In massa-aanplantings kan groot groepe plante afgewissel word om dit interessant te hou, soos in hierdie randakker met engelvlerkies (Oenothera lindheimeri) en koringblomme (Scabiosa africana) in blokke.

Foto’s Francois Oberholster, Kosie Jansen van Rensburg, Deryck van Steenderen en Martin Bester 

Perswildeknoffel (Tulbaghia violacea) en mondogras (Ophiopogon japonicus) in ’n sirkelvormige ontwerp geplant vir visuele trefkrag.

As daar baie van een soort plant in ’n bedding of tuinkamer groei, het jou tuin trefkrag én is jou werk minder! Pietman Diener, tuinkenner van Stellenbosch, vertel meer: “Massa-aanplanting het baie voordele en kan in groot sowel as kleiner tuine gebruik word. In ’n groot tuin soos dié van Larisa Brody kan dit heeltemal oorweldigend raak as jy ’n te groot verskeidenheid plante in al die verskillende dele of tuinkamers het. Deur in party van die kamers ’n groep van net een soort plant te gebruik, skep jy ’n rustiger gevoel met groter trefkrag. Jy sien die plante regtig raak,” verduidelik hy. 

Bergtee (Geranium incanum)

Onderhoud

Nog ’n voordeel van massa-aanplanting is dat dit jou werklas verminder en jou tuin meer ekonomies en waterwys maak. Aangesien die hele bedding dieselfde waterbehoeftes het, kan jy daarvolgens natgooi en kry niks onnodig water nie. “Onderhoud is ook makliker,” sê Pietman. “Al die plante vereis dieselfde aandag op dieselfde tyd. Dis ook meer ekonomies om die bedding vol te kry – verdeel bloot die bestaande plante of maak steggies daarvan.”

Baie plante wat geskik is vir massa-aanplanting verg min sorg nadat hulle geplant is. Ornamentele grasse is ’n baie goeie keuse en hoef net een keer per jaar kort gesny te word. By agapante sny jy bloot die dooie blomkoppe af, Dietes het geen onderhoud nodig nie en ’n grondbedekker soos mondogras lyk met die minimum onderhoud altyd mooi.

’n Rits van bepaalde plante kan selfs in ’n heining gesnoei word. Al moet dit wel van tyd tot tyd netjies gesny word, wat natuurlik werk vereis, maak dit indruk met relatief min moeite.

Massa-aanplanting is ook ’n baie goeie manier om die aandag op tuinornamente soos ’n beeld of ’n pot te vestig, sê Pietman. “Deur een tipe plant rondom so ’n element te hê, sien jy dít eerder as die plante daarrondom raak.”

As jou tuin klein is, kan jy massa-aanplantings eenvoudig op ’n kleiner skaal doen. “Deur byvoorbeeld vyf tot sewe van ’n soort saam te plant, skep jy in die klein ruimte die indruk van oorvloed, maar ook van eenvoud. En as jy net ’n stoep of ’n balkon het, plant ’n paar van dieselfde plante in potte en groepeer hulle saam. Goeie keuses vir dié doel is malvas op ’n sonnige balkon en fuchsias op ’n skaduryke stoep.”

Geskikte plante 

Die volgende plante werk goed vir massa-aanplanting, elkeen vir ’n spesifieke doel.

Agapant Foto geneem by Rustenberg-wynlandgoed

1 Vir ’n inheemse bedding

Agapante (Agapanthus) Agapante is altyd ’n staatmaker en perfek vir massa-aanplantings. Deesdae is daar baie verskillende kultivars om uit te kies. Groter plante met groot blomme soos Agapanthus ‘Blue Flare’ en A. ‘Purple Delight’ is perfek vir massa-aanplanting in ’n groot tuin, terwyl die kleiner Agapanthus ‘Barley Blue’ en A. ‘Double Diamond’ goed werk in kleiner tuine. Dié inheemse plante is waterwys, groei maklik en blom die hele somer lank. Plant dit sowat 30 cm uitmekaar in komposryke grond wat goed dreineer en gee gereeld water tot hulle gevestig is; daarna vra dit min water.

Agapante groei vinnig en vermeerder vanself. Verdeel die plante as dit ’n te digte pol vorm en plant uit waar nodig. Sny gereeld die dooie blomkoppe af, maar los teen die einde van die seisoen van die blomme aan die plant sodat dit kan saad vorm. Die dooie blomme is ook mooi en gee jou bedding ’n voorkoms wat by die najaar pas.

Nog om van te kies

Wilde-iris (Dietes grandiflora) en poublom (D. bicolor) is waterwys en blom die hele somer lank. Hoewel die blomme nie lank hou nie, blom dit so oorvloedig, daar is feitlik reg deur die seisoen blomme aan die plant. Die inheemse Aristida junciformis-gras maak ’n mooi vertoning en gee beweging aan ’n bedding. Boslelies (Clivia miniata) en spoorsalies (Plectranthus-spp.) is pragtig onder bome of aan die skadukant van die huis.

