Amper Februarie en die jaar hol al weer onder ons uit, hoor ek ’n vrou in die winkel vir haar vriendin sê. 

“Jy weet dan,” sug die vriendin. “Ek wou nog nuwejaars-voornemens maak, toe’s dit te laat.” Sy klink moeg, soos een wat daagliks ’n dieseltrein teen die Dutoitskloofpas moet uitsleep.

Haar maat knik. “Voornemens se voet. My Jakob het die vermetelheid om hulle namens my te maak. So kry ek mos vir Kersfees ’n gimkaart!” 

“Oukeeeeei,” glimlag die trein-sleepster afgemat. “Jy kan dalk bly wees dit was nie ’n grassnyer nie. Gaan jy dit ooit gebruik?”

“Ek moet seker, hemel weet. My maag is besig om my ribbekas plat te stoot. En nou’s Januarie klaar in sy kanon en die gim het my nog nie met ’n oog gesien nie. Ek sê elke keer Maandag; ek begin Maandag. Maar jy weet hoe dit gaan.”

Ek knik sommer saam, al is ek nie deel van die gesprek nie. 

Ek sit ook met ’n hele kas vol “maandags”. Ry op ry sit hulle daar, soos ouderlinge in ’n kerkdiens sonder einde.

Voor in die koor sit al die pasbekeerdes, algemeen bekend as die Hierdie-Maandag-geroepenes. Dis ’n vrome lotjie, losweg saamgestel uit minder-rooivleis-eters, voortaan-vroeër-opstaners, mindfulness-roetine-soekers, Facebook-geheelonthouers, minder-skermtyd-apostels en eie-groentetuinkwekers. Almal in uitrustings wat jubel van omgewingsvriendelikheid, antikapitalisme, antiverbruikerskultuur en pro-sosiale bewussyne. Vreeslik sjiek. Sonbrille uit herwinde broodsakkies en sokkies van hennep. 

Agtertoe sit die veterane-delegasie onder die ervare leiding van Meester Volgende-Maandag. Dié groep se klere is nie sjiek nie. En dit ruik motballerig. Hulle sit al lank daar, ervare leiding ten spyt. 

Agter die veterane sit daar nog ’n rytjie, die über veteraan-oudstryders, almal in laphoedjies en handgehekelde onderbaadjies. Hulle hoort by die afvaardiging Vóólgende Maandag en is deel van ’n baie bekende tweestemmige spreekkoor: 

Tenore: “Wat is julle?”

Basse: “Ons is dik en lui.”

Tenore: “Wanneer hou julle op?”

Basse: “Maandag.”

Tenore: “Môre is Maandag.”

Basse: “Vóólgende Maandag.”

Wat is nou so besonders aan ’n Maandag, sou jy tereg kon vra. En ek sou kon voorstel dat dit alles met logika te doen het. En sielkunde. 

Daar is iets inspirerends aan ’n begin wat by die begin begin. Iets bemagtigends, energiegewend. Dinsdag doen dit nou maar eenmaal nie vir ons nie – dis so half tweede beste, nie waar nie? Woensdag, weer, is so ’n ou innie-mirrel-Cyril-moffel-mê-geval. Donderdag is jy te gespanne oor alles wat nog gedoen moet word teen Vrydag. En Vrydag is natuurlik die dag waarop jy alles afknyp en klaarmaak. Daarna lê die groot slapte van die naweek voor. Geen geestesgesonde mens begin iets behoorliks op ’n Vrydag nie. 

Maandag hou vanselfsprekend in dat jy met ’n skoon lei begin. Voorbeeld: ophou-lekkers-eet-Maandag. Jy maak eers die bestaande voorraad op. Jy eet alles wat in die kaste oor is (weggooi tel nie, snaaks genoeg, dit word as kierang gereken). Jy sorg gewoon dat jou huis en jou kar en jou broek- en baadjiesakke, jou handsak en selfs rekenaarsak lekkergoedvry is. Onthou, ons begin met ’n skoon lei.

As jy deur die loop van jou skoonlei-Maandag per ongeluk sondig – ’n stuk sjokoladeverjaardagkoek trek jou tienuur by die werk plat – dan is die hele spel verbreek en kan jy vanselfsprekend eers weer Vóólgende Maandag begin. 

Nou is dit ongelukkig so dat die meeste maande net vier Maandae het. En as jy in gedagte hou dat jy minstens één Volgende Maandag en een Vóólgende Maandag gaan nodig hê, raak jou beweegruimte vir Hiérdie-Maandae werklik beperk. Voor jy dit weet, is die Maandae opgebruik en sit jy op die glybaan na die gevreesde Volgende Maand. En so hol die hele jaar kierts-kierts onder ons uit.

Maar ontspan. 

Vir eers het jy nog ’n hele paar Volgende Maandae vir Februarie in die bank. En dan moet jy nou maar sielkundig beur oor jou eerste Volgende Maand (dit gebeur in die beste families, hoor). Maar einde Maart kom jy voor jou eerste Volgende Kwartaal te staan. Die tweede Volgende Kwartaal is Junie tot September en die laaste kwartaal tel nie, want hy het nie ’n Volgende Kwartaal nie omdat jy klaar op die stoep van Volgende Jaar geparkeer staan.

Ek weet nie van jou nie, maar vir my is dit alles doodlogies. Ek sorg intussen dat die kaste leeg is, want ek begin mos nou Hierdie Maandag.