Illustrasies Paula Dubois

Sit ek nou die aand met vriende om ’n pot lamsbredie en die Derde Wêreldoorlog breek uit.

Dis ’n kakofonie van ’n ander aard, want ons stry en baklei oor die politiek. En toe ons daarmee klaar is, toe is dit die ekonomie. En toe word dit die misdaad.

“En ek’s sommer klaar met koerante ook,” verklaar Koos, ’n boer met hande soos ploegskare. Hy kap met een van die ploegskare op die tafel en die kerse wip in hulle blakers. “Dis net skandale, rampe en ellendes. Die oomblik dat ek die koerant oopmaak, sak my gemoed tot onder my blerrie blaas.”

“Moenie simpel wees nie,” gooi ek verontwaardig terug, “die koerante máák nie die nuus nie, hulle rapporteer dit. Of verkies jy jou nuus in strikkies toegedraai?”

Die res van die geselskap storm dadelik in op die koersverandering. “Gee vir hom Die Burger met emoji’s,” roep Jeanette, ’n dokter met rooi hare, “dan sal hy minstens die politiek beter verstaan.”

Groot gelag. Die ploegskaarhand dink nie dis snaaks nie, want dit klem ’n bietjie witter om die rooiwynglas. Uiteindelik kom die repliek: “Daar’s nie genoeg prentjies vir my almintige intelligensie nie.”

“Almintige ydelheid,” piets sy vrou terug. “Weier om sy leesbril op te sit, maar hy wil hiep wees met die kleinkinders. Dan stuur hy ’n boodskap wat sê hulle moet kom roomys eet, maar hy sit die poefie-emoji daarby. Anderkeer wou hy ’n perd stuur, maar hy stuur ’n poedel. Toe weer moet hulle kom help vrugtebome snoei op die plaas, maar hy stuur ’n prent van gekruisde moersleutels en ’n broccoli. Klein Koos laat weet hy’s reg om die groente te kom opskroef en almal stuur lag-emoji’s en die pater familias is oornag bokkapater.”

“Goed’s te blerrie klein,” mompel die ou, “g’n hond kan dit uitmaak nie.”

“Dis blykbaar die vinnigs groeiende taal ter wêreld,” sê Jules, die besadigde, slim joernalis onder ons, “met ’n amptelike woordeskat van oor die 3 000 prente wat internasionaal deur ’n spesiale unikode-komitee gereguleer word. Hulle standaardiseer dit en hou dit netjies en polities korrek. Onlangs nog moes die geweertjie (geweld) uit en met ’n waterpistooltjie (kamma-geweld) vervang word. En daar was die gewigtige kwessie van die seekoeie. In Afrika is dit uiters gevaarlike diere, wat verreweg die meeste mensesterftes veroorsaak. Maar vir die res van die mensdom is hulle oulik en vol ‘metaforiese potensiaal’, soos ‘ek voel vet’ of ‘ek’s lus vir niks buiten ’n tweeliterbak roomys en al tien reekse van Friends nie’.”

Koos se vrou is skepties. “Met of sonder seekoeitjies is dit nare goed, veral sommige.” En dan begin sy die vabonde uitpak, soos bewysstukke in ’n moordverhoor: die verraderlike hartjie en al sy flerries, veral die hartjie-met-lintjie-en-strikkie; en die laggende katjie met hartjie-ogies. Opperste skurk is die smaailie wat ’n soentjie blaas. “Daai goed hoort in ’n bakvis se dagboek, nié in ’n grootmens se omgangstaal nie. Dit maak ons dom. Ons hele woordeskat verdwyn in ’n swart gat van hasies en hondjies en soentjies.”

Skielik baklei niemand meer nie. Ons bepeins die swart gat en die woorde wat soos verlore siele daarin verdwyn. Ons probeer ’n paar onthou, tel hulle liefderik af soos gebedekrale.

Mooi woorde soos “boordensvol”. Uit so ’n woord bloei daar ’n groen lap perskebome op, goudgestip en geurend in die hitte van ’n Klein-Karoo-somerson. En outydserige woorde, soos “meewarig”; en “toegeneë”, wat seënryke beelde van salwing en omarming oproep, van opregte medemenslikheid.

En “somber”: Jy sien sommer die lang skaduwees van ’n eensaam skemeraand, of ’n stil vertrek waar pynlike afskeid nog draal. En wat van “trawal”? Ken iemand hom nog? Hy wat so gebuk gaan aan aardse bemoeienisse, die sleur en strawasie van ons daaglikse bestaan.

Ou Jules ruk ons bietjie terug uit ons nostalgiese gejammer. “Mense is oor die algemeen eintlik maar lui bogghers, hoor. Daar’s twee miljoen woorde in Engels, maar die gemiddelde Engelsman ken net so 20 000 tot 30 000. Niemand het tyd vir lank lees of skryf nie. Ek hoor nou die dag Moby Dick, die klassieke verhaal oor die walvis, is nou volledig in emoji’s vertaal. En die nuwe ding is stiekers – bewegende katjies en beertjies en konyntjies, glo vir ekstra gevoel.”

Die ploegskaar lig sy glas gewigtig. “Vriende, medetaalgenote. Die swart gat is ons voorland. Kom ons arriveer dronk. Cheers!”

“Cheers!” roep ons en drink