Foto’s Jeandri Streicher
Petra Derksen en Trix die schnauzer
WAAR Stellenbosch
GROOTTE VAN VOORTUIN 252 m²
GRONDTIPE Leemgrond
Petra en Trix
Klokkiesblomme, vingerhoedjies en ’n pienk roos het vrye teuels!
’n Stokroos met blomme so groot soos pierings.
In Petra Derksen se kleurvolle voortuin groei die blomme net waar hulle wil.
“Dit is net die rose, die Japanse blomappel en ’n paar meerjariges wat elke jaar bly waar hulle is. Die ander blomme laat ek toe om jaar na jaar saad te skiet en enige plek in die beddings op te kom,” verduidelik sy. “As hulle klaar geblom het, vat ek hande vol van die saad en strooi dit sommer oraloor. Daarom lyk die tuin elke jaar anders.”
Die vyf beddings wat die kern van Petra se voortuin vorm, word omraam deur smal plaveistene, en ’n paadjie van bruin gruisklippies loop tussen hulle deur. Rondom die vier kleiner beddings, met ’n voëlbad in die middel, groei heinings van kortgesnyde Australiese jamboes (Syzygium paniculatum); Australiese roosmaryn (Westringia fruticosa) is om die groter bedding geplant. Die heinings word gereeld gesny om dit netjies te hou, veral in die somer.
In die beddings groei ’n verskeidenheid een- en meerjariges wat op verskillende tye van die jaar blom. Veral in die lente en somer is daar ’n oorvloed kleur. Eenjariges soos papawers, pronkertjies, stokrose en gousblomme sorg vir seisoenale kleur terwyl die rose, salies, magrietjies en tuinheliotrope meer permanent is en vir langer tye van die jaar blom. In die winter word die rose en meerjariges gesnoei en dan rus haar tuin.
“Ek het in 2015 met die tuin begin nadat ek van Pretoria af Stellenbosch toe verhuis het. Die argitek Hein Visser, wat met die veranderinge aan die huis gehelp het, het die uitleg van die struktuur-elemente gedoen en Petro Jacobs van Petro Landscaping het my met die tuin gehelp,” vertel sy. “My versoek aan hulle was ’n kothuistuin wat omraam word met netjies gesnyde heinings – maar binne-in die beddings moet die blomme vrye teuels hê!”
Hoewel Petra aanvanklik hulp met die uitleg gehad het, versorg sy en haar regterhand, Philman Zananda, nou self die tuin. “Ons gee baie kompos en gebruik Atlantic Fertilisers se Bio Ganic All Purpose- organiese korrels vir voeding. Philman hou die heinings netjies en ons sny gereeld dooie blomme af sodat die rose en een- en meerjariges langer aanhou blom. Van die blomme word gelos om hulself te saai; eers laatsomer sny ons die dooie blomstele af. Ek is gelukkig om ’n boorgat met my bure te deel sodat ek my tuin kan natmaak en vir lang tye blomme in my voortuin kan hê.
Vir wit in die beddings gebruik Petra graag ‘Iceberg’-rose, magrietjies en Orlaya.
’n Mengelmoes van kleure vang die oog!
Pienk akeleie en pers papierblommekomplementeer mekaar.
[Plantlys]
Bome
In die groot bedding blom ’n Japanse blomappel (Malus floribunda) in die lente. Die hele straat is boomryk en op die sypaadjie groei jakarandas wat vroegsomer hul pers blommetjies in Petra se tuinpaadjie strooi.
Meerjariges en struike
• Rose, onder meer wit en ‘Burgundy Iceberg’, ‘Garden & Home’, ‘Una van der Spuy’, ‘Little Pink Hedge’, ‘Free & Loyal’, ‘Simplicity’ en ‘Rina Hugo’
• Tuinheliotrope (Heliotropium arborescens)
• Magrietjies (Argyranthemum-hibriede)
• Salies (Salvia)
• Baardirisse (Iris germanica)
• Reusepapierblomme (Limonium perezii)
• Akeleie (Aquilegia vulgaris)*
• Klokkiesblomme (Campanula)*
• Lychnis coronaria*
• Lamstert (Verbascum-hibried)*
• Vingerhoedjies (Digitalis purpurea)*
* selfsaaiers
Eenjariges wat hulself saai
• Papawers (Papaver-spp.)
• Kaliforniese papawers (Eschscholzia californica)
• Stokrose (Alcea rosea)
• Orlaya grandiflora
• Gousblomme (Calendula officinalis)
• Pronkertjies (Lathyrus odoratus)
• Inheemse vingerhoedblom (Ceratotheca triloba)
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET