Dis skaars Februarie en ek het klaar al my nuwejaarsvoornemens gebreek.

En nou praat ek nie eens van my núwe nuwejaarsvoornemens nie. Ek praat van die oues, die ou klompie mufbekponies wat elke jaar uit die stof der eeuwe gesleep word. Holrug en vaal van verveling kom hulle te voorskyn. Dan pôlliesj ek hulle so bietjie met ’n onrealistiese dagdroompie of twee. Maar voor jy kan sê mes, hobbel hulle terug daar na die katekombes van my onderbewuste.

Ek verwys nou na die goue oues soos: meer oefen, minder brood en soetgoed, nooit meer vloek of lelik praat nie. Langste wat die lelikpraatvoorneme al by my gehou het, was ’n oggend, presies tussen wakker word en brekfis. Jy ken dalk daardie gevoel: Jy’t nog bietjie hangore van gisteraand se oujaarvergrype en daar’s skielik pyne op allerlei onverklaarbare plekke oor jou liggaam (een jaar was dit erge boudpyn tot ek onthou dat ek die vorige aand per ongeluk ge-twerk het toe ek wou twist. Berge bedek my ... ).

Dan onthou jy die groot bravade waarmee jy gisteraand jou voornemens uitgerunnik het – aan dese en gene – en jy besef ineens jy’t regdeur jou eerste ligte draffie van die jaar geslaap. Nou werp die eerste vroom voorneme homself onder die spreekwoordelike nuwejaarstrein in. Want jy uiter ’n vloekwoord.

Kadoefie. Die eerste ponie byt in die stof.

Teen die tyd dat jy die kombuis binnestrompel, val die volgende ene: Jy haal ’n sny brood uit die trommel.

Kadoefie nommer twee.Nou kom die lelikpratery. Dit gebeur ná jy vir tien minute staan en toekyk het hoe die bejaarde rooster jou sny brood éérs ignoreer en dan, in die elfde minuut, blitsig verkool. Jy laat glip iets lasterliks teenoor die dêm ding. Maar sy onverstoorbaarheid laat jou oorkook. Jy smyt die volgende sny brood in, druk die ou hefboompie met brute geweld af terwyl jy vir woorde uit die antieke Sanskrit gaan soek om die patetiese patent mee uit te skel. Jy vertel vir hom hoe daar binnekort al mense op Mars land, dan sukkel hy steeds om ’n simpele sny brood op te warm.

Uiteindelik sit jy met ’n bek vol koue toast en ’n wrokkige gemoed. Dan kom die selfinkriminasie – oor jy te beroerd is om ’n nuwe blerrie rooster te gaan koop. Dis oor jy nie jou prioriteite reg het nie, raas jy met jouself. Oor jy in die algemeen nie genoeg orde het nie. Jou kaste is deurmekaar, die blikkieskos is jarre verby die vervaldatums en jy’s altyd onkant met kerse as daar beurtkrag is.

Jy kry sommer lus en draai net hier om, terug oujaar toe. Agter die ponies aan.

Die nuwejaarshaan het nog skaars gekraai, en jy’s klaar by moedverloor. En moedverloor is ’n adderse ding. Hy werk soos ’n kragtige spierverslapper, trek alle brieke los. Nou’t jy al soveel reëls oortree, jy kan maar netsowel die hele boel laat vaar.

My ouma Stienie het daarna verwys as die broekrekskieter: Jy dag nog jy sit op die morele bogrond, dan sit jy al op die enkels van die hel.

Gelukkig is ek ’n optimis en beur myself weer op met núwe nuwejaarsvoornemens. En ’n nuwe stel reëls. Nommer een is natuurlik om jou bek te hou: Die oomblik dat jy jou voornemens uitlap, jinx jy dit. Dit word nooit waar nie, plus jy word knaend deur ’n ieder en ’n elk betig as jy oortree. Nommer twee is babatreetjies: As jy die lat te hoog stel, gly jy verseker onderdeur. Nommer drie is aansporing: Jy volg die wortelmetode eerder as die stok. Beloon jouself vir goeie gedrag.

Soos om meer bedagsaam te wees. Eers net met die toaster. Babatreetjies, oukei? As jy slaag, kry jy een sny brood. As jy ’n nuwe rooster gaan koop en nie befoeterd raak oor die rowerspryse nie, kry jy konfyt op jou volgende sny. Nou traai jy jou bedagsaamheid in die verkeer: Niemand word lelike woorde genoem nie; die ergste wat oor my lippe kom, is “maaifoedie”.

Nou ja. Normaalweg hou ek tot die skole begin en al die maaifoedies weer terug is van die see af. Dan’s dit een rigting ondertoe, en kry die stomme ou ponies daar onder in die katekombes weer nuwe maats by. En ek? Ek moet maar sien en kom klaar, op my eie deurdruk na volgende Januarie.