Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER? Louis Heyneman

WAAR Vredehoek, Kaapstad

GROOTTE VAN TUIN 150m2

GRONDTIPE Sanderig

Toe die droogte Kaapstad in 2017 regtig begin knel, het hy iets op Facebook gesê wat mense sommer baie vies gemaak het, vertel Louis Heyneman, uitvoerende hoof van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. “Ek het geskryf miskien moet die bouregulasies so aangepas word dat dit almal verplig om water en elektrisiteit te bespaar. Mense het gesê hoe durf ek voorstel dat strafmaatreëls ingestel word teen mense wat nie aan sulke regulasies gehoor gee nie. Boonop sou dit boukoste net nog meer opstoot.”

Maar later, toe die droogte vererger, het mense begin besef iets sal moet verander.

“As die Kaap nie genoeg water vir sy inwoners het nie, móét ons anders dink oor ons tuine; móét ons ekovriendelik begin leef,” sê Louis. “En dis nie net hier nie; dis wêreldwyd mense se voorland.”

Louis is in die gelukkige posisie dat die huis wat hy tien jaar gelede gekoop het, toe al ontwerp is om ’n ligte voetspoor op die aarde te laat. “In die kelderverdieping is groot tenks wat al die reënwater opvang. Dit word na die waskamer, storte en tuin gepomp,” verduidelik hy.

Dit is nie ’n verrassing dat sy tuin klein is en met waterslim spesies beplant is nie. “Ek is nie ten gunste van groot tuine wat water opslurp nie. ’n Klein tuintjie wat na homself kan kyk, is baie belangrik.”

Hy noem sy tuin “eintlik ’n groen binnehof”, nie ’n gesnoeide, gemanikuurde tuin nie.

“Ek dink dis hoe die tuin van die toekoms gaan lyk: van hoë gehalte, klein en kompak en weg uit die wind.”

’n Vriend van Louis, Etienne Koekemoer, en die landskapontwerper Kobus Meiring het so vier jaar gelede sy ekovriendelike tuin help beplan. Sedertdien is daar nie veel werk nie, behalwe snoei, voed en nat hou. “Maar ek moes ook maar baie eksperimenteer. Die plaveisel wat die plek van die grasperk ingeneem het, het baie warm gebak in die son en alles wat in die openinge tussenin geplant is, het gevrek. Ek het uiteindelik nou baie sukses met magrietgras, wat sterk groei en ’n baie natuurlike voorkoms help skep.” Vandag is dit ’n beskutte klein oase in ’n stadsbuurt wat berug is vir die suidooster.

Verskillende herwinde materiale, soos leiklip wat in stroke gesny is, verryk die tuin met ongewone teksture.

Groot dele van die huis is gebou met herbenutte materiaal en die natuurlike klip kom alles van die terrein.

Beplan goed

“’n Binnehof moet gesellig ingerig en goed onderhou word, anders kan dit die voorkoms van jou huis bederf,” waarsku Wouter Kruidenier van De Kruidenier Eksklusiewe Tuine in Durbanville. “Water en plante is die hoofbestanddele vir geselligheid,” sê hy. “Daarna kan ’n mooi tafeltjie en stoele of ’n sonstoel of wiegbankie ekstra sjarme toevoeg en jou buitentoe lok.”

  • Kyk eerstens na wanneer en hoeveel son jou binnehof se grondoppervlak bereik en hoe lank dit bly skyn.
  • Die binnehof hoef nie net ’n ruimte te wees om te geniet wanneer jy daarin is nie; dit vergroot as’t ware die vertrek wat daarop uitloop. Dit kan dus winter én somer van nut wees, in die dag én die aand indien dit verlig word.
  • Wat wil jy in die ruimte doen? Rig dit vir die bepaalde doel in en moenie dit volprop nie. Hou dit eenvoudig en treffend.
  • ’n Binnehof hoef nie noodwendig omring te wees deur vier mure nie. ’n “Muur” kan ook geskep word deur ’n struikheining te plant.

Kies jou plante só

1: Versag harde strukture

Om harde strukture soos mure en dakke wat ’n binnehof omring, te versag, stel Wouter voor jy kies struike met aantreklike loof. “Coprosma-variëteite met hul lieflike blink en/of bont blare kan oor die algemeen halfskadu-toestande en ook volson hanteer en is dus ideaal. Die boom-van-die-konings (Cordyline terminalis) het mooi wynrooi blare en is treffend in ’n binnehof met ’n effens tropiese tema.” Ander moontlikhede sluit bloedblaar (Iresine herbstii), josefskleed (Alternanthera ‘Purple Knight’), ruigtespoorsalie (Plectranthus madagascariensis ‘Variegata’), olifantsoor (Colocasia esculenta) en sy wynrooi variëteit ‘Black Magic’, en Hawaise dwerg (Schefflera arboricola ‘Jacquelene’ of ‘Variegata’) en sy variëteite in.

