Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER?

Corniel Venter

WAAR Die plaas Kruis, Montagu

GROOTTE VAN TUIN Sowat 1 500 m²

GRONDTIPE Kleierig met skalie

Vygies, papierblomme, wildesalies en botterblomme is deurmekaar aangeplant om kleur onderlangs in beddings te verskaf.

Af in die Keisievallei tot daar ver by die Waboomsberg kan Corniel Venter van haar plaasstoep die wêreld sit en bekyk. Want dié stoep strek om drie kante van haar huis hier buite Montagu, sodat sy saam met die seisoene agter die gunstigste weer aan kan trek.

“Dit hang af hoe die wind waai en waar die son op sy beste is,” vertel sy.

Ná haar man se dood in 2011 het haar seun, Pieter, in die hoofopstal op hul sitrusplaas, Kruis, gaan woon en die boerdery oorgeneem. Twee jaar later het Corniel dié vervalle werkershuisie vir haar toegeëien.

“Ek het eendag hier rondgestap en toe besef watter uitsig die huisie het. Lang storie kort: Ek het die argitek Johan Malherbe van die Paarl gevra om dit vir my in ’n blyplek te omskep. Die hoofopstal is Kaaps-Hollands, en omdat dié huis se styl soveel anders is, moes ’n mens dit nie van daar af kon sien nie.”

Toe Corniel nog in die hoofhuis gewoon het, was haar tuin ’n lushof van groot grasperke, agapante, rose en veral akkerbome, maar dié keer wou sy ’n meer inheemse tuin aanlê.

“Die tuin moes lyk asof dit deel van die landskap is. Ek het die landskapontwerper Jan Hagen, wat hier op die dorp woon, in 2014 laat kom. My opdrag aan hom? ‘Help!’

“Ek het basies gesê die tuin moet wegsmelt in die omgewing; ek wil nie fyntuin of ’n swembad hê nie en ek wil struike hê wat voëls lok.”

Hoewel sy water kry uit fonteine in die berg, was haar wens dat die nuwe tuin nie te dorstig moet wees nie. “En ook selfonderhoudend sodat dit nie te veel tyd van jou verg nie. ’n Plaasvrou verloor mos haar tuinwerkers wanneer dit oestyd raak,” verduidelik sy laggend. Gelukkig het sy vir Benjamin Lehanya wat help om die tuin in stand te hou.

Jan het vir haar gegee presies wat sy wou hê – en nog meer. “My kleinkinders kan van my stoep af deur die tuin stap, dan is hulle in die veld en hou hulle net daar piekniek. En die voëls! Hoe hulle wei onder die aalwyne, die wildedagga ... Dis my grootste vreugde.

“En om hier op my eie stoep te sit en die Klein-Karoo se veld te geniet met sy Kaapse soetdorings, die ghwarriebosse, sandoliene, valskareebome, renosterbosse, vygies en die botterbome wat oor Kersfees so rooi blom.”

[PASOP VIR DIÉ BOME EN PLANTE]

Jan Hagen gee raad:

• Alhoewel doringbome ’n penwortelstelsel het, moet ’n mens versigtig wees wanneer daar skalie– en rotsbanke en klei in jou grond teenwoordig is. Die penwortel groei dan sywaarts en kan skade aan strukture soos paadjies, trappe en fondasies aanrig.

• Die vioolblaarvy (Ficus lyrata) en rubberplant (Ficus elastica) is deesdae baie gewild as huisplante. Dikwels, wanneer die plante te groot raak, plant mense dit uit in hul tuine. Dit word reusebome, veral die rubberplant, wat jare se moeilikheid veroorsaak met hul indringer-wortelstelsels.

• Die kruipvy (Ficus pumila) word graag geplant om teen mure op te rank, maar hy kan moeilikheid maak wanneer hy by die kleinste barsies begin ingroei.

• Mense plant ook graag die Ficus nitida-vy omdat hy wind kan trotseer, maar sy aggressiewe wortels groei enige plek toe as hy water moet gaan soek.

Aan die kuierstoep se kant is die aanplanting só beplan dat dit die stoep se konstruksie versag sonder om uitsigte te versper.

Bitteraalwyn maak ’n mooi prentjie teen die skoorsteen, Carex-grasse skep kontras en Phyla nodiflora (“daisy lawn”) is ’n goeie alternatiewe grasperk in hierdie konteks. Om nie met die naglig in te meng nie, is net afwaartse beligting teen die stoeppilare en op spoorwegdwarslêers in die beddings gemonteer.

Die bladwisselende Chinese nettelboom (Celtis sinensis) verskaf broodnodige koelte in die somer, maar laat lekker son deur in die winter. Jan sê hy vind dat die Chinese spesie beter vaar in die Wes-Kaap as sy inheemse neef, die witstinkhout (Celtis africana).

By die slaapkamergedeelte is ’n beskutte hoek waar doelgemaakte vrugtekratte gebruik is vir kruie en slaaigoed op ’n gemaklike hoogte. Luiperdbome gee spikkelskaduwee om die plante te lawe teen die fel somerson. Die plaveisel is nie in ’n reguit paadjie gelê nie sodat dit natuurliker lyk.

Die ontwerper vertel

“Om Corniel se tuin te kon ontwikkel was ’n vreugde,” vertel Jan. “Die huis wat so knus in sy omgewing insink en toelaat dat die Klein-Karoolandskap die botoon voer, het van die begin gedikteer waarheen ons met die tuin sal gaan. Ons sou die minimalistiese gebou nog sagter maak, die uitsigte respekteer en die tuin laat ‘oplos’ in die veld daarrondom.”

