Foto’s Francois Oberholster

Dié grys plant (agter), Leucophyta brownii, is eie aan Australië en het ’n natuurlike bolvormige groeiwyse Dit het feitlik geen snoei nodig nie. Mercia maak dit net so twee maal per jaar netjies deur hier en daar ’n windskeef takkie af te knip.

WIE WOON HIER?

Mercia Kruger

WAAR Paarl

GROOTTE 270 m²

GRONDTIPE Leem

Mercia Kruger van die Paarl hou daarvan om prentjies in haar tuin te maak – maar sy koop feitlik nooit iets nuuts om dit te doen nie.

“Daar is altyd een of ander bouery in die buurt aan die gang. Dit is ongelooflik hoeveel goed mense weggooi wat dan op ’n hoop bourommel beland: halwe baksteentjies, ’n gekraakte plaveisteen, ’n mooi stomp of ’n pot met ’n bars,” verduidelik sy. “Ek maak alles bymekaar want daar’s altyd nut daarvoor in my tuin. Toe my man, Riaan, nog geleef het, het hy gereeld gevra: ‘Waar tel jy nou weer al daai goed op en waar gaan jy dit bêre?’ Maar ek kry altyd iewers plek daarvoor in een van die kamers in my tuin.”

Mercia se tuin bestaan uit ’n voortuin, ’n nou steeg wat langs die huis loop, en haar agtertuin met gesellige sit- en braaiplek.

Voortuin

Die voortuin was voorheen ’n lowergroen grasperk met baie werk, maar sy het dit omskep in ’n interessante tuinkamer wat min onderhoud vra.

“Dis nie iets wat ek sommer oornag besluit het nie. Ek het lank daaroor besin,” vertel Mercia. “Die grasperk het baie tyd en aandag nodig gehad. Om ’n grasperk op ’n skuins erf te sny en nat te maak, is harde werk. In Augustus 2017 het ek en Hendry Maans, my regterhand in die tuin, hiermee begin. Ons het dit stuk-stuk aangepak. Ek was te bang die skok is te veel vir my gestel as ek alles gelyk uithaal en skielik ’n kaal tuin voor my sien!”

Om die skuins grasperk meer gelyk te kry, het hulle met dwarslêers verskillende vlakke geskep. “Ek het gelukkig heelwat dwarslêers in my agtertuin gehad wat ek oor die jare aangeskaf het; ek moes wel nog ’n paar koop namate die proses gevorder het. Die terrasse is eers voorberei en waterpas gemaak voor die dwarslêers op hul plek neergesit is. Almal is nie ewe ver uitmekaar nie, ek wou die voorkoms informeel hou.”

Die kaal grond tussen die dwarslêers is bedek met ’n dik laag gruis wat ’n plastieklaag onnodig maak. Die groter bruin klippe kom van ’n plaas in Simondium en dit het drie keer se ry gekos om genoeg te gaan haal. Met dit klaar, is die res van die grasperk uitgehaal en het die tuin stadig maar seker vorm aangeneem.

Omdat Mercia van interessante plantkombinasies hou, groei plante wat minder water vereis langs plante wat meer water nodig het. Sy maak haar tuin nat met ’n tuinslang wat aan die boorgat gekoppel is. Op dié manier kry elke plant water volgens sy behoefte.

“My voortuin is deesdae grootliks ’n pottetuin. Ek herrangskik my potte en gebruik interessante plaveiwerk om dié ruimte te verfraai,” verduidelik sy. “Dis glad nie ’n blomtuin nie. Ek maak mooi deur kontras, tekstuur en fokuspunte te skep met ’n verskeidenheid potte – met of sonder plante – voëlbadjies, interessante tuinpaadjies en groot klippe waarop natuurlike waterpoeletjies vorm.

“Ek skep ook kontras met interessante blaar- en plantvorms en hou van plante met verskillende groottes – van piepklein aalwyne tot groot plante soos die kokerbome en my broodboom.

