Foto’s Francois Oberholster • Addisionele stilering Marian van Wyk

1. Espalier

Al lyk dié antieke opleimetode ook hoe indrukwekkend, is dit nie moeilik nie. Hoewel dit nie ’n hele muur gaan bedek nie, sal dit ’n interessante fokuspunt skep. Jy gebruik draad of traliewerk om ’n diamantpatroon of hartvorm te maak en help dan jou plant om volgens dié patroon te groei. Dit werk goed op vibracrete-mure, maar verf gerus eers die muur; dele daarvan gaan nog sigbaar wees tussen die blare, en die kleur sal bydra tot die trefkrag van die hele muur. Ons het dié diamantpatroon van miniatuur-klimop by Louise van Wyk en Sydney Hayes se huis in Bellville opgemerk.

“Miniatuur-klimop is ’n goeie keuse, want dit maak lang stingels wat ’n mens maklik kan manipuleer,” is Louise se raad. “Vermy die groot variëteit – die groter blare maak dit moeiliker om ’n diamantpatroon op ’n klein skaal te vorm.

“Dis maklik: Draai skroewe in die muur en vorm die patroon met dun draad. Ons het meestal sommer die skroewe tussen die panele ingedwing sonder om te boor. Waar ons wel moes boor, het ons ’n 6 mm-sementboorpunt en 20 mm-skroewe gebruik. Dit hoef nie eens sterk te wees nie, want die klimop is nie swaar nie.” Louise het twee plante aan die onderkant van die muur geplant en dit het twee jaar geduur voor dit in die patroon gegroei het. Sy moes af en toe suiers verwyder wat buite die diamantpatroon wou vastrapplek kry. “Probeer die uitloopsels afbreek voordat hulle aan die muur heg, anders trek hulle die verf saam af!”

Wenk

Vrugtebome soos appels of pere kan ook ge-espalier word, aangesien hulle vrugte op kort takkies dra. Peerbome, veral Packham, is perfek – dit vorm maklik sytakke. Ander goeie opsies sluit vye, pruime en kwepers in. Perskebome is nie ’n goeie keuse nie, omrede hul kort leeftyd.

2. Sinkplaat

Sinkplate is nou hoog mode en ’n goeie oplossing as jy vibracrete-mure wil wegsteek. Ons het dié een by Barbara Mueller en Hannes Thiart se huis op Philadelphia buite Kaapstad raakgesien. Dit was ’n kostedoeltreffende maatreël wat hulle nou meer privaatheid bied.

Eers moet jy ’n houtraamwerk teen die muur vassit, waarna jy die sinkplate aan die houtstruktuur vasskroef. Op dié manier het die paartjie daarin geslaag om hul grensmuur van 1,8 m tot 2,7 m te verhoog met gegolfde Zincalume-plate.

“Ons hou van hoe dit lyk. Dit het ’n lieflike tekstuur en pas mooi by die hout en gruis in die res van die tuin,” sê Barbara. “Dis goedkoop en maklik om self te doen – en omdat dit sink is, verg dit geen onderhoud nie. Jy kan dit verf as jy wil, maar ons verkies die oorspronklike kleur. Indien jy wel verf, stel ek ’n mat afwerking voor sodat dit nie blink nie,” is haar raad.

Wenk
Moet liefs nie olie- of waterbasisverf op gegalvaniseerde metaal gebruik nie, sê die span van Jack’s Paint and Hardware. Gegalvaniseerde metaal sluit basies enige vorm van staal in wat met ’n laag sinkoksied behandel is. Gebruik eers ’n metaalonderlaag wat spesifiek vir gegalvaniseerde metaal ontwikkel is, en wend daarna lateksverf aan.

3. Plant ’n heining

Heinings is ’n groot gunsteling om onooglike strukture mee te verbloem. Boonop word dit ’n lewende muur wat heeljaar mooi lyk! Sommige heinings groei trouens so hoog dat jy nie eens die muur hoër hoef te maak wanneer jy meer privaatheid wil hê nie. Jou heiningkeuse sal afhang van wat jy verkies: ’n netjiese, gesnoeide heining of een met ’n losser groeiwyse.

