Foto’s Francois Oberholster en Maryke Roberts l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Clifford en Maryke Roberts en Maryke se pa, Andries Eygelaar

WAAR Strand, Wes-Kaap

GROOTTE 260 m²

Die tuin word aan drie kante begrens deur onderskeidelik die hoofhuis, die huisie wat Maryke en Clifford vir haar pa, Andries, gebou het en die losstaande kuierstoep wat in 2014 gebou is. Dié stoep was daardie jaar in Tuis Werf, maar dis so mooi, kyk sommer weer.

Om ’n tuin te skep wat by ’n ou huis pas, grootliks inheems is en nie baie water en aandag verg nie, is klaar ’n mondvol. Maar om boonop die bestaande tuin wat ’n 18 maande lange bouprojek moes oorleef, te red, het die uitdaging soveel groter gemaak.

Ek en Clifford het die eiendom, met sy huis wat uit 1933 dateer, agt jaar gelede gekoop. Mettertyd het ’n dubbelmotorhuis met ’n woonstel bo-op, my pa se knus huisie en ’n groot sinkstoep bygekom. Die argitek, Marcus Smit, het die plaasgevoel van die ou huis versterk deur ook sink by die ander geboue – almal los van die huis – in te sluit.

Destyds was daar reeds drie reuse-akkerbome en heelwat struike en ander bome teen die ou grensmuur op die werf. Met die opknappings en nuwe bousels wou ons seker maak dat elke venster of oop deur ’n oordadige groen prentjie omraam. Daarom ook ons besluit om nie ’n buitebraai te bou nie, maar eerder ’n oop stoep met ongehinderde toegang na die tuin.

Groot dele van die erf het plaveisel gekry as gemaklike loop-oppervlak en om reënwater van die huis se fondamente af weg te lei.

Die geboue vorm ’n natuurlike vierkant waarop die huis en stoep uitkyk. Ons eerste poging om tapytgras (Phyla nodiflora) onder die akkerboom in dié vierkant te plant, het jammerlik misluk en ná twee keer se herplant was dit ’n onooglike sandput.

Ook van ons ander tuinprojekte het nie die gewenste resultate opgelewer nie en ons het uiteindelik, in Julie 2019, besluit om ’n tuinboukundige se hulp in te roep. Walter Cloete van Walgro spesialiseer die afgelope 35 jaar in tuine in die Strand en omstreke. Hy verstaan die invloed van die suidooster wat alles in ’n oogknip kan droogwaai, die sanderige grond en baie grondwater in die winter.

1 Die hoofhuis se blou agterdeur staan sterk uit teen die groen en bruin skakerings van die tuin.

2 ’n Groot losstaande sinkstoep kyk uit oor die vierkantige tuin onder die akkerboom. Hier kan Clifford en Maryke die voëls dophou – hetsy soggens met hul eerste koppie koffie of wanneer hulle op die stoep braai of pizza maak.

3 Die Robertse se huis, die stoep, ’n grensmuur en pa Andries se knus huisie vorm ’n binnehof rondom ’n akkerboom. Op ’n werktafel teen Andries se blyplek word nuwe steggies gemaak en plante uitgeplant.

Maryke en Clifford

Die doelwit

Ons leef graag op die stoep en wou voëls lok met inheemse plante, waterpunte waar geveerdes kan bad en hul dors kan les, asook voëlhuisies waar ons saadjies, vrugte en suikerwater kan uitsit en waarin hulle dalk ook kan nesmaak.

Walter het die uitleg in ’n vierkant ontwerp met ’n geplaveide paadjie van 1 meter breed reg rondom. Iewers moes ’n blokkie gras wees vir ’n piekniekkombers of tuinstoel op ’n lui namiddag. Met die onsuksesvolle – en baie duur – tapytgras nog vars in ons geheue, het ons op kunsgras besluit. Walter het Forest Lawn se Constantia Autumn gekies omdat dit baie na aan die ware Jakob lyk.

