Foto’s Francois Oberholster

Wie woon hier? Annelize Verwey
WAAR Melkbosstrand
GROOTTE 60 m²

Hoewel Annelize Verwey al meer as dertig jaar in haar huis op Melkbosstrand woon, het sy maar eers sowat drie jaar gelede ’n liefde vir vetplante en kaktusse ontwikkel.

“Terwyl ek eendag ry, vang my oog ’n plant wat iemand langs die pad verkoop,” vertel Annelize. “Ek het daar en dan my eerste twee vetplante aangeskaf en net nooit weer opgehou koop nie. Dit raak ’n siekte!” skerts sy. “As ek êrens met vakansie is, kyk ek op elke dorp of daar vetplante te koop is.”

Annelize het later nie meer plek gehad vir al die potjies met vetplante nie en het besluit om haar voortuin in ’n formele vetplant-en-kaktustuin te omskep. Gou was dit ’n apploustrekker in die straat en het mense in die paadjies begin stap om die plante van nader te bekyk. “ ’n Vrou het nou die dag vir my gesê sy stap elke oggend langs die strand, maar het nou haar roete verander sodat sy na die tuin kan kyk, want sy let elke dag iets op wat sy nie die vorige dag gesien het nie,” vertel Annelize. “Dis vir my lekker as ander mense dit geniet. Ek is self mal daaroor om daardie nuwe blom of blaar vir die eerste keer te sien.”

1. Kloksgewys van bo: Kumara plicatilis (sin. Aloe plicatilis); Ferocactus histrix; Carnegiea gigantea; Echeveria gigantea; Ferocactus glaucescens.
2. Ferocactus pilosus
3. Ferocactus haematacanthus

KAKTUS OF VETPLANT?
Alle kaktusse is vetplante, maar nie alle vetplante is kaktusse nie, verduidelik Buck Hemenway van die Calitzdorp-vetplantvereniging. “Daar is meer as 40 verskillende plantfamilies waarin vetplante voorkom – kaktusse is net een daarvan,” sê hy. Vetplante stoor water in hul blare, stamme of wortels en kan daarom redelik lank sonder water klaarkom. Kaktusse het gewoonlik geen blare nie, maar eerder ’n sterk, dik buitewand. Kaktusse sowel as ander vetplante kan strawwe toestande die hoof bied.

Echeveria elegans

Uitleg en vorm

Annelize het aanvanklik nie veel van vetplante en kaktusse geweet nie, maar haar kennis algaande uitgebrei danksy heelparty kundige mense in en om die Kaap. Gideon Coetzee, ’n gereelde handelaar in vetplante by die gewilde Milnerton-mark, was gou haar grootste bron van inligting en die meeste van haar plante kom van hom af. Hy het haar ook met die plantwerk gehelp. Ander kenners sluit Braam van Zyl van die Oukaya Padstal en Kwekery op Wellington, en Eduard Cornelissen van die Ou Tronk op Vanrhynsdorp in. Vriende soos Kobus en Ina Maritz van Goodwood het haar ook met die uitleg gehelp.

1. Mammillaria
2. Ferocactus
3. Ferocactus glaucescens

"Daar’s niks so lelik soos ’n verwaarloosde of oorgroeide kaktus- of vetplanttuin nie." – Annelize
Van links na regs: Alluadia procera; Ferocactus; Trichocereus; Echinocactus grusonii; Pachypodium lamerei; Sempervivum; Trichocereus.

So het sy haar tuin uitgelê

“Eers het ek die tuin in vier dele verdeel en stuk-stuk begin plante koop tot ek genoeg gehad het om die eerste deel uit te lê,” vertel Annelize. “Ek kies eenvoudig plante waarvan ek hou. Die enigste ding wat ek in ag neem, is hoe groot die plant gaan word, want my tuin is maar klein. Ek kyk ook uit vir verskillende kleure en teksture, byvoorbeeld plante met grys blare, of een met ’n baard; natuurlik ook plante van verskillende hoogtes en met interessante vorms.”

Vir die grond het sy twee dele goeie tuingrond met een deel sand gemeng ter wille van voldoende dreinering – ’n uiters belangrike voorsorgmaatreël teen verrotting in ’n vetplanttuin.

Vir die harde elemente het Annelize ’n kombinasie van stapblokke, rots, klippies en hout gebruik. “Dit sou maar vervelig gewees het as alles net plat was. Klippies in verskillende groottes en kleure laat die tuin vir my lewendiger lyk en die plante beter vertoon,” sê Annelize.

Die plante kry soms luise – dan gebruik sy ’n gepaste middel van die kwekery. “Ek hou nie van spuit nie, maar so af en toe het jy nie ’n keuse nie. Dit het ook tyd gekos om uit te vind watter plante nie so baie son nodig het nie, maar oor die algemeen sou ek sê so ses uur is voldoende vir die meeste plante.”

Steek die plante haar soms? “Ja, ek is al baie, baie gesteek – veral terwyl ek onkruid uittrek!” lag Annelize. “ ’n Mens moet maar goeie handskoene hê en ’n lang dunbektang of iets soortgelyks as jy in die tuin werk!”

Fouteer en leer

Annelize sê sy het aanvanklik ’n paar foute gemaak en gevolglik ’n aantal plante verloor. “Ek het gou geleer nie al die plante hou van heeldag son nie en party soek ’n bietjie meer water as ander,” vertel sy. “Vetplante en kaktusse moet ook nooit te diep geplant word nie sodat die wortels nie te lank nat bly en vrot nie.”

Dis ook hoekom daar geen plastiek of onkruidmat onder die tuinklippies gelê is nie – dit sou die dreinering belemmer. As dit nie reën nie, word die tuin een maal per week natgelei met boorgat- of gryswater, maar net bolangs. “Plante vrek gewoonlik van te veel water, eerder as te min,” verduidelik Annelize.

Met die Kaapse winterreën is dit nogal ’n probleem om te verhoed dat plante te veel water kry; daarom is goeie dreinering so belangrik. “Ek maak my kokerbome se potte met plastiek toe in die winter om die water uit te hou.”

In die drie jaar wat die tuin bestaan, het dié tuinier nog nooit bemesting gegee nie; sy het wel onlangs Vermi Pure gekoop om mee te eksperimenteer.

Ferocactus histrix, links, en Skoonma-se-kussing (Echinocactus grusonii)

Annelize vertel om die mooi groot klippe in die hande te kry en Melkbosstrand toe te vervoer, was geen maklike taak nie. Party kom van ’n plaas in die Oos-Kaap; ander van ’n visdam wat iemand afgebreek het, en van Oukaya en Gideon. Kalanchoe in voorgrond.

Onthou
  • Moet nooit vetplante of kaktusse uit die natuur haal nie; hulle sal nie sommer in jou tuin oorleef nie. Die meeste kwekerye is billik met hul pryse en die plante is so gekweek dat hulle maklik by jou huis sal aard.
  • Jy kan enige kaktusse in beddings óf in ’n pot plant. In potte sal dit nie so groot raak soos direk in die grond nie. Annelize plant sekere Euphorbia-, Lithops-, en Haworthia-spesies in potte sodat sy dit beter kan beheer.
KONTAKTE
  • Gideon Coetzee 072 104 7306
  • Kobus en Ina Maritz 083 595 0771
  • Oukaya Padstal en Kwekery 073 665 6703
  • Ou Tronk, Vanrhynsdorp 027 219 1048