“Baie van my kleiner vetplante kom van The Wise Gardener, my suster Alma se kwekery op Worcester. Maar my keuse van plante verander gedurig; ’n mens leer mettertyd wat werk in jou tuin. My voortuin sal seker nooit klaar wees nie; ek is maar kort-kort besig om potte rond te skuif en iets nuuts te probeer. Ek hou daarvan om prentjies te maak.”

Dié apiesdoring se stam was so dun soos Mercia se vinger toe sy dit sowat 8 jaar gelede gekoop het. “Dis ’n doringboom wat vinnig groei, maar ek hou dit in toom met vormsnoei en gereelde terugsny. In die somer sny ek weekliks die sagte takkies wat uitgroei af en teen Oktober snoei ek dit tot in die harde hout terug om die raamwerk van die boompie mooi te hou. Op dié manier word hy nie te groot vir my voortuin nie,” sê Mercia. Potte onder apiesdoring van Overberg Pottery

Mercia se suster Carol het 32 jaar gelede dié broodboom vir haar gegee. “Toe was die knol so groot soos ’n appelkoos en het dit een tenger blaartjie gehad. Vandag staan dit soos ’n reus in my voortuin en vorm dit elke tweede jaar massiewe keëls wat in September oopbars.”

Mercia het dié inheemse worsboom van ’n saadjie gekweek. Elke somer, reg deur tot in Mei, dra dit bloedrooi blomme aan lang stringe.

Daar’s verskeie waterfokuspunte en voëlbadjies waar die voëls kom bad en water drink. Dié dammetjie is elke jaar ’n skouspel van wit, pienk en blou wanneer die waterlelies blom; die vissies sorg vir hulself.

Met feitlik geen blommende plante nie gee skakerings van groen en grys kleur aan die tuin, terwyl hul verskillende strukture en blaarvorms kontras skep. Daar is onder meer plante met ronde blare, gepunte blare, blare wat waai in die wind en stamme met baie dorings wat die oog vang. Potte van The Kelim & Decor Shop en Peppino Cement

 Stegietuin

Langs die huis loop ’n nou stegie waar ’n paadjie van beton-dwarslêers die voor- en agtertuin verbind. Dit is waar Mercia nuwe plante kweek en haar tuingoed bêre.

“Hier stoor ek duisende steentjies, potskerwe, ekstra potte, halwe bakstene en klippies; my boorgat se pype loop ook hierdeur na die agtertuin. Maar ek het dié stoorplek opgedollie met plantstaanders en allerhande interessante goed. Dit kry van so negeuur soggens tot tweeuur in die middag son, daarom is dit perfek om nuwe plante aan die groei te kry,” verduidelik sy.

Teen die grens vorm heilige bamboes (Nandina domestica) ’n groen muur tussen haar en die bure. Dit groei regop en is dus ideaal vir die nou ruimte; die helderrooi vruggies lok ook baie voëls. ’n Ry Chinese esdoringboompies (Acer buergerianum), wat van saadjies opgekom het, groei voor een van die plantstaanders. Sy snoei dit gereeld om ’n miniatuurlaning te vorm.

Die lugplant Tillandsia aeranthos, wat goed aard in droë toestande, is een van Mercia se gunstelingplante. Dis ’n maklike groeier, het min aandag nodig en neem voedingstowwe en water uit die lug op. Vir sowat vier weke in Oktober dra dit perspienk blomme.

Mercia het die ysterwerk voor die braaikaggel ontwerp, nie net om mooi te lyk nie, maar ook om haar honde uit die braaiplek te hou. “Amber en Mischka het ná elke braai hul kans afgewag. Sodra die kole koud was, het hulle in die braai gespring om die rooster af te lek. So wanneer ons gebraai het, het ek net die raamwerk na die onderste hakie laat sak en ná die tyd weer opgelig – dan kon hul nie meer inspring nie!”

