My ma was streng met woorde. 

Ek het altyd die idee gehad sy kan hulle fisiek sien. Hul onstigtelikheidspotensiaal van ’n myl af inskat om betyds die skansmure op te werp.

Reg rondom die huis, het ek my verbeel, was daar onsigbare bordjies op die ogiesdraadheining: Verboten. Net sy en die nare woorde kon dit lees. Die voorhekkie, een van daardie soort wat ’n mens destyds by die koöperasie gekoop het, het ’n spesiale skree aan sy skarniere gehad. In my kinderlike wysheid het ek geglo dis een van Ma se waarskuwingsirenes. 

Want my ma was immer paraat. Selfs wanneer sy rustig gelyk het – in haar koel werkkamer met haar naaldwerkraam opgestel, tientalle kleure gare rondom haar uitgepak. Soos ’n ou Rembrandt-prent het sy dan gelyk terwyl haar naald skakerings van blou weemoed op ’n oortrokke seetoneel weef.

Selfs dan was die een oor gespits.

My ouer sussies in die kamer langsaan kam mekaar se hare voor die spieël. “Eina, jou blerrie,” roep die een.

“Kinde-e-e-ers,” sou my ma vermanend roep, ’n ligte frons op die fynporselein van haar blas, adellike voorkop. Sy het diepgroen oë gehad. Verleë. Kwesbaar. Tot hulle ’n “skuins” woord gewaar.

“Sién jy nou,” sê my oudste sus. “Gee terug die borsel.” “Ag, jou boude, man.”Dié keer steek my ma haar vinger raak. My ma se kinders het ’n ander woordeskat vir onder-die-rok-goed gehad. Ons meisies het byvoorbeeld nie “broekies” gedra nie, maar “skirtjies”. Hoe sy dááraan gekom het, weet nugter.

Ons kinders het ook nie ge-wiewie of gepiepie of ge-nommer- een nie. Ons het eerstens gefluister as daar behoefte was. En tweedens wou ons dan ’n “draaitjie maak”. Let wel, nie “loop” nie, dit was vir grootmense. 

En nommer twee was om “’n drukkie te maak”. Hemel behoed, vandag se kinders lag hulle gatte af. Askies, Ma.

My beste maatjie se pa was die predikant. Hy was ’n stil, skaam man, maar in staat tot grondelose drif op die kansel. “Verdóémenis” was sy wagwoord. En dis waarheen die nare woorde met ons op pad was. Mits Ma op haar pos was.

Dis die klein jakkalsies ... sou sy verduidelik. Ek dink sy het verwys na die kamma-sawwe woorde van ander kinders se huishoudings. By ons het ’n meisie ’n “dingetjie” gehad. Maar by my maatjie se huis het hulle ge-“kwakkie” en ge-“paddatjie”. Daardie woordjies het my ma laat frons. Met “muis” het dit ook nie beter gegaan nie. En “tossie” sou sy voet nie oor ons drempels waag nie. Verdóémenis toe met hulle. 

Die mans se privaat goed het gewoon nie woorde gehad nie. My kleinboetie het eendag van die skool af teruggekom en genoem sy maat se ma sê as hy nie ophou om so baie aan sy p**letjie te vat nie, gaan dit afval. Sommerso, aan etenstafel, blaker my boetie dit uit. My pa het in sy afvalsous verstik en my ma het iets met haar vurk gedoen wat my boetie laat wip het van die skrik. Tot die aand nog kon ’n mens die rooi tandmerkies op sy handjie sien. 

Uiteindelik het my boetie en sy matertjies almal “puntjies” gehad. En soms, net soms, sou ’n “pypie” dit verby my ma se wakker ore maak. Vir die res was die wêreld weer reg.

Tot my ouma die ding oor aspersies sê.

Dit was toe daar ’n reisende kunstenaar by ons op die dorp aangekom het, ene Gerrie Bosman. My pa besluit toe ons huis moet ’n regte prent kry en nooi die kunstenaar om skemeraand te kom wys wat hy het. 

Ma bak dainty vleispasteitjies en pak ’n bord uit met hardgekookte eiers, kouevleise en duur, geblikte aspersies. Daar verklaar Ouma toe luid sy sit nie haar mond aan daardie bleek goed wat soos “bobbejaanpeesters” lyk nie.

Die porselein van Ma se voorkop kreukel. En toe vra my boetie as Ouma nie bobbejaanpeesters wil hê nie, wil sy dan nie ’n eina-m**rsk*ntjie hê nie?

Nou bars die porselein. “Boetie!” sê my pa.

“Dis wat Mamma hulle genoem het toe sy hulle uit die oond uit haal!” 

Gerrie Bosman het die saak gered: “Ék wil graag ’n oondmonstertjie hê!” het hy uitgeroep. En toe bied hy ’n gratis sonsondergang by die prys van die blommende doringboom aan. Wat my pa met blye dank aanvaar en my ma mee koudgelei het.

Vandag sukkel my ma om woorde te onthou. Enige woorde. Gelukkig onthou die res van ons. En is eina-oondmonstertjies ’n standaard-familiegereg.