Foto’s Francois Oberholster

Wie woon hier? Theo en Ina Nauhaus, Roger Federer die Jack Russell en Plonsie die gemmerkat
WAAR Bloemfontein
GROOTTE 250 m² (kleurvolle voortuin 42 m²)
GRONDSOORT Klei Ina se voortuin is op sy mooiste in die lente.

Ina glo eerste indrukke tel. Sy wou hê die voortuin van hul Bloemfonteinse meenthuis moet so mooi en kleurvol wees dat mense wonder wat is nóg agter daardie tuinhekkie! En dit is presies wat sy regkry, boonop met gryswater.

“Ek hou my voortuin al die afgelope vier jaar met wasmasjienwater aan die gang. Dit is tydrowend, maar die moeite werd. Ek het die afloop in my tuin begin benut toe ek besef het hoeveel water die wasmasjien gebruik, en met die onlangse droogte het dit baie handig te pas gekom,” vertel sy. “Ons het ’n 30 m lange 30 mm-plastiekpyp aan die wasmasjien se uitlaat verbind en wanneer ek wasgoed was moet ek die pyp fisies heen en weer skuif om alles nat te kry. Ek maak ook seker dat die eerste seepwater nie elke keer op dieselfde plante uitloop nie.”

Buiten die wasmasjienwater pomp Ina en Theo ook hul badwater tuin toe. “Ek hou van bad – ek bad eerste en my man tweede. Dan pomp ons die water met ’n Waterfall-tuinpompie wat aan ’n lang 25 mm-pyp verbind is, tuin toe. Die pompie kom in die bad, die pyp gaan deur die badkamervenster en ek staan buite en gooi die agtertuin daarmee nat. Dis ’n primitiewe stelsel, maar dit werk vir ons.”

Om nog meer waterwys te wees het hulle ook drie JoJo-tenks waarin hulle reënwater opvang. Dié tenkwater gebruik hulle dan om die tuin en potte verder nat te maak met behulp van pype en gieters. Ina het so drie jaar gelede van haar rose uitgehaal en vervang met onder meer agapante, groot wilde-irisse, salies en daglelies – almal meer geharde plante wat minder water nodig het. Sy het ook in ’n baie warm tuinhoekie plaveiblokke gelê met kunsgras tussenin, wat ’n verdere besparing van water meebring.

Sy plant haar lenteblomme al in April en Mei om dié seisoen so kleurvol moontlik te maak. Sodra Bloemfontein se warm somer begin, vervang sy van die lenteblommende eenjariges met portulakke (Portulaca grandiflora) en petunias wat meer gehard is. Wintermaande word die pot op die stomp vol gesiggies geplant en in die somer groei hier petunias. Yslandse papawers gee in die winter kleur in die onderste blombakke; in die somer is dit ysterkruid.

/
/
/

Ina se voortuin is op sy mooiste in die lente. Sy plant haar lenteblomme al in April en Mei om dié seisoen so kleurvol moontlik te maak. Sodra Bloemfontein se warm somer begin, vervang sy van die lenteblommende eenjariges met portulakke (Portulaca grandiflora) en petunias wat meer gehard is. Wintermaande word die pot op die stomp vol gesiggies geplant en in die somer groei hier petunias. Yslandse papawers gee in die winter kleur in die onderste blombakke; in die somer is dit ysterkruid.

Potte vol kalanchoes versier die trappe na die agterstoep. By elke ‘Iceberg’-roos hang twee mandjies vol wit en blou lobelias. Daaronder blom gesiggies en heuningblommetjies.


Ina gebruik potte en hangmandjies vir kleur, veral in die winter en vroeglente.

1. Amarillisse vol in die blom. 2. Ysterkruid en lobelias sorg vir kleur. 3. Goudgeel Coreopsis, Inkalelies en gesiggies.

Ina se tuinraad

  • Ek gebruik bioafbreekbare waspoeier en het nog nooit enige probleme by my plante opgemerk as gevolg daarvan nie. Produkte met baie fosfate in moet wel vermy word.
  • Om water te bespaar plant ek die afgelope twee jaar baie plante in potte. So kan ek elke pot na sy behoefte water gee. Ek gebruik platterige groen plastiekpotte waarin ek eenjariges plant en sit dit tussen die grondbedekkers. Namate die eenjariges groter word, kan jy glad nie meer die pot sien nie.
  • Ek voeg Efekto se Wonder Stockosorb Waterwise Crystals by die grond in die potte en hangmandjies en by alle nuwe plante. Dit is ’n waterhoudende produk en verbeter die waterhouvermoë van die grond met tot 50%. Boonop is dit langwerkend.
  • Deklae is ’n moet. In die herfs val die blare van die bure se populier- en akkerbome in ons beddings. Sommige van die blare laat ek net so lê en die ander kerf ons op en gebruik dit as deklaag in die res van die tuin. Ek het ook met bas, lusernpille en grondboontjiedoppe as deklaag geëksperimenteer, maar met die onlangse droogte het dit my gepla dat dié produkte self soveel vog absorbeer. Ek verkies dus blare, kompos of Culterra se kommersiële deklaag. Gruisklippies werk ook goed op die regte plekke.
  • Gee plante gereeld kos. Met planttyd voed ek saailinge met Lucky Plant of Seagro se blaarvoeding. Ek gebruik ook Atlantic Fertilisers se Bio Ocean-korrels (’n organiese misstof) en Earth2Earth se kompos.
  • Ek plant al die saailinge self en doen dit laatmiddag wanneer die ergste hitte oor is.
Raad oor gryswater

’n Gryswaterstelsel kan baie eenvoudig wees: Herlei bloot die afloopwater uit jou kombuis (net nie die skottelgoedwater nie) en badkamer na ’n tenk in jou tuin.

