Illustrasies Paula Dubois

Kom Septembermaand en ek merk ineens die kleingoed wat met lentekleertjies skool toe gaan. Ons grotes gaan ons gane, bejas en beserp, en smoors vroeg blaas ons lang, wit pluime asem in die dun oggendlug. In die Eikestad staan die ou akkers nog met kale kneukels na die lug en gryp, maar die kinders maak lentebloeisels van papier.

Ek onthou die koue van lentedagvierings uit my eie jeug in die noordweste van die land, selde warm genoeg om sonder truie aan te durf. Dan is die nare ou ooswind van Augusmaand ook nog lank nie klaar met sy duister martelwerk nie. Meedoënloos is hy, sonder asemskep of rus. Die ganse wêreld word ’n vaal waas van stof.

By die skool sing ons “Kom lente, liewe lente”, maar buite is die velde wragtag allesbehalwe vrolik.

My ma wou altyd gaan blomme kyk daardie tyd van die jaar. Sy’t gedroom van tent opslaan in ’n see van botterblomme en madeliefies. En van ’n mooi bont tafeldoek wat oor ’n kamptafeltjie oopgesprei word en waarop daar vrolike blikbekers koffie uitgepak word, en vleistoebroodjies, asook ’n leë konfytflessie vol pers kalkoentjies en geelkatsterte. Ons kinders sou tussen die pietsnotte en die bobbejaansurings baljaar en Mamma sou blomname in haar Namakwalandse blommegids aftik en aanteken.

Daar het egter dadels van gekom.

Ek was al dertig toe ek vir die eerste keer die kans gekry het om die Namakwalandse blommeparadys te gaan beleef. Ek het in Johannesburg gewoon en moes ’n tydskrifartikel daaroor gaan doen. My kop was gevul met Mamma se visioene van vlaktes vol fleurige kleurigheid, van blomme met liefnaampies soos kappietjies, viooltjies en weeskindertjies en skaam, skaars lelietjies en uintjies en piepklein orgideë. Dwarsdeur die Vrydagnag het ek gejaag – deur spokerige klein dorpies met toe kafees en eensame kerktorings – vol uitsien na die skouspel wat op my gewag het.

Maar daar was g’n skouspel nie. Want daar was nie blomme daardie jaar nie.

Bekaf het ek teruggery en maar ’n storie geskryf oor die nonnetjies van Pella se Katolieke sendingkerkie op die lip van die Groot Gariep net noord van Pofadder (’n dorpie wat toe nié na ’n slang genoem is nie, maar na ’n belangrike Koranna-kaptein van vroeër). Die redakteur was teleurgesteld, maar nie naastenby so erg soos my liewe ou moeder nie. As sy dit dan nou self nie kon beleef nie, wou sy minstens hê haar dogter moes.

My volgende besoek was ook in ’n maer jaar. Ek was deel van ’n groep amateurfotograwe wat Kamieskroon toe is om by die befaamde ant Colla Swart, destyds die hoteleienaar van die dorp, te gaan les neem. Maar die reëns was laat daardie jaar. Ons het die Kamiesberge ingevaar en naderhand maar die klippe afgeneem, want daar was g’n blom te besigtig nie. Mamma weer teleurgesteld.

Die jare – nee, dekades – neem daarna hul loop en ’n mens vergeet so half van die ou versugtinge. Maar skielik, in die aanloop tot hierdie September, besluit ek: Not-’n-dêm, ek sit nie weer hier soos ’n piephoender in die Kaapse laatwintersgeid nie. Ek gaan blomme kyk, die siel opbeur. Die koerante sê hoeka dit gaan ’n kroonjaar wees, want die reën het gekom en hy’t op die regte tyd en plek gekom. Die Namakwaland gaan welig word.

Vir Ma is dit helaas te laat. Haar bene wil haar nie meer dra nie en sy sien skaars kans vir badkamer toe stap.

Bietjie hartseer gaan grawe ek in my boekekas vir blomgidse en kaarte en kom op ’n stokou boekie af met haar naam voorin: Namakwaland, Veldblomgids 1988. Ek blaai deur die vergeelde blaaie, kyk na die merke wat sy gemaak het by die Gansogies en Feeklokkies. ’n Opgevoude vel papier val uit: Dagprogram van die Driedae-Toer na Namakwaland, Augustus 1998. Dag een, sien ek, begin met koffie by Kardoesie in die Piekenierskloofpas, gevolg deur ’n besoek aan die Ramskopnatuurtuin en oorslaap op die plaas Bitterfontein. Die volgende dae behels onder meer ’n donkiekarrit op Kotzesrust en “besonderse vetplantjies tussen die kwartsietklippies op die Knersvlakte”. ’n Stil blydskap kom sit in my bedrukte hart: Ma wás toe daar.

Ek wens ek kon haar vra of sy toe op daardie donkiekar was, die “besonderse vetplantjies” van die Knersvlakte gesien het. Maar ek weet sy weet nie meer nie. Die Auguswind woon nou in die holtes van haar geheue.

Tog, op die rugkant van die toerprogram sien ek ’n aantekening: “Donkies vet en lui, blomvervreet. Die Liewe Here Sélf het tuingemaak!”