Foto’s Elza Cooper

WIE WOON HIER?

Cécile Jadin en haar man, Patrick Gérin
WAAR Chartwell North Estates, Johannesburg
GROOTTE VAN TUIN 5 000m2
GRONDTIPE Hoofsaaklik sanderig

Waar eers ’n weikamp was, het Cécile Jadin vandag ’n Franse tuin wat haar aan die tuine uit haar kinderdae in België herinner.

“Ek en my man, Patrick, het 36 jaar gelede uit België na Suid-Afrika verhuis. As deel van my studies as mediese dokter moes ek ’n spesialisjaar in ’n ander land gaan doen. Ek kon kies tussen Suid-Afrika en Switserland. Ek het Suid-Afrika gekies – en ons het net nooit weer teruggegaan nie,” vertel Cécile.

“My voortuin is ’n kleiner weergawe van die tuine waarin ek grootgeword het. Ek is in Burundi gebore en was agt jaar oud toe ons na Antwerp, België, verhuis het. Ons tuin daar was klein, maar het gelyk soos die baie groot tuin wat my ouers later in Namur, Wallonië, gehad het. Daar het ons in ’n kasteel gebly. Ek het presies dieselfde tuin, net op ’n kleiner skaal, geteken en hier in my voortuin nagedoen.”

Die tuin het ’n formele voorkoms, grootliks danksy netjies gesnyde buksboom-heinings, reghoekige waterfokuspunte en reguit gruispaadjies. Die beddingrande word afgerond met blougrys Juniperus scopulorum ‘Skyrocket’ in die hoeke. In die lente is die jakarandas, een van Cécile se gunstelingbome, oortrek met massas pers blomme. 

Cécile se dogter Aurelie destyds in die voortuin wat nou in ’n lushof omskep is.

Cécile sê die waterfokuspunte gee atmosfeer aan haar tuin. In die damme met koivisse het sy tou oor die water gespan om te keer dat die hadidas hulle vang.

Daglelies (Hemerocallis-spp.) gedy in komposryke grond in ’n sonnige beddingrand.

Europese ontwerp onder Afrika-son

Cécile het 10 jaar gelede begin om haar voortuin hier in Johannesburg sy Franse voorkoms te gee. Voor dit was daar geen tuin nie. “Ek was vroeër baie besig met my praktyk, het baie gereis vir my werk en my kinders was klein. Tyd vir tuinmaak was daar nie.

“Aanvanklik het ons net die grond gelyk gemaak en gras geplant,” verduidelik sy. ’n Vriendin, Pat Tarr, wat baie lief is vir tuinmaak, het gehelp om die voortuin te omskep in wat dit vandag is.

Tussen die waterfokuspunte groei rose en baardirisse in ’n verskeidenheid kleure; nog gunstelinge is Strelitzias, malvas, lelies en kannas – party in beddings, ander in potte.

Om die tuin so mooi te hou word die beddings gevoed met perdemis en kompos wat hulle van grassnysels, ou blare en ander bruikbare tuinvullis maak. Die mis kom van die perde wat hulle op die eiendom aanhou. Danksy ’n boorgat op die erf het sy ook genoeg water vir die waterfokuspunte sowel as om die tuin te laat floreer.

“Ek het twee ongelooflike tuiniers wat my in die tuin help. Hulle verrig wondere en is vir al die onderhoud verantwoordelik. My grootste taak was die ontwerp van die tuin; nou is dit om die rose te snoei en seker te maak alles word natgegooi. My man help met die snoei van bome; hy ry ook die perde wat sorg vir die mis wat ek in die tuin inwerk!

“My tuin beteken vir my baie. Ek kan nie ophou om my te verwonder hoe sonlig en water ’n tuin in ’n lushof kan omskep nie. Dit is ongelooflik om te sien hoe die varings, irisse, impala- en ander lelies hier voor my spreek-kamer vir ’n ontploffing van kleur sorg. Die wonder van die natuur in Suid-Afrika en die energie en ook die vrede wat my tuin vir my gee, is net wonderlik.”

