’n Buurvrou kom hier aan met ’n bakkie vye, die ander dag toe dit bedroewend met my gaan.

Adamsvye. Lieflingskos. Eintlik swart van persgeit, plomp en gul. Vol soet beloftes.

Normaalweg sou my bek só van’t water wees dat ek skaars my dankwoord kon uitkry voor ek die mooi geskenk aanvaar. Maar dié keer was dit anders. Want my hart was blou en kleingetrek.

Eers toe die goeie gewer weg is en ek en daardie bakkie vye mekaar in stilte betrag – hulle in hulle se wulpsheid en ek vanuit my dorte – kon ek voel hoe iets hier in my binneste tóg roer en skietgee, en oopmaak vir die lig. Want ’n vy is ’n diep ding. Vol inbors en adel, Bybelse dimensies en ou geskiedenisse. Ewe tuis in die beringde hande van ’n koning Dawid as dié van die nederige man van Nasaret. En die vy kom mos al ’n lang pad, sedert hy die skaamte van Adam moes bedek, of hoe?

Die evasvy is ’n unieke Suid-Afrikaanse kultivar, dra sulke pieperige ovaalvormige vruggies met ’n groen-pers skilletjie en gelerige binnevlees. Hy lyk suinig, maar hy’s soet. (Of is dit ’n sy wat so soet is?) ’n Ander inboorling is die koffievy, oftewel Kaapse swartvy, wat ’n mens glo skil en al eet.

My ma het kleintyd, toe ons in die Groot-Karoo gebly het, probeer om die skil-en-al-manier van vy-eet by ons in te prent. Mens mors nie met skaars goed nie, het sy gesê. Ek, getroue soet kind, het die metode aangevat, maar die ander kinders het geweier. Dan eet hulle liewer groen kwepers met hulle kale tande, het my oudste suster snipperig gesê.

Ons het self nie ’n boom gehad nie, maar die dorpsdokter skuins oorkant het vye gehad waarmee hy deelsaam was. Makvye, soos hulle tóé genoem is. Allerlei soorte. Adamsvye en Smirnas. En trosvye en Kaapse bruinvye en Kadota, die meer algemene groenerige soort met die dik stingeltjie en die druppel nektar wat onder uit sy vrugogie traan.

Anders as Ma, was my pa ’n skiller. Met sy groot, growwe hande het hy omtrent ’n aanskoulike ritueel daarvan gemaak: eers liggies sy vingers oor die ronde lyfies laat gly en so hier en daar gedruk-druk tot hy een met die regte soort sawwigheid kon raakvoel. Dan sou hy hom van onder sy bril bekyk en met groot konsentrasie die nekkie knak en stadig, heel versigtig die skilletjies aftrek tot die vruggie naak en klam en weerloos op sy bordjie lê.

Ma was minder geneig om die gratifikasie uit te stel. Sy sou hom tussen twee duime oopbreek en sy korrelrige soetigheid gulsig opslurp tot daar net die stomp stertjie oorbly, dit op die randjie van haar bord neerlê terwyl haar oë klaar na die volgende ene soek. Mens sou dink dat sy op ’n kol moeg kon raak vir vye, want sy’t in haar lewe baie van hulle bewerk. Geskil vir fynvyekonfyt of die jonkies van die eerste drag oornag ingelê in koeksoda en dan so heelhuids saam met gekneusde gemmer opgekook vir ingemaakte groenvye.

’n Koningsboom, het die oumense van ’n vy gesê, ’n boom met ’n sweem van heiligheid. In die Ooste word die baniaanvy deur die Boeddhiste hoog geag. Aan hierdie kant van die aardbol is die vy dikwels die boom van oorvloed en van God se goedertierenheid. Want hy dra mos twee keer vrugte in ’n seisoen. Die Bybel wemel van verwysings na die vy – beginnende by die Sondeval en enduit tot by Openbaring, waarin ’n allervreeslike voorspelling van ellende gemaak word, ’n dag waarop die son swart word, die maan word weer soos bloed, en die sterre van die hemel wat op die aarde stort soos ’n vyeboom wat deur ’n magtige wind geskud word en sy drag laat val.

Vir my was die son maar swart dié dag toe my buurvrou hier aankom met die bakkie vye.

Maar met die oopbreek van die eerste vy en die grinterige soet smaak op my tong kom die onthou dat dit ’n vrug van troos is. En van genade.

Nou nog word ’n pap van gedroogde vy gebruik om kwaad uit ’n sweer te trek. Die ganse boom is deug. Die groot, gelobde blare maak van hom ’n waardevolle skaduboom. In Israel van ouds is sy digte skaduwee gereken as “aangenamer en koeler as dié van ’n tent”. En iewers is daar die belofte dat “elkeen wat onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit” die vrede en die rus sal ken.

Want ’n vy is ook mos nie ’n vrug nie. Dis eintlik ’n blom, ’n bondel stampertjies en meeldrade in ’n vlesige kombersie toegevou.

En wat word ’n mensehart ’n bietjie heler, ’n bietjie ligter as jy ’n blom kan eet.