Foto’s Sally Chance

WIE WOON HIER? Elize en John Jackson
WAAR Underberg, KwaZulu-Natal
GROOTTE VAN TUIN 5 ha
TIPE GROND Sanderig

Elize Jackson het haar tuin in die Underberg-distrik van KwaZulu-Natal begin sodat sy moederplante kon kweek om nuwes vir haar kwekery te maak – almal gehard, want hier word dit bitterlik koud in die winter. Sy en haar man, John, het in 1996 na ’n plaas in die distrik verhuis. Toe sy begin tuinmaak, het sy besef hoe moeilik dit is om plante in die hande te kry wat geskik is vir hierdie koue klimaat.

Dis toe dat hulle besluit om ’n kwekery juis vir dié doel te begin. “Op klein skaal het ek begin plante kweek wat bestand is teen die koue en was verstom oor hoeveel belangstelling daar by tuiniers hiervoor is. Ons het besluit om die plaas te verkoop en na ’n kleinhoewe nader aan die dorp te trek waar ons ’n kwekery van nuuts af kon ontwikkel,” verduidelik sy. “So het Heritage Plants ontstaan.”

Dit was tot dusver 14 wonderlike jare van navorsing doen, tuiniers van oraloor ontmoet en inligting en idees uitruil. “Ons klante kom van al die uiters koue dele in die land – die Vrystaat, die Oos-Kaap, Gauteng en natuurlik ook plaaslik.

“Ons klimaat is regtig ’n groot uitdaging. Die aktiewe groeiseisoen hier is eintlik net vier maande. Ryp en selfs sneeu is algemeen; boonop woon ons in ’n haelgordel. Dit beteken al die plante in die kwekery groei in tonnels wat met haelnet bedek is. John, wat baie prakties is, het die strukture gebou. Daar is sewe van hulle met honderde plante in. Die meeste kom oorspronklik van die Noordelike Halfrond waar hulle in soortgelyke toestande groei,” vertel sy.

Elize eksperimenteer graag met plante en saad wat sy vermoed geskik sal wees vir hul klimaat. Saam met Jabu Bhengu, haar regterhand van 16 jaar, kweek hulle die plante wat in die kwekery verkoop word. “Jabu het ’n ongelooflike passie vir plante, wat geweldig baie help met die vermeerdering. Haar broer, Zamo, en broerskind Bheki werk ook hier. Dis omtrént ’n familiesaak!”

1. Elize kweek ’n groot verskeidenheid rose, asook een- en meerjarige plante wat bestand is teen die koue toestande in haar tuin. Hier verskaf ’n pragtige pienk ‘Tauschendschön’-rankroos die perfekte dakkie oor ’n tuinbank. 2. ‘Paul Neyron 3. Bow Bells, ’n moderne David Austin-struikroos, vorm die agtergrond vir ’n bedding blou ridderspore.

1. Elize Jackson 2. ‘Pink Grootendorst’

Hande in die grond

Met dié dat Elize haar tuin grootliks gebruik om moederplante te kweek, verander dit voortdurend. Sy plant gereeld nuwe soorte plante en haal ander, waarvan sy nie meer soveel moederplante nodig het nie, uit. Onder die groot naaldeike kweek sy skaduliefhebbers soos kamelias, asaleas, rododendrons, Cyclamens en Hostas. In die son groei meerjariges soos Lysimachia ciliata ‘Purpurea’, Veronica- en Campanula-variëteite, en ’n groot verskeidenheid salies en pioenrose. Hoewel daar reeds baie bome op die eiendom was, het sy ook nuwe blomdraende bome soos blomkersies en blomappels aangeplant.

“My kennis van plante het maar so met verloop van jare uitgebrei deur leer en probeer. Toe ons in Durban gebly het, het ek by ’n plaaslike kwekery betrokke geraak en by die tuinbouvereniging aangesluit. Ek het toe al plante versamel en met saad geëksperimenteer.

“Ek het op ’n plaas grootgeword en kon ure lank in die veld loop en plante en grasse ontdek. Ek is ’n regte plaasmeisie. Die stadslewe is nie vir my nie en ek het nie van die Durbanse leefstyl gehou nie. My liefde vir tuinmaak was my enigste manier om in die stad te oorleef. Ek moes my hande in die grond hê om te voel ek leef na aan die natuur.”

Bome wat blomme dra, soos die blomkersie (Prunus ‘Fugenzo’), vaar goed in koue tuine.

Ek bedek nooit my moederplante teen ryp nie. Dit sou oneerlik teenoor my klante wees. Party verdwyn wel in die winter in die grond, maar hulle kom weer terug. – Elize

1. Acer dissectum -variëteite 2. Goudkleurige Coreopsis auriculata nana ‘Elfin Gold’ vorm ’n lieflike kontras met blou Phlox divaricata en liggeel Sisyrinchium striatum.

Elize se wenke vir koue tuine

Blare

Dit is belangrik dat die beddings nie aan die koue blootgestel word nie. Ons bome is almal bladwisselend. Die blare wat in die beddings val, bly daar lê tot einde Augustus. Dis soos ’n kombers wat die plante teen die koue beskerm. Die blare wat tussen die struike val, ontbind in elk geval op ’n natuurlike manier.