Kuns en kalmte

Suurlemoenbome, sipresse, rose en baardirisse groei in groot keramiekpotte gemaak deur die Johannesburgse keramiekkunstenaar Digby Hoets. Maar Cécile is self ’n internasionaal erkende kunstenaar en het die meeste van die beelde in die tuin self gemaak en ook die water-fokuspunte ontwerp.

Een van die beelde is van haar oudste seun, Jean-Baptiste, wat sy van gips gemaak het en wat na die noorde oor die huis en tuin kyk. “Ek wou beelde van al drie my kinders gemaak het, maar hy was die enigste een met genoeg geduld en wat my toegelaat het om dit te doen. Ek moes die pleister om hom vorm, wag tot dit droog is en toe weer afsny. Van die ander twee kinders het ek net ’n been of ’n arm of ’n kop, maar nie die hele lyf nie. Nou is hulle almal uit die huis en is dit moeilik om weer te probeer.”

Cécile wil meer beelde maak en nog waterfokuspunte ontwerp. Laasgenoemde is vir haar ’n plek om te mediteer en dit bring ’n gevoel van vrede en kalmte in die tuin. Sy beplan ook ’n labirint van sipresse waarin ’n mens kan wegraak.

Gunstelinge in die tuin

Behalwe baardirisse, waarvan daar baie in die tuin is, het Cécile gunstelinge wat kleur, vorm en geur aan haar tuin gee.

  • Die jakarandas en bloureën se pers blomme is pragtig. Ek hou ook baie van die ongelooflik mooi skadu’s wat die bloureën se blare vir ’n paar maande van die jaar gooi.
  • Doringbome vir hul pragtige vorms.
  • Ek hou baie van rose en hulle groei sonder veel moeite heeljaar goed hier by my.
  • Laventel vir hul wonderlike geur.
  • Die waterlelies wat my visdamme verfraai.
  • Strelitzias se besonderse groeiwyse gee aan die tuin ’n elegante voorkoms.
  • Krismisrose wat Kerstyd blom.
  • Die donkerblou agapante verskaf in die somer ’n oorvloed kleur.
  • My rooi malvas in die tuin en in potte.
  • Die Juniperus scopulorum ‘Skyrocket’ wat lyk of hulle met die wolke speel!
Die sonskyn in Suid-Afrika het gemaak dat ons nie weer teruggegaan het Europa toe nie. – Cécile

Die rooi tuin

Cécile het onlangs ’n kunstige rooi tuin ontwerp waaruit kinders én volwassenes vreugde kan put. “’n Rondreisende nutsman – ons ken hom net as James – het op ’n dag aan my deur kom klop op soek na werk. Nadat hy die huis geverf het, het ek die rooi tuin ontwerp; hy het toe die pale geverf en die tuin vir my uitgelê.” Rooi latte al langs die klippaadjie maak deel uit van ’n rooi tuin wat Cécile ontwerp het as spesiale projek om werk te verskaf aan ’n nutsman wat onlangs haar huis geverf het.

Wilderabarber (Acanthus mollis) met hul lang blomstele, blou agapante en wit spinnekoplelies verskaf kleur in skaduryke beddings onder die bome.

Ek kry my liefde vir tuinmaak van my ma. Sy het altyd ’n mooi tuin gehad. – Cécile

Cécile se tuinwenke

  • Hou daagliks ’n ogie oor jou plante – so sien jy dadelik as een aandag nodig het.
  • Moenie dat plante mekaar verdring nie; sny gereeld terug.
  • Gee genoeg water – plante kan nie daarsonder floreer nie.
  • Sny dooie blomme so gereeld moontlik af. Dit lyk mooier en blom dan meer.
  • Beskerm plante teen ryp. Ons gebruik in die winter strooi om rypgevoelige plante mee toe te maak.
  • Moenie te veel verskillende plante saam in een bedding plant nie. ’n Groter groep van een tipe plant maak ’n groter indruk as ’n mengelmoes.
  • Sorg dat die boonste helfte van baardiris-risome bo die grond is, dan blom hulle beter.
  • Geniet jou tuin en gee dit genoeg liefde.