Foto’s Francois Oberholster
Wie woon hier? Jenny en Amie Venter en hul seuns, Amie (18) en William (17)
WAAR Kimberley
GROOTTE 1 153 m²

1. Jenny kweek waterwys vetplante in sinkbaddens, melkkanne, emmers en emaljebakke. Die meeste van dié houers het reeds geroeste gate in en as daar nie is nie, slaan sy sommer gate in met ’n ysterpen vir dreinering. Hier hou twee Aloe ferox-aalwyne wag by die hek. 2. Die dammetjie is gebou om hoogte te gee in die tuin. Kleintyd het die seuns goudvissies hierin gehad en het sy al die waterlelies geplant. 3. Vier jaar gelede het Jenny besluit die gras op die sypaadjie en in die voortuin (regs) moet uit. “Ek wou daar ook ’n meer waterwys en lae-onderhoudtuin skep,” sê sy.

My tuin het ’n vetplantgevoel, eerder as dié van ’n fyn blomtuin. – Jenny

Jenny Venter is sewe jaar gelede skrootwerf toe om ’n ou melkemmer te gaan soek. “Wat ’n belewenis,” onthou sy.

“Ek het die wonderlikste skatte ontdek: trommels, ou diefwering, ysterwiele, sinkbaddens, tuinhekke, posbusse, emaljeware en nog vele meer. Ek het verlief geraak op die goed en besef my tuin is die enigste plek waar ek dit kan gebruik.”

Vandag het sy 79 melkemmers en stapels trommels in haar tuin. Sy en Andy Anderson, eienaar van die plaaslike skrootwerf, het mekaar met verloop van tyd leer ken en hy bel haar wanneer hy mooigoed inkry.

Die Venters het in Januarie 2009 hier by hul huis in Kimberley ingetrek. Jenny het begin om die tuin, wat toe net dorre struike en gras was, van nuuts af te beplan. “Gelukkig was daar groot bome in die agtertuin vir skaduwee. Ek het die huis en buitegeboue se lyne gebruik om die tuin in blokke te verdeel; so skep die tuin en die geboue ’n eenheid. Om verskillende hoogtes te bewerkstellig, het ek ’n visdam en ’n verhewe blombedding gebou. Die swembad, wat effens opgebou is, het ook hiermee gehelp,” vertel sy.

Ná die lyne, blokke en verskillende hoogtes in plek was, het Jenny dit blok vir blok beplant en met mooigoed versier. “Ek het baie klippe, stene en sement-blokke gebruik vir tekstuur en min onderhoud. Aanvanklik het ek oorwegend laventel geplant omdat dit binne een seisoen groot word en blom. Namate die laventel stokkerig en onnet begin raak het, het ek dit met waterwys plante vervang.

“My eerste melkkanne en trommels het ek langs die braai en teen oop mure gebruik. Geleidelik het my skrootwerfversameling gegroei en het dit ook binne-in die beddings beland. Dit het net so onbeplan deel van my tuinmakery geword en ek skuif dit gedurig rond soos die beddings verander.

“Hoewel ons lieflike sonskyndae in die winter kry, is ons winters droog en koud met ryp. Maar dit pla nie die vetplante nie. Hoe kouer die dae, hoe rooier word party, veral die Crassula capitella wat ek hier het. Die somers is weer uitsonderlik warm en die meeste waterwys plante sal nie sommer in ’n hittegolf verlep nie, al is water ook hoe skaars.”

Jenny het die groen tafeltjie deur Bidorbuy by Reinet Relics op Graaff-Reinet gekoop. Dis die perfekte plek vir oggendkoffie in die son.

In haar gene

Jenny se liefde vir ’n mooi tuin is in haar voorgeslagte se bloed. “Veral my pa het ’n hand met ’n plant. Hy het met proteas en vrugte op die berg by Piketberg geboer. My ouma weer het orgideë met soveel blomme aan gehad dat die takke skoon afgebuig het. Sy het haar in haar tuin uitgeleef; dit was soos ’n feëverhaal. My oupa was ’n prokureur, maar het homself eintlik as ’n wingerdboer beskou. Hy het ’n plaas in Constantia gehad en twee akkerbome geplant waar die bekende Melissa’s-koswinkel deesdae is. Ek en my pa besoek dit gereeld en kyk dat die bome goed versorg word.”

Vir Jenny is haar tuin haar reset-knoppie en weerspieël dit wie sy is. Daarby is die stoep die hart van hul huis. Elke middag drink sy koffie daar – met dankbaarheid.

“Ek sal nooit klaar wees met my tuin nie. ’n Tuin is dinamies en verander gedurig. Ek is dankbaar vir my man se geduld; hy ondersteun my onvoorwaardelik as ek ’n nuwe tuinprojek begin. Dis ook nie moontlik om ’n mooi tuin te hê sonder hulp nie. Ek en my regterhand, David Sekgoro, deel ’n passie hiervoor en hy verstaan my idees. Hy maak self ook tuin en stuur gereeld vir my foto’s van sy eie tuinprojekte.”

