitstallings van allerhande uitvindsels teen die droogte wat die Wes-Kaap teister. Ek self het ’n stuk pyp kom kry om skottelgoedwater na ’n opgaardrom te herlei.

“Ons het mos nie van die gewone toilette nie,” vertel Manie se vriend. “Die vrou wou van die nuwe soort hê wat nie soos ’n normale toilet op die vloer staan nie. Dêm ding swewe so uit die muur uit met sy watertenkie daaragter toegemessel. En jy mag mos nou nie meer spoel met drinkwater nie. Dis nou gryswater voor en gryswater agter. Jy stort in ’n emmer en daai emmer gaan toilet toe. ’n Emmer, Manie! Ek spandeer tienduisende op floating toilets en hier staan ek met ’n flippen emmer.

“En ek moet gooi, ou Manie. Sonder om te mors. Kort voor lank gooi ek almal se emmers, want die vrou kry ’n seer skouer van water dra, en toe’s dit die kinders met rugte wat skeef groei en dis dokters en inspuitings en fisio’s, en uiteindelik gooi ek álmal se emmers.”

Manie bekyk intussen ’n kontrepsie wat in stapels langs ons ry uitgepak staan. Hy tel een op; dit lyk soos ’n kleinerige aluminiumskinkbord met ’n gat in die middel. Aan sy een kant het hy ’n soort bakkie met ’n siffie bo-oor.

Useless robbiesj,” bevind sy vriend met die skewerug-kinders. “My buurman het drie van die goed gekoop. Dit pas bo-op jou standaard-toilet se waterbak, onder die deksel in. Dan gooi jy nou jou gryswater hier by die simpel lippie in en die sif moet kastig vuiligheid uitkeer lat jy nie jou stelsel verstop nie. Maar probeer jy nou om met ’n tienliter-emmer die skottelgoedwater by daai lippie in te skink. Man, daar’s meer water op die seat en op die vloer as wat daar in die bak beland.”

Manie sit maar weer die verguisde ding met die onbruikbare lippie neer.

“En die vrouens het mos ’n ding oor ’n nat toilet. Daar by my moes ek oefen, jong. Dit klink vir jou na niks. Maar jy moet weet hoe gooi jy vir wat. Want daar’s verskillende gooie vir verskillende goed. As dit nou net … hm … nommer een is, dan tjirts jy hom met so ’n halfemmertjie. Jy mik op ’n presiese kol op die porselein. Dan tjirts jy.”

Die ry skuif weer ’n entjie vooruit as twee kêrels met ’n hengse trollie vol pompe en pype wegstap.

Die skerpskieter kyk die trollie met ’n klipoog agterna. “Nog twee bleddie fools wat gaan put grawe, ou Manie,” sê hy onderlangs. “By my in die buurt het elke hond en sy maat ’n put. Of ’n boorgat, of liewerster al twee. Asof geld niks is nie. Een ou bou vir hom ’n hele vleiland met vore en kanale en plante en parras en what not. Alles in die agterjaart. Hy wil van die munisipale grid af sê hy.” Manie skud sy kop meewarig.

“By my is dit skeisake as ek misskiet met daai emmer. As dit nou … hm … nommer twee is, jy weet, dan gooi jy héél-emmer. Jy mik so op die voorkant van die porselein, anders karring jy eintlik maar net die besigheid daar onder so bietjie deurmekaar. Gooi jy te hard, dan spat die spul...”

Manie, sien ek, het genoeg gehoor. Hy’t die waterpompie wat hy in sy hande gehad het, netjies tussen die afgekeurde skinkbordjies neergesit en loop deur se kant toe met ’n selfoon teen die oor.

Die skerpskieter kyk bietjie verbluf agterna. Dan gewaar hy my en wil-wil nader staan, ’n gulsige geselsblik op sy bakkies. Ek plak my pyp langs Manie se pompie neer. “Verkeerde pyp,” hoor ek myself hardop sê.

Dan maak ek my ook uit die voete. Agter ou Manie aan. Illustrasies Paula Dubois