2: Kyk na die son

“Wat jy in jou binnehof gaan plant, sal regstreeks afhang van hoeveel son daar kom,” verduidelik Wouter. “As dit ’n groot ruimte is, kan laatmiddagson teen ’n groot hoek inskyn en oggendson die plante ook reeds vroeër bereik. In daardie geval kan plante wat volson verkies, gebruik word.

“As jou binnehof klein is en in die middelsomer hoogstens tussen 11:00 en 14:00 son kry, is dit raadsaam om plante te gebruik wat son én skadu verdra. Goeie voorbeelde is broodbome, heilige bamboes (Nandina domestica), vlaslelie (Dianella tasmanica ‘Variegata’), lemoenjasmyn (Murraya exotica), watergras (Chlorophytum saundersiae ‘Starlight’), mondogras, Asparagus-spesies, verbleikblom (Brunfelsia-spesies), spekbome, Coprosma en wandelende Jood (Tradescantia pallida).”

Volgens Wouter sal skaduplante in die somer skroei indien dit al is wat in ’n klein binnehof groei; en indien net sonliewende plante gebruik word, sal hulle onnatuurlik groei (langbeentjies maak, min en abnormaal blom) en makliker swamsiektes kry.

“As dit hoofsaaklik oggendson is wat in jou binnehof skyn, kyk na skaduliewende plante soos krismisrose (Hydrangea), Hosta, Clivia, asaleas, kamelias, tongviooltjie (Streptocarpus gardenii), spoorsalie (Plectranthus ecklonii) en bosklokkie (Mackaya bella). Byna alle plante verkies om oggendson te kry. Daar is werklik min wat soos die ysterplant (Aspidistra elatior) algehele skadu verkies.”

3: Eksperimenteer

“ ’n Binnehof gee jou die geleentheid om te eksperimenteer met struike of meerjarige plante wat ekstra aandag en beskutting sal waardeer,” gesels Wouter. “Japannese esdoring (Acer palmatum) kan lekker gepamperlang word in ’n binnehof, net soos verskeie varings, waaronder die inheemse seweweeksvaring – hoofsaaklik omdat hul waterbehoeftes groter as dié van algemene tuinplante is. In jou binnehof kan hulle ’n bietjie voorgetrek word. Nog plante wat moontlik in ’n groot, onbeskutte tuin sou swaar kry, is Hosta, Streptocarpus en die lenteroos (Helleborus orientalis).”

Hy noem ook dat mense geneig is om oorboord te gaan met potte, veral wanneer hulle ’n plant wat beter in oop grond sou presteer, vonnis deur dit tot ’n pot te beperk. “Gebruik potte in groepe van drie of hoogstens vyf op plekke waar jy nie in oop grond kan plant nie of waar ’n aksent nodig is,” is sy raad. “Dis nuttig om plante wat spesifieke grondbehoeftes het, soos krismisrose, in ’n pot te plant. Onthou net plante is meer kwesbaar in potte, hulle het meer gereeld water nodig en goeie dreinering is uiters belangrik.”

Die groot rotse was op die erf en is in die tuin gelos – die binnehof is daarrondom beplan en uitgelê.

’n Klein grasperk is vervang met plaveistene.

4: Dink vertikaal

Wouter glo ook tuiniers moet vertikaal dink en plante wat hoogte sal gee in klein binnehowe gebruik. “Oorweeg skraal bome soos luiperd-bome, soetkasuur (Hymenosporum flavum) en berkebome. Indien dit in jou smaak val, kan palms ook werk. Of skep dieselfde gevoel met rankplante,” sê hy. “Teen ’n warm muur sal byna enige klimplant werk, maar teen mure waar minder son skyn, is jy beperk tot Bostonse klimop (Parthenocissus tricuspidata) en kruipvy (Ficus pumila). Laasgenoemde sal self sy weg teen die muur vind, andersins kan jy ’n vlekvryestaal-kabelstruktuur vir ondersteuning teen ’n warm muur span. Ek glo nie in houtstrukture nie, want dit val ná ’n paar jaar uitmekaar en dan moet jy weer van voor af begin.”

KONTAK Wouter Kruidenier info@dekruidenier.co.za, dekruidenier.co.za