Jenny-hulle se braai is onder die boom, met ’n kuiertafel versier met vetplante in emaljebekers (hoe dan nou anders?). Langsaan is die laaste lappie gras wat in haar tuin oor is – sy beplan om dit ook met ’n visdammetjie te vervang.

Droogte? Nee wat, my tuin is al lankal waterwys. Droogte pla my nie. – Jenny

Langs die swembad groei turksvye in potte saam met Crassula capitella, wat later rooi verkleur namate dit ouer word. Voor is aalwyne en Cotyledons.

Staatmakers
“By ons plaaslike kwekery, The Lazy Gardener, stap ek altyd reguit na die vetplant-afdeling. Dit is wat werk in my tuin. Ek kies plante wat maklik verplant en steggies maak. Ek kan nou ’n hele nuwe bedding vol plant deur net steggies van bestaande plante in my tuin af te breek. Cotyledons en crassulas is van my gunstelinge en maak maklik steggies. Die pers wildeknoffel (Tulbaghia violacea) kan sonder moeite verdeel en verplant word en soutbos (Rhagoda histata) is perfek vir heinings. Ek verkies om nie eenjariges te plant nie; hulle is net een seisoen mooi.”
Ek sien myself nie as ’n tuinier nie, maar eerder as iemand wat my tuin versier. – Jenny

Jenny beskou haar tuin as deel van haar huis – daarom wil sy elke hoekie buite mooimaak net soos binne. “Die trommels word vir my net mooier hoe meer dit roes. Die kleure word sagter en subtieler hoe langer dit in die wind en weer staan. Dit raak meer vintage.”

“Die grassnyer was ’n groot gelukskoot. Waarvan ek die meeste hou, is die kleurkombinasie daarvan en dat die koord wat jy trek om die grassnyer aan die gang te kry, steeds daaraan vas is!”

Haar wenke

Jenny sê sy is glad nie ’n tuinkenner wat weet hoe om ’n tuin uit te lê of watter plante om te kombineer nie. Sy leer soos sy aangaan en vind met haar eie tuin uit wat werk en wat nie. Hier is haar raad:

Vir tuinmaak

  • Wanneer jy die lyne van jou huis, grensmure en swembad gebruik om blokke te vorm, maak dit dinge meer hanteerbaar. Deur dit blok vir blok te beplant, het ek meer selfvertroue gekry. Ek sprinkel die lyne met meel en staan dan terug om te kyk of dit gaan werk. Dan pak ek die lyne met rooi bakstene om die finale blokke te vorm – ek hou van die sterk, reguit lyne wat die rooi stene skep.
  • Benewens verhewe blom- beddings vir hoogte, maak ek piramides met houtsparre en draad of gebruik groot potte. Die piramides en potte vorm fokuspunte en lyk altyd mooi met ’n interessante plant wat daarin of daarteen groei.
  • As dit by plantkeuses kom, kombineer ek so drie soorte plante in ’n bedding – dis ’n veiliger opsie as ’n groter verskeidenheid. Ek kies plante volgens hoe dit deur die loop van die jaar lyk, eerder as hoe dit lyk wanneer dit blom; mooi blomme is vir my ’n bonus. Plante moet ook waterwys wees en maklik verplant of van steggies groei. Ek huiwer nie om plante uit te haal wat sukkel as gevolg van swak grond of honde wat dit verrinneweer nie. Dan vervang ek hulle met melkemmers en sinkbaddens vol vetplante met klippe tussenin.

Vir tuindekor

  • Leer ken die mense by jou plaaslike skrootwerf sodat hulle vir jou gepaste skroot kan uithou. Wees geduldig, dit neem jare om ’n mooi versameling op te bou.
  • Kombineer kontrasterende kleure. As die trommel byvoorbeeld groen of blou is, sit ek ’n rooi emaljebak bo-op vir kontras. Ek gebruik nie sommer ysterware in te helder kleure nie, want die antieke voorkoms van verweerde yster is vir my pragtig.
  • Probeer om nie verskillende style te meng nie. Glo in jou smaak en styl en hou daarby; sodoende sal enigiets wat jy byvoeg, pas by wat reeds daar is.
  • As jy iets sien wat vir jou mooi is en dit is billik, koop dit al weet jy nie nou waar jy dit gaan gebruik nie. Jy sal altyd ’n gaatjie daarvoor kry.
  • Ek glo hoe meer, hoe beter. Net ’n trommel is nie genoeg nie, ek versier dit met metaalharte wat ek by Pep Stores of MRP Home koop om dit nog mooier te laat lyk!
VERSKAFFERS
  • Andy’s Scrap Metal Dealers 082 700 1633
  • The Lazy Gardener 083 262 5502