Ek het ’n tante gehad wat geglo het ’n mens moet vroeg in die nuwe jaar ’n goeie huil inkry. Dit help glo baie. Vir wát alles, het sy net nooit gesê nie en ek skat die geheim is saam met haar graf toe.

Ek moes weer daaraan dink toe ek die afgelope feesseisoen ’n kind betrag wat in ’n supermarktrollie sit en huil. Dit was nie ’n groot, driftige bui nie, meer so ’n droewe, B-mineur-huiltjie, bestendig begelei deur groot, gesonde trane. Jy kon sien hy huil nie uit nood nie, hy was besig met die groter laste van die wêreld. Sy moeder, warm en vermoeid, laat hom wyslik begaan. Al met die blikkieskosrakke langs sit en huil hy so, verby die rys en pasta tot reg onder by die Omo-specials. Dan verdwyn hulle om die hoek en uit my gesigsveld.

’n Goeie huil op sy tyd, vertel ’n vriendin wat ’n sielkundige is, is ’n belangrike oorlewingsinstrument. Dit ontlaai die siel en die gemoed. Dit wek ook empatie en skuilte by ’n ander. Dis ’n evolusionêre wonder, steeds grootliks beperk tot die menslike spesie. Ons is veral die enigste wat kan trane stort.

Wolwe huil, ja. En honde. Maar hulle huil nie trane nie. Daar’s dalk ander soogdiere ook wat huil, wie weet.

Ek weet rotte kan lag. Regtig. Wetenskaplikes het ’n masjien ontwerp wat die frekwensie van rotlag kan opvang en hoorbaar maak. Dan kielie hulle die rotte en jy kan dit hoor. Maar van huil weet ek nie (dalk is ’n ander masjien daarvoor nodig).

Die rot se grootfamilie is walvisse. Kan húlle huil? Wie weet, want hoe meet jy trane by diere wat reeds daarin swem?

Krokodille se trane tel glad nie, dit hoort in dieselfde kategorie as hoendertande.

Wat jou terugbring by mense – mans ingesluit. (Wys my ’n man wat droog-oog kan kyk na ’n fliek soos The Shawshank Redemption.)

My eie familie is huilers, veral aan moederskant. Gee hulle die geringste aanleiding en hulle besprinkel spontaan die ganse tuine van Versailles. My pa se mense was weer anders. Hulle kom uit die Hantam-Karoo. Dorre droogtemense. Hulle mors nie met water nie.

Ek is helaas my ma se kind. Van kindsbeen af rebelleer ek egter, verset my onwrikbaar daarteen. En tot dusver kon ek dit redelik goed regkry. Maar daar kom tye dat daardie geharde familiegeen hom woes aan sy kettings ontruk.

Soos die keer toe my haarkapper ’n bietjie berserk geraak het en haar skêr met besielde waansin op my kop ingelê het. Ek het soos ’n orkaanslagoffer daar uitgestap. Dit, al klaar, is genoeg rede tot trane, meen ek. Maar voeg nou ’n spietkop met ’n onverbiddelike snor by al die ellende ... en kaboem!

Hoekom dit altyd ’n spietkop moet wees, weet die hemel alleen. Want spietkops is nie sterk outjies nie. Een keer het my onverwagse trane ’n forse man in Mbombela heeltemal verbouereerd gehad. “Sorry, Mama, askies,” het hy desperaat gepleit. “Please don’t cry. Look. I tear up the ticket.” Daarna het hy my sy sakdoek aangebied. En ’n pakkie XXX-mente uit sy sak, sy eie lip wat gevaarlik bewe.

’n Ander keer het dit ’n Johannesburgse verkeershof tot stilstand geruk. Toe ek moes pleit, het my gemoed onverklaarbaar volgeskiet en kon ek g’n woord uitkry nie. Dan is ek nog boonop ’n neushuiler. Vyftig persent van my trane tregter deur my neus. En natúúrlik het ek nooit ’n tissue by my nie. Die landdros, ’n jong kêrel met ’n vroeë bles en verleë gelaat het bloedrooi gebloos en toe summier die hof verdaag en na buite gevlug. Dalk het hy sy ma gaan bel. Of sy sielkundige.

Die gemiddelde mens huil glo sowat 65 liter trane gedurende sy of haar leeftyd, sê hulle. Dis altesaam ’n raps meer as drie emmers vol.

As my tante reg was, het die tyd dus aangebreek om jou eerste tsjirtsie vir dié jaar te stort. Al het jy nie rede nie. Daar sal wel iewers vorentoe ’n rede kom. Of dit nou uit seerkry of blydskap is. Kom sal hy kom.