Agtertuin

Agter die huis is Mercia se woudtuin; dit was haar twee beagles, wat albei laas jaar oorlede is, se speelplek. Hier groei onder meer ’n reusebroodboom, ’n geelhoutboom, luiperdbome, Japannese esdorings, seweweeksvarings, orgideë en ’n grenadella wat alles toerank. Dit is ook waar die meeste van haar lugplante tuis is.

“Hier het ek natuurlik ook potte en allerhande uitstalgoed. Op die potterak is ’n voëlhokkie van bamboes wat my pa (93) sowat 11 jaar gelede vir my gemaak het. Ringnekduiwe broei gereeld daarin. Die braaiplek is ook ’n neersitplek vir van my lugplante en versamelstukke,” vertel sy.

”Ek hou van kaktusse. Hul dorings gee tekstuur en hul bolvormige voorkoms lyk vir my soos gesiggies wat na die son kyk. – Mercia


Teen die grensmuur lyk Tillandsia usneoides met sy lang grys stele en blare presies soos sy volksnaam beskryf: ’n ou man se baard!

’n Liefde vir grys

Mercia is lief vir enige skakering van grys in haar tuin, of dit nou die sementvoëlbadjie is of die grys ouman-kaktus wat haar aan die halfmens in die Richtersveld herinner.

Sy is veral lief vir haar versameling Tillandsias – grys epifiete (lugplante) wat aan enige geskikte plek klou en hang. “My gunsteling is die Tillandsia usneoides. Dit groei maklik en verg nie baie onderhoud nie. Ek gee dit wel gereeld water, veral in die somer. Die beste manier om dit te doen, is amper soos wanneer jy jou hare afspoel ná jy dit gewas het: Laat die water stadig van bo afloop dat al die stringe goed deurdrenk raak.

“My groot inspirasie om grys deel te maak van my tuin, het ek gekry tydens talle besoeke aan die Richtersveld. Die grys vlaktes met hul grys klippe, die grysblaar-vygies, grys papierblomme en die grys halfmens (Pachypodium namaquanum) wat sy “arms’ uitreik na die son het my altyd meegevoer en ek wou dié beeld in my tuin tuisbring om dieselfde gevoel hier te ervaar,” vertel sy. 

Donkie-oor (Kalanchoe beharensis)

Besemgras (Aristida junciformis)

Mercia se gunstelinge

Vetplante en kaktusse

• Spekboom (Portulacaria afra)

Aeonium haworthii

• Kerkei/plakkies (Crassula ovata)

Sedum pachyphyllum

• Skoonma-se-kussing (Echinocactus grusonii)

Ferocactus pilosus

• Oumankaktus (Cephalocereus senilis)

• Verskeie Mammilaria-spesies

• Verskeie Echeveria-spesies

Gasterias

Haworthias

• Nooienskokerboom (Aloidendron ramosissimum, voorheen Aloe ramosissima)

• Kokerboom (Aloidendron dichotomum, voorheen Aloe dichotoma)

Struike en ander

• ’n Broodboom (Encephalartos-spesie)

• Poniestertpalm (Beaucarnea recurvata)

• Oranjejasmyn (Murraya exotica sin. Murraya paniculata)

Leucophyta brownii

• Dwergnoemnoem (Carissa macrocarpa ‘Green Carpet’)

• Australiese roosmaryn (Westringia fruticosa)

• Besemgras (Aristida junciformis)

Muehlenbeckia complexa

• ’n Verskeidenheid lugplante (Tillandsia-spesies)

Bome

• Apiesdoring (Senegalia galpinii)

• Worsboom (Kigelia africana)

• Luiperdboom (Caesalpinia ferrea)

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Overberg Pottery 028 271 4213

Peppino Cement 021 988 7471

The Kelim & Decor Shop 021 863 1944, info@kelimdecor.co.za

The Wise Gardener 082 839 2317