Plantgids
  • Volson tot halfskaduwee
  • Waterwys
  • Redelik rypbestand
  • Meerjarig
  • Hoogte en wydte wissel

Clivia Foto geneem by Babylonstoren (babylonstoren.com)

Papawer

2 Eenjariges

Papawers (Papaver-variëteite) As jy die voorkoms van jou bedding kort-kort wil verander, saai eenjariges soos dié vrolike rooi papawers. Dié plante groei maklik van saad en blom oorvloedig in die lente en vroeë somer. Saai dit in die herfs in komposryke grond en hou nat totdat die saailinge goed gevestig is. Omdat papawersaad so klein is, is dit moeilik om die saad individueel te saai. Die saailinge kom dus plek-plek baie na aan mekaar op. Dun uit of los net so vir ’n massa blomme.

Los die plante ná blomtyd in die bedding sodat die saadkoppe kan droog word, want dit maak ook ’n mooi vertoning. Sny die saadkoppe versigtig af wanneer dit droog is en trek daarna die hele plant uit. Skud die fyn saadjies uit in ’n papiersak of bakkie, of bêre dit met saadkop en al – hulle sal self in die houer uitval. Saai weer in die herfs. Papawers is nie goeie plukblomme nie, so geniet dit in jou tuin.

Sommige papawers blom ander tye van die jaar – kyk agterop die saadpakkie wat elkeen se saai- en blomtyd is.

Nog om van te kies

Vir nog eenjarige lenteblomme, saai Kaliforniese papawers (Eschscholzia californica), koringblomme (Centaurea cyanus) of Namakwalandse madeliefies (Dimorphotheca aurantiaca). Laasgenoemde is ’n goeie keuse vir warm en droë streke. Vir somerblomme, saai eenjariges soos jakobregops (Zinnia elegans), kosmos (Cosmos bipinnatus) en sonneblomme (Helianthus annuus); doen dit sodra jy die papawers uitgetrek het. 

Plantgids
  • Volson
  • Gemiddelde waterbehoeftes
  • Redelik rypbestand
  • Eenjarig
  • Hoogte sowat 30 cm

3 Meerjariges en struike

Engelvlerkies (Oenothera lindheimeri) ’n Massa van dié plante bymekaar maak ’n pragtige vertoning met hul fyn wit en effens pienk blomme aan dun takkies. As daar selfs net ’n ligte briesie waai, lyk dit soos skoenlappers wat dans in die wind. Dié plante is gehard, met baie min water tevrede en blom die hele somer lank. Plant dit sowat 30 cm uitmekaar in goed gedreineerde komposryke grond.

Die plante verg min onderhoud. Sny liggies terug ná die eerste oorvloedige blomtyd om dit aan te moedig om nog meer blomme te produseer; sny vroeg in die winter heeltemal terug. Dit selfsaai maklik – of vermeerder dit deur die polle te verdeel. Engelvlerkies is goeie plukblomme. Plant Oenothera lindheimeri ‘Belleza’ as jy die donkerpienk engelvlerkies verkies.

In hul volle somerglorie lyk engelvlerkies soos ’n massa skoenlappers.

Nog om van te kies

Sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides), spoorsalies (Plectranthus-spp.), ’n verskeidenheid varings of Japannese anemone maak ’n mooi vertoning onder bome. Daglelies (Hemerocallis-hibriede), laventel, salies soos Salvia leucantha en aalwyne is geskik vir ’n bedding in die son. Struike soos krismisrose, asaleas en ’n roos soos ‘My Granny’ is ook perfek vir massa-aanplanting.

Plantgids
  • Volson
  • Waterwys
  • Rypbestand
  • Windbestand
  • Meerjarig
  • Hoogte 50 cm

Massas rotstuinsalies is ’n waterwys opsie wat min onderhoud vra.

Die vorm en voorkoms van die plant is baie meer opsigtelik wanneer daar meer van ’n soort bymekaar groei.
– Pietman

Woestynrosie

Arctotis-hibriede

 4 As grondbedekker

Gousblom (Arctotis-hibriede) Die inheemse gousblom het baie dieselfde voorkoms as die alombekende botterblom (Gazania-hibriede), maar groei effens hoër met langer blomstingels. Dit blom in die lente en vroeë somer en het ’n gryserige blaar. Daar is ’n groot verskeidenheid hibriede beskikbaar met blomme in pienk, rooi of geel. Plant dit in volson in goed gedreineerde grond. Kies kusgousblom (A. stoechadifolia) vir ’n tuin by die see; dit aard baie goed in sanderige grond. Die plant is droogtebestand en sal groot dele vinnig toegroei.

Foto geneem by Eenuurkop-gasteplaas (eenuurkop.co.za)

Nog om van te kies

Ander grondbedekkers wat geskik is vir massa-aanplanting is vlooikruid (Erigeron karvinskianus), rotstuinsalie (Plectranthus neochilus) en bergtee (Geranium incanum). Of plant woestynrosies (Echeveria-hibriede) vir hul mooi blaarvorm. In ’n skadukol is feetjie-crassula (Crassula multicava) ’n goeie keuse. Dit blom in die winter. Klimop (Hedera helix) aard in die son en skaduwee en is ideaal as jy ’n baie groot oppervlakte met een plant wil laat toegroei.

Plantgids
  • Volson
  • Waterwys
  • Rypbestand
  • Hoogte 30 cm

Bronne Maak tuin saam met Keith Kirsten deur Keith Kirsten; Die Suid-Afrikaanse Watter blom is dit? deur Kristo Pienaar; Cape Garden 021 988 4137, capegardencentre.co.za; gardenia.net; gardenerdy.com; thespruce.com