Hy het ook voorgestel ons kry nog reënwatertenks en verbind die tuin se besproeiing daarmee. Die besproeiingspype is onder die grond gelê en die reënwatertenks agter latteskerms versteek. Teen die skerms is jasmyn geplant, wat dit mettertyd sal toegroei.

Walter vertel: “Om die basis vir die kunsgras voor te berei het ons die 2,2 x 6,8 m-grondoppervlak gelykgemaak en gekompakteer. Daarna is ’n 150 mm-laag fyn gruis bo-op die grond gegooi en ook gekompakteer en perfek gelykgemaak. Die gras is daarop gelê en met staalpenne in die grond geheg. Die raam om die gras is geplavei met bakstene wat op ’n dun sementfondasie gelê is om te keer dat dit skuif.”

Mediumsterkte-kompos van AgriOrganics is gebruik om die tuingrond te verryk (ongeveer 1 m³ kompos per 10-12 m² grond).

Drie groot fynblaarolms (Ulmus parvifolia) is voor die slaapkamers geplant. Die bome is wel nie inheems nie, maar hulle is geskik vir die beperkte ruimte, bladwisselend, waterwys en opgewasse teen die suidooster. Bome van Habitat Mature Tree Nursery

’n Klein fontein bied lafenis aan die voëltjies wat heeldag daar kom water drink of bad.

[PLANTE WAT VOËLS LOK]

Tesame met twee voëlbaddens wat met ’n elektriese pompie werk, is daar verskeie ander drinkplekke vir voëls reg deur die tuin versprei. In die dieper fontein teen die huis is groot klippe net onder die water se oppervlak geplaas sodat kleiner voëltjies daarop kan staan.

Ons het plante soos Kaapse kanferfoelie (Tecomaria capensis), varklelies (Zantedeschia aethiopica), verskeie spoorsalie-variëteite, blousalie (Salvia africana), wildeknoffel (Tulbaghia violacea) en malvas (Pelargonium) gekies om voëls te lok. Dit sluit ’n groot verskeidenheid blomgroottes en -kleure, blaarvorms en sommige met lieflike geure in.

Om kostes laer te hou en te verhoed dat plante te dig opmekaar groei, is heelwat bestaande plante van elders in die tuin herplant sodat dit ’n mooi geheelbeeld vorm. Hieronder was boslelies, Hibiscus in verskeie kleure, ’n geraamteplant (Monstera deliciosa), Inkalelies (Alstroemeria), kraanvoëlblomme (Strelitzia reginae) en agapante (Agaphanthus praecox). 

Clifford teel meelwurms vir die janfrederike wat elke oggend daarvan in ’n wit emaljebakkie kry terwyl die Robertse hul oggendkoffie op die stoep geniet.

Kruie soos origanum, ment, brandrissies, roosmaryn, tiemie, sitroengras en basilie groei in potte.

Inkalelies gee kleur en hoogte aan die tuin en aard boonop goed in die skadu van die akkerboom.

Onder die suurlemoenboom naby die agterdeur help afrikaners (Tagetes erecta) om plae af te weer.

Plaveisel omraam die tuin en die reënwatertenk is agter latte versteek. Die dammetjie teen die huis se buitemuur sorg vir ’n pragtige klank. Sterretjiesjasmyn (Jasminum multipartitum) sal die latteskerms mettertyd toerank.

[SKADUPLANTE]

Walter het van sy gunstelingplante gekies wat in die skadu aard:

Boslelies (Clivia miniata) hou daarvan as hul wortels in kompakte grond tussen ander wortels groei; die blomme kom in verskeie skakerings van oranje en geel.

Spoorsalies (Plectranthus-spp.) Die groot verskeidenheid spoorsalies sluit grondbedekkers en klein, medium en groot struik-variëteite in.

