Ek sit rustig by ’n straatkafee en teug mondjie-vir-mondjie aan ’n peperduur Stellenbosch-cappuccino. Uit die hoek van my oog gewaar ek ’n man wat sukkel om ’n baba in sy karstoeltjie vasgegespe te kry.

Mens wil lag kry, want mans wat sukkel met kontrepsies is snaaks. Dan sien ek hy is bejaard, heel moontlik die oupa, en waarskynlik nie gewoond aan hierdie soort veiligheidsritueel nie. Die kleintjie sit natuurlik ook nie stil nie en dit dra by tot die sweet wat oor die arme man se lyf uitslaat.

Hy’t ’n leesbril aan ’n toutjie om sy nek, wat hy kort-kort opsit om die ingewikkelde gespes van die stoeltjie te betrag, en dan weer afhaal. Die baba bly gryp na die swaaiende bril en oupa moet mooi kophou tussen keer vir sy bril en keer dat diekleintjie uit die stoeltjie uit foeter.

’n Karwag staan eenkant teen ’n muur aangeleun en toekyk. Aan sy gesig kan jy sien hy’s besig met ingewikkelde tydsberekeninge oor wanneer presies hy moet toetree om dalk ’n geldjie te verdien.

Iemand spring hom egter voor en hy suig weer teen die muur vas. Maar hy hou dop.

Dis ’n jong man wat hulp aanbied, op die oog af ’n student en van die hoofseun-soort wat graag sy spierkrag inspan om klein katjies uit bome te red.

Die oom kom stram orent. Hy staan nou al goed tien minute lank so gebukkend in die oop agterdeur van sy motortjie. Sy gesig is bloedrooi gespook. En nat. En die pyn word sigbaar wanneer hy sy rug regop strek.

Die ywerige jongman neem sy plek inby die babastoeltjie. Ek kan nie goed sien wat hy doen nie, maar dit lyk nie of hy regkom nie. Sommige stoeltjies, herinner ek my, het twee stelle gespes wat moet vasklik – die een vir die kruisbande oor die skouers na die maag en die ander een vir die band wat die sitvlak anker. Een werk dalk soos ’n gewone sitplekgordel wat net inglip, terwyl die ander weer in ’n ander koers werk met grypers en knypers en dies meer. En tensy jy presies weet hoe, fnuik daardie gespes vir jou tot die koeie huis toe kom.

Die student werskaf vir ’n geruime tyd, maar dit smaak nie hy maak vordering nie. Kort-kort lig hy een van die baba se arms en ryg dit iewers in. Dan is dit weer ’n voet of ’n knie. Uiteindelik lig hy die hele baba op en probeer hom van bo af te laat insak by die regte gate in die gordelnetwerk. Maar verniet.

Dan begin die baba huil. Hy’t kennelik genoeg gehad van die swetende manne en die geheen-en-weerdery met sy ledemate.

Oupa vat weer oor en die jong held staan tru, effe afgehaal, heelwat minder kordaat. Vanuit die kar word die gehuil al hoe hewiger. Oupa probeer nou om die ganse agterbank met stoeltjie en al uit die kar te lig, want die kleintjie sit vas.

Die student loop om en gaan buk anderkant in. Nou’s dit vier lomp manshande wat daar binne werksaam is en dit klink nie of dit die baba geval nie. Hy skree blou moord.

Die karwag staan nader en ek hoop heimlik nie hy gaan nou iets probeer sê nie, want oupa lyk nie in die stemming vir kommentaar nie. Dan is die baba los en die oupa lig hom al gillend uit die kar uit en prop hom summier in die karwag se hande.

Met donderweer op sy gesig duik hy terug die kar in: dis nou of nooit tussen hom en die steekse babastoeltjie. Hy en die student spring aan die werk.

Die baba is skoon stil van die skielike handewisseling. Hy hang in die karwag se hande soos ’n nat kat. Die twee kyk mekaar stomverbaas aan. Nét voor die kind weer begin skree, kom daar ’n jong moeder met ’n stootwaentjie verby. Sy aanskou die petalje, vat die baba by die wag en tik vir oupa op die skouer.

Sodra hy regop geknars het, buk sy in en laat gly die baba gladweg in die stoeltjie in en klik hom vas – tjoeps-tjoeps. Sy glimlag liefies en stap verder, met drie mans wat haar verbluf agterna kyk.

My peperduur cappuccino het intussen koud geword. Maar ek bestel roekeloos ’n nuwe. Dis veel goedkoper as ’n fliekkaartjie, besluit ek tevrede, en bied topklasvermaak. Want ek gewaar reeds nuwe aksie: ’n buitelandse toeris, sy gehuurde fiets en ’n hardnekkige kettingslot ...