ONTHOU

Digte heinings soos Eugenia kan ’n probleem wees wanneer jy ’n elektriese heining op ’n grensmuur laat insit, want dis nie maklik om die heining aan die draad se kant te snoei nie. Dikker takke kan ook die alarm aktiveer. Oorweeg in dié geval liewer doringroldraad – die heining sal daardeur groei en dit heeltemal bedek.

Middelslag- tot hoë gesnoeide heinings
  • Australiese jamboes (Syzygium paniculatum; Eugenia myrtifolia): volson; wit blomme en vrugte
  • Australiese roosmaryn (Westringia ‘White’): halfskadu; wit blomme in die somer
  • Blouklokkiesbos (Mackaya bella): skadu of halfskadu; wit blomme in die somer
  • Bontmirt (Myrtus communis ‘Variegata’): volson
  • Duranta ‘Sheena’s Gold’: volson
Hoë ongesnoeide heinings
  • Boerejasmyn (Philadelphus coronarius): volson tot halfskadu; geurige wit blomme in die laatlente
  • Bougainvillea-soorte: volson; droogtebestand (blom beter met minder water); kan in vorms gesnoei word
  • Vergeet-my-nie-boom (Duranta erecta sin. D. repens): volson; goeie sekuriteitsheining*
  • Hyperacanthus amoenus: volson; dorings en pienk blomme in die laatsomer en vroegherfs
  • Roos-van-Saron (Hibiscus syriacus): volson; pienk, wit, lila of blou blomme

* Kategorie 3-indringer in Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes – kies steriele kultivars, hibriede of ‘Sheena’s Gold’

4. Kies ’n klimplant

Daar is ook rank- of klimplante wat Vibracrete- mure sal toegroei. Dié plante neem nie soveel plek op soos heinings nie, wat dit ideaal maak vir klein ruimtes. Hoewel rankers minder onderhoud as heinings vra, moet party gehelp word om aan die mure te heg en ander moet soms gesnoei word.

Wanneer jy ’n rankplant gaan koop, moet jy jou vergewis of dit self sal rank of ondersteuning nodig het. Oor die algemeen is dié wat nie steun nodig het nie, groen en lowerryk, terwyl dié wat ’n traliewerk vereis, jou met blomme sal beloon.

Belangrik

Vibracrete-mure gee ’n poeierigheid af; seël die oppervlak eers met ’n sementseëlaar soos Plascon Brickseal, anders sal die suiertjies van rankplante soos klimop en kruipvy nie aan die muur kan heg nie.

Wenk
Blommende rankplante soos sterjasmyn en Mexikaanse trompetblomme moet jaarliks (net ná hul blomfase) met ’n misstof gevoed word: ’n Hand vol 3:1:5, superfosfaat en 2:3:2 sal verseker dat hulle weer blomme dra. Onthou om gereeld nat te maak.
Immergroen rankplante
  • Kruipvy (Ficus pumila): son of skadu; ovaalvormige blare; self-ondersteunend
  • Klimop-variëteite (Hedera): son of skadu; sterk suierwortels; self-ondersteunend
  • Bougainvilleas: rypvrye streke of beskermde hoekies; moet ondersteun word
  • Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides): son tot halfskadu; geurige blomme van Oktober tot vroegherfs; moet ondersteun word
  • Mexikaanse trompetblom (Distictis buccinatoria): son tot halfskadu; rooi-pers blomme; moet voortdurend ondersteun en opgelei word
  • Gouereën (Pyrostegia venusta): son; moet aanvanklik ondersteun word; oranje blomme
  • Kanferfoelie (Lonicera-soorte): son met skadu by die voete; ondersteuning nie nodig nie; geurige blomme heel somer
  • Perskransie (Petrea volubilis): son of halfskadu; moet ondersteun word; pers blomme in die lente