• In die Asparagus-familie is daar verskeie opsies soos A. densiflorus met kompakte regop “katsterte”, A. densiflorus ‘Sprengeri’ met sagte, lang lopers en A. falcatus met breër blare en ’n meer struikagtige groeiwyse.

Hen-en-kuikens (Chlorophytum comosum) is beskikbaar in groen of geel-en-groen gestreepte blare.

Liriope muscari met sy wit streepblare word dikwels met hen-en-kuikens verwar omdat dit ’n soortgelyke groeiwyse het. Laasgenoemde kom egter in ’n verskeidenheid groottes en dra ook treffende ritse blou blommetjies.

Begonias – daar is talle variante beskikbaar: een- en meerjariges, plante met groot óf klein blare, dié met tekstuurryke blare, blare met kleur of gespikkelde blare.

[EIE KOMPOS]

Agter ’n latteskerm is daar twee komposhope van verskillende ouderdomme weggesteek: Die ouer een se kompos het genoeg afgebreek om tuin toe te gaan en die ander een is in die proses van kompostering. Ons druk plastiekpype met gate in die kompos vir beter belugting.

Die komposhoop is die baljaarplek van lysters, janfrederike en hadidas, en hulle wei onder die insekte wat daar bedrywig is. Elke twee jaar word ’n vrag boombas afgelaai wat as grondbedekker gestrooi word. Dit hou die grond langer klam in die somer wanneer die son en wind die grond gou uitdroog.

VERSKAFFERS

AgriOrganics 021 852 8632

Habitat Mature Tree Nursery 087 250 2000

Marcus Smit Architects 072 246 4290

RotoTank 

Walgro 072 238 4699

[KUIERSTOEP!]

Op dié stoep is kuier aan die orde van die dag, en met 50m² is daar meer as genoeg plek. Dis ingerig soos ’n vertrek, met sagte sitplek, ’n eettafel, pakplek – en natuurlik die braaiplek en pizza-oond!

Met die aanbou van die stoep moes die Robertse hul planne vir die verbeterings nie net by die munisipaliteit nie, maar ook by die Wes-Kaapse Erfenisstigting indien. Die Stigting se riglyne was baie spesifiek: Die stoep mag nie vas aan die huis wees nie en ook nie voor die huis se boulyn gebou word nie.

Die argitek, Marcus Smit, moes ook versigtig beplan sodat die akkerbome se wortelstelsel nie skade opdoen nie. Daarom het hulle besluit op ’n vlotfondament, waar die gebou as’t ware bo-op die grond gebou word. Waarop dit neerkom is dat geen soliede fondament uitgegrawe word nie, net ’n versterkte deel wat al met die buiterand van die stoepvloer langs loop.

Hoewel die stoep in wese ’n houtstruktuur is wat met gegalvaniseerde sink beklee is, is die sementvloer met leiklip bedek – ’n element uit die ou huis wat oral op ander stoeptrappies en in die buitestort herhaal is. Die stoep het geen plafon nie, wat die illusie van ’n plaasskuur versterk. Klein kolligte wat na bo teen die dak skyn en met ’n verdofskakelaar beheer word, laat hulle toe om ’n intieme atmosfeer met kerse te skep sonder om lig in te boet.

Die braaikaggel en pizza-oond is ingebou in die enigste baksteenmuur op die stoep. Die ongepleisterde stene breek die wit wat die res van die vertrek oorheers, en word ook nie so maklik vuil nie, verduidelik Maryke.

Ons stoep verander voortdurend. – Maryke

Die stoep in aanbou:

Kalklyne dui aan waar die fondasierand kom.

Sand word uitgegrawe voor die versterkte buiterand gegiet word.

Hier is die sementvloer klaar.

Die dakkappe is op.

Aan die binnekant is die houtstruktuur nie bedek nie, maar oop gelos om die plaasskuur-gevoel te versterk.

Die hele struktuur is met sinkplate bedek en wit geverf.