Foto’s Sally Chance
Trish Guilhermino het nie begin tuinmaak voor haar planne goed agtermekaar was nie. “Die eerste jaar ná ons hier ingetrek het, het ek ure lank – op verskillende tye van die dag – in die tuin deurgebring. Dan het ek die beweging van die son en skaduwee in die verskillende seisoene dopgehou en gekyk watter plante floreer en watter kry swaar.”
Sy het ruwe sketse gemaak en die huis se planne en Google Earth gebruik om ’n idee van die ongewone vorm van die eiendom te kry. En toe het sy begin skoonmaak. “Ek het die plante wat oral in die grasperk geplant was, twee lang heinings in die middel van nêrens en seker ’n dosyn Tibouchinas uitgehaal. Die plante wat verwyder is, is opgekerf vir kompos en deklae,” vertel sy.