As swaartekrag aan jou kant is en die afvoerpype hoog genoeg sit, sal die water onder eie druk na die opgaartenk vloei. Van daar voer ’n pomp die water na jou tuin. As jy ’n vlotterskakelaar in die tenk gebruik, skakel die stelsel vanself aan sodra daar genoeg water in is. ’n Filter is noodsaaklik om te keer dat jou pomp en sproeiers verstop.

Daar is talle stelsels op die mark wat jy maklik self kan installeer, soos dié van Maskam Water (maskamwater.com) en Ecogator (ecogator.co.za).

As jy nie self kans sien vir die pypwerk nie, kry ’n loodgieter, en laat alle elektriese verbindings aan ’n elektrisiën oor. Indien jy nie ’n selfdoener is nie, kan jy altyd ’n installeerder met ervaring van die ontwerp en/of installering van gryswaterstelsels uitroep; kies een wat verwysings van ander kliënte kan verskaf.

Waar ’n gryswaterstelsel permanent met ’n huis se loodgietwerk verbind is, word ’n sertifikaat van voldoening vereis wanneer jy die eiendom verkoop. Huidige bouregulasies bepaal ook dat indien jy enige alternatiewe waterbron in jou huis of tuin – selfs reën- of boorgatwater – gebruik, daar ’n laedruksone- (“reduced pressure zone”-) klep geïnstalleer moet word by elke punt waar water van ’n ander bron by die munisipale stelsel aansluit.

Dit keer dat gryswater in die drink-waterlyn terugvloei.


Het jy geweet?

Suurstofryke water is goed vir tuingrond. Jy kan gryswater in ’n opgaartenk meer suurstof gee met behulp van ’n positieweverplasingspomp (“positive displacement air pump”).

Belugting deur so ’n pomp help ook keer dat slegte reuke ontwikkel terwyl die water gestoor word.

Indien water uit die tenk oorloop, moet dit na die munisipale rioolstelsel vloei – nie na die stormwaterstelsel nie, want dit sal die omgewing besoedel.

Indien die oorloop direk met die rioolstelsel verbind is (nie via ’n voor nie), moet ’n keerklep geïnstalleer word wat sal verhoed dat riool in jou stelsel beland in die geval van ’n verstopping in die rioolstelsel.

Bronne Gerhard Cronje (maskamwater.com) en Mike Bekink (greywater.co.za)

Die ‘Sans Souci’-roos blom sonder ophou van die lente tot die winter.
Daar is vir my niks lekkerders as om in die tuin te vroetel en die resultate van my handewerk te sien nie. – Ina
/
/
/
/

1. ‘South Africa’, 2. Amarillis 3. Ina het onlangs ’n waterwys tuin in die agtertuin aangelê. Hier groei hoofsaaklik vetplante soos spekbome, woestynrose, aalwyne, vetkruid en Euphorbias. 4. Ina en Theo Nauhaus

Van veld tot stad

Ina het nie altyd so ’n oorvloed blomme in haar tuin gehad nie. “My liefde vir tuinmaak het begin toe ek ná my troue plaas toe getrek het daar tussen Hoopstad en Hertzogville. Theo het vir ons ’n rondawelhuis tussen die blinkblaar-wag-’n-bietjies en kameeldoringbome gebou. Daar het ek in die veld om die huis begin tuinmaak; dit was hoofsaaklik ’n groot grasperk en struike. Toe al het ons badwater tuin toe geloop.”

Agt jaar gelede het Ina en Theo Bloemfontein toe getrek. Die meenthuis se tuin was gevestig, maar sy wou haar eie stempel daarop afdruk. Sy het van die kleiner plante vervang met een- en meerjariges soos heuningblommetjies, gesiggies, feetjieprimulas en malvas wat ’n oorvloed kleur gee. Vir Ina is haar tuin nie net ’n stokperdjie nie – dit is terapeuties, vertel sy. En dit is waar jy haar reeds met sonsopkoms elke dag sal kry!

Kleurvolle gunstelinge
  • Heuningblommetjie (Lobularia maritima) met hul heerlike geur is ware staatmakers. Hulle saai hulself, kombineer goed met ander plante en maak ’n mooi vertoning. Met heuningblommetjies stop jy selfs die kleinste gaatjie in jou tuin toe!
  • Wildelobelia (Lobelia erinus). Ek hou van blou blomme, en wildelobelias lyk pragtig in hangmandjies.
  • SunPatiens is so kleurvol in die somer.
  • Malvas is altyd gewillig om te blom en het nie baie water nodig nie.
  • Meisie-oë (Coreopsis grandiflora) blom feitlik die hele jaar. Dit groei onder my ‘South Africa’-rose en lyk pragtig daarby.
  • Ysterkruid (Verbena peruviana) is ’n geharde plant en te kry in ’n groot verskeidenheid kleure.
  • Daglelies (Hemerocallis-hibriede) maak groot polle en groei ’n bedding maklik toe.
  • Inkalelies (Alstroemeria aurea) blom jaar na jaar en teel vinnig aan.
  • Yslandse papawers (Papaver nudicaule) vir kleur in die winter.
  • Grasangeliere (Dianthus-hibriede) blom oorvloedig en het ook nie baie water nodig nie.