Hy en sy vrou, Mariëtte, is al 35 jaar in die tuinbedryf. Hy praat dus uit ervaring wanneer hy sê as landskapontwerper moet hy versigtig wees om te voorskriftelik te wees met kliënte. “As ek wegstap, is dit jóú tuin, nie myne nie. “Dis soos haarkapper toe gaan, ’n mens moet met mekaar kliek om die beste resultate te kry. ’n Kliënt se geesdrif en insette is vir my van die belangrikste elemente vir ’n suksesvolle tuin. Waarvan ek hou, is om die ruggraat van ’n tuin uit te lê, maar die kliënt dan vrye teuels te gee met die inkleur as hulle sou wou.

“Corniel het ’n aweregse streep en dit was groot pret om te sien en te beleef hoe sy jakobregoppe, kolle kosmos en ander seisoenale kleur hier en daar tussen die natuurlike plante insmokkel. Selfs die vreemde kaktusse in potte vertoon heel goed in hierdie anderste tuin.”

Jan bied aan sy kliënte sy ontwerpkennis en ervaring en die feit dat hy ’n landskap “in prentjies sien”.

“Ek kan wel vir iemand die mooiste tuin beplan, maar die grootste bestanddeel wat sukses sal bring, is sy of haar passie. Ek het oor die jare keer op keer gesien: Waar die kliënte gedurige liefdevolle interaksie met hulle plante het, floreer die tuine baie meer as waar dit bloot ’n element van ’n woning of omgewing is,” vertel hy. “Soms moet ek ook maar diplomaties briek aandraai as die idees of voorkeure katastrofale gevolge gaan hê!”

Hy hou daarvan om waar moontlik die kliënt deel te maak van die aankope en dit ’n besonderse ervaring te maak. “Corniel het vanweë haar liefde vir kuier ’n hegte vriendekring. Ek en sy het die bome vir die tuin gekies en toe haar vriende die geleentheid gegee om feitlik al die bome te skenk as house warming-present. Nou is die witstinkhoute, koorsbome, karees, huilboerbone en waterpere lewenslange herinneringe aan kosbare vriende.”

Vlinderbosse skep mooi beweging in die wind en die wit blomme van die Australiese roosmaryn lok bye na die tuin. Die groengrys loof skakel ook mooi in by die natuurlike kleurpalet van die Klein-Karoo se plantegroei.

[JAN SE WENKE VIR ’N DROOMTUIN]

• Maak ’n plakboek of inspirasiebord van idees wat jy in tydskrifte sien of aanlyn kry. As jy dit vir ’n landskapontwerper wys, sal hy/sy makliker ’n idee kry van die rigting waarin jy dink.

• Maak seker dit wat jy aanpak, sal volhoubaar wees en dat jou leefstyl, tyd en finansies dit kan onderhou. Die grootste tragedie is dat aanvanklike idees misluk weens ’n gebrek aan voortdurende onderhoud, voltydse aandag en genoeg geld vir albei.

• Al verg jou tuin min onderhoud, verg hy steeds onderhoud.

• Maak seker jy weet hoe die plante uiteindelik gaan groei en wat jou ontwerper in gedagte gehad het sodat jy die plante kan bestuur. Dikwels moet plante in ’n sekere ruimte groei en is dit dan nodig om hulle elke paar jaar intens terug te snoei.

• As jy ’n argitek gebruik vir jou huis, roep van die begin af die landskapontwerper ook in. So kan paadjies anders ontwerp word om by die huis aan te pas; wit dakke, wat die son weerkaats en plante dus verskroei, kan vermy word en so ook wit mure op ’n plek waar jy wil plant, want die hitte hier sal ook plante verskroei.

Die Zen-agtige argitektuur by die voordeur vra vir minimalistiese aanplantings; hier werk die kraalmelkbos (Euphorbia tirucalli) baie doeltreffend. In die somermaande is die takkies geel-groen en in die winter verkleur dit na meer rooi-oranje.

[WAT JAN HIER GEPLANT HET]

“Ons het hoofsaaklik inheems gewerk, maar hier en daar ook plante gebruik wat die Karoo-gevoel skep, soos die Australiese roosmaryn (Westringia fruticosa),” verduidelik Jan.

• Die groot staatmakers is duinekraaibessie (Searsia crenata), kapokbos (Eriosephalus), soutbos (Einadia hastata sin. Rhagodia hastata), vygies, bosviooltjies (Barleria obtusa), blousalie (Salvia africana), bloublomsalie (S. chamelaeagnea), kransaalwyn (Aloe arborescens), bitteraalwyn (Aloe ferox), soldaat-vuurpyl (Kniphofia uvaria), blousyselbos (Plumbago auriculata), Kaapse kanferfoelie (Tecomaria capensis), papierblom (Limonium perezii), wilde-kanferbos (Tarchonanthus camphoratus), dwerg-purperwinde (Convolvulus sabatius), plakkies (Crassula ovata), fonteingras (Pennisetum-spp.) vir kontras, Carex-grasse vir tekstuur, dekriet, Kei-appel (Dovyalis caffra) en grootnoem-noems (Carissa macrocarpa) wat albei vrugte dra vir die voëls.

Lotus berthelotii met sy vlamblommetjies en grys blare is ’n wonderlike uitheemse grondbedekker wat goed aard in die Karoo-klimaat.

• Die wildesalie (Salvia muirii) is een van die groot staatmaker-vullers.

Osteospermum rikii is ’n uitstekende platgroeiende grondbedekker.

KONTAK
Zantedeschia Concepts 082 416 2835, jan@zantedeschia.co.za