Kompos

Gebruik groot hoeveelhede kompos in die beddings. Dit beskerm die plante in die winter en is goed vir die grond. Plaas die kompos bo-op die grond, sonder om dit in te spit. Al wanneer ons die beddings omspit, is wanneer ons ’n bedding van nuuts af wil beplant. Dan verwyder ons die blare wat in die bedding lê en berei die grond deeglik voor. Maar daarna spit en grawe jy nie weer nie. Tuiniers hark heeltemal te veel en spit die grond onnodig om. Dit laat baie voedingstowwe verlore gaan.

Water

Ek gee my plante in die winter een keer ’n week water. Mense sê dis nie nodig nie, want plante gaan in hul winterslaap, maar ek stem nie saam nie. Die plante wat ons kweek, kom grootliks van die Noordelike Halfrond waar hulle in die winter reën kry. So, as jy in ’n koue klimaat bly en nie in die winter reën kry nie, moet jy dié tipe plante natmaak. Die wortels moenie uitdroog nie. 

Azalea mollis is ’n bladwisselende asalea wat in die lente trosse vrolike blomme dra; boonop sorg die blare in die herfs vir ’n skouspel van kleur.

Rose is almal so mooi; dis baie moeilik om ’n gunsteling te kies. – Elize
Elize se gunstelingrose

Elize het talle gunstelinge; hier is ’n paar van hulle:

  • ‘Sachsengruss’
  • ‘Crépuscule'
  • ‘Erfurt’
  • ‘Gypsy Boy’
  • ‘Frau Karl Druschki’
  • ‘Rosa laevigata’
  • ‘Mrs. Oakley Fisher’
  • ‘Beauty of Glazenwood’
  • ‘Cardinal de Richelieu’
  • ‘Belle de Crecy’

‘The Fairy’

Rooswenke

Elize het ook ’n groot verskeidenheid rose – veral erfenisrose – in haar tuin. Haar belangstelling hierin is geprikkel toe sy in 2000 Joy Taylor se tuin op die plaas Wylde Home in die Underberg-distrik besoek het. Vandag het Elize sowat 160 erfenisrose wat oraloor in haar tuin en teen die heinings groei. Hier is haar raad vir rose:

Vog en water

“Tuiniers vertroetel rose te veel. ’n Mens hoor baie dat rose ’n sekere hoeveelheid water per week nodig het, maar as dit reg geplant word en een keer ’n week diep water kry, selfs in die somer, is dit oorgenoeg. Ons gooi gereeld ’n deklaag om die rose. Die roos is dus altyd onder ’n kombersie van goedheid. Met ’n deklaag bly die grond vogtig en word die onkruid in toom gehou. Deur net dít te doen, is jou rose al goed versorg.”

Plant reg

Wanneer ons rose in ’n nuwe bedding plant, word die grond goed voorberei. Ek neem eers ’n lesing van die pH van die grond. Rose verkies grond met ’n pH van sowat 5,5 tot 6,5. As die pH te laag is, voeg ek landboukalk by om dit te verhoog. Daarna meng ons bees- of perdemis by ons tuisgemaakte kompos en werk dit in die bedding in.

Elke roos kry ’n plantgat van 80 x 80 x 80 cm. As ons die rose in ’n bestaande bedding plant, meng ons die grond wat uit die plantgat kom met die kompos-en-mismengsel. ’n Hand vol Accelerator van National Plant Foods kom in die plantgat en sowat 15 ml Mycorrhizae, ’n wortelswam, word oor die roos se wortels gestrooi. Dit help die plant om voedingstowwe op te neem. Sit die roos in die gat, maar maak seker die okuleerlas, waar die roos geënt is, is onder die grond. Baie tuiniers plant rose te vlak. Die nuwe, sterk groei kom uit die okkuleerlas. As dit bo die grond is, droog dit uit en sal jy nie goeie nuwe groei kry nie. Vul die plantgat met die kompos-en-mismengsel en maak goed nat.

Snoei

Hoewel dieselfde snoeibeginsels toegepas word, kan ’n mens in ’n koue klimaat nie op dieselfde tyd as in ’n warmer klimaat snoei nie. Ons snoei eers teen die begin van Augustus. Erfenisrose het in elk geval baie min snoei nodig.

Spuit en voed

Saam met snoeityd spuit ons kalkswael, en sodra die rose vol blare is, volg ons ’n spuitprogram om dit teen swamme te beskerm. Dit doen ons tot min of meer halfpad deur Junie. Die middel waarmee ons spuit, word weekliks afgewissel sodat dieselfde produk nie oor en oor gebruik word nie. Ons voeg ’n vloeibare bemesting by die spuitstof – enige goeie produk soos Nitrosol is geskik – maar dit doen ons eers van September af. As jy hier te vroeg kos gee en die rose begin uitloop voor die rypgevaar verby is, loop jy die risiko dat nuwe groei deur ryp beskadig kan word. Sodra die rose in die winter rustend is, met geen nuwe groei nie, hou ons op met kosgee.

KONTAK
Heritage Plants 074 147 2527, fiddlersgreen@futurenet.co.za