Foto’s Kosie Jansen van Rensburg

Wie woon hier? Annemi van Zyl en haar grys kat, Garfield WAAR Stellenbosch

Met net ’n stokou fynblaar-olm, ’n hibiskus, een rooi rosie en ’n bougainvillea het Annemi van Zyl in 2011 begin tuinmaak. “Die huis het vir meer as ’n jaar leeggestaan voor ek hier ingetrek het, so feitlik alles was dood. Ek het die boom en paar plante wat in my agtertuin oorgebly het, behou en goed gesnoei. Verder was hier net indringers,” vertel Annemi.

Haar drie susters, Elmarie, Sita en Nini, is ook almal ywerige tuiniers en het haar aanvanklik baie gehelp. Omdat die huis na agter leef, het Elmarie op haar langwerpige agtertuin gefokus; sy het die uitleg ontwerp en die susters het gehelp om die besproeiing in te sit, die paadjie uit te lê, en te plant.

1. 'My Granny'-roos 2. ’n ‘Blossom Magic’-rankroos met purper tabakblomme daaronder verbloem die grensmuur. 

“Die grond was vreeslik dor en arm,” onthou sy. “Ek het ’n paar vragte hoendermis en baie kompos by die grond ingewerk en dit goed omgespit. Die besproeiingslyne is daarna diep ingegrawe sodat dit nie sommer met ’n tuinvurk stukkend gesteek kan word nie. Wintertyd het ek begin plant: rose in die sonnige deel van die tuin en skaduplante onder die olm. Ek het ’n groot klomp laventel present gekry en geplant om ’n heining teen die stoep te vorm. Maar dié haal ek nou stelselmatig uit namate die ouer plante begin doodgaan.”

Annemi het ook bome geplant wat geskik is vir ’n klein tuin: ’n luiperdboom (Caesalpinia ferrea), ’n Japanse blomkersie (Prunus serrulata) en ’n tulpmagnolia (Magnolia x soulangeana). Sodra die bome te groot word, snoei sy hulle om hul vorm en grootte te behou. Aanvanklik het sy ook probeer om ’n klein grasperk aan die groei te kry, maar dit was te veel van ’n gesukkel om te sny en Sita het voorgestel dat sy dit uithaal en met mondogras vervang.

1. Dié plaveiblokke kom uit vriende van Annemi se tuin, en sy het dit herwin as stapblokke. Dit vorm ’n paadjie van die agterhek tot by die voëlbad en tuinhuisie, en word versag deur pastelpienk ‘My Granny’-rose en wit tabakblomme. 2. Papawersaadkoppe gee tekstuur en word net so gelos om saad te skiet vir nog meer blomme die volgende seisoen.

1. Dié dammetjie met waterlelies is ’n fokuspunt in Annemi se agtertuin. Sy het Duranta erecta ‘Sheena’s Gold’ as ’n heining om die dammetjie geplant om dit meer trefkrag te gee. 2. ‘My Granny’ met trosse fyn, rosetvormige blomme

Daar’s water

Die dammetjie in die middel van die agtertuin was feitlik tot niet toe die susters begin tuinmaak het.

“My oorspronklike plan was dat dit ’n plaspoel moes wees om in af te koel. Maar dié 2 x 1 m-plaspoel het kort voor lank ’n goudvisdam geword! Ek het ’n pompie geïnstalleer om die water te sirkuleer, maar toe dit ’n derde keer breek, het ek moed opgegee. Nou moet die goudvisse maar die muskiete beheer. Daar’s ook ’n lekplek iewers; ek moes beslis meer tyd aan die waterdigting bestee het,” gesels sy.

Annemi werk graag self in die tuin, en noudat dit gevestig is, is die werk minder. Sy doen hoofsaaklik snoeiwerk om te sorg dat van die plante nie oorneem nie en elke ding genoeg plek het om te groei. Sy plant ook hier en daar iets nuuts wat seisoenale kleur verskaf.

“My ma was ’n kranige tuinier. Sy het altyd vertel dis baie beter oefening om in die tuin te spit as om te gaan draf. Sy het ’n deel van haar tuin aan ons vier susters afgestaan sodat ons ’n malvatuin voor die pophuis kon maak – dis dié dat ek en my drie susters vandag ewe erg oor tuinmaak is en gereeld plante en tuinraad uitruil.”

1. Salie 2. Penstemon digitalis ‘Husker Red’

Oggende op my stoep is heerlik. – Annemi

Gunstelinge en staatmakers

Annemi sê haar gunstelingplante word bepaal deur wat sy in daardie stadium aan die groei probeer kry! “Ek probeer nou kamelias en tulpmagnolias kweek. Ek hou van die uitdaging en doen dit, al het ek nie noodwendig nog van die plante nodig nie. Ek het altyd salie- en krismisroossteggies iewers in ’n pot. Baie steggies kom uit my tuin, ander kry ek by tuinvriende.” Haar grootste staatmakers is:

  • Die ‘Blossom Magic’-roos wat teen haar grensmure groei en die ‘My Granny’-rose. Dié rose gee ’n oorvloed kleur.
  • Die oranjejasmyn (Murraya exotica), verbleikblom (Brunfelsia pauciflora) en katjiepierings (Gardenia jasminoides sin. augusta) vir hul heerlike geur.
  • Sy hou baie van Kantelbergklokkies (Campanula medium) en Penstemons. As dié plante in groepe bymekaar groei, is dit pragtig en baie kleurvol.
  • In die lente is die boslelies (Clivia miniata) en Indiese meidoring (Raphiolepis indica) se kleure pragtig.

1. Annemi se stoep spog met verskeie vetplante soos die nooienskokerboom (Aloidendron ramosissimum), want dis so maklik om te kweek en hulle is met min tevrede, vertel sy. 2. Onder die olmboom groei skaduliefhebbers – asaleas, krismisrose, boslelies, akeleie en sneeuvlokkies. Dié plante gee in verskillende seisoene kleur aan die tuin.

Annemi se tuinwenke

  • ’n Deklaag is ’n moet. In die herfs gee my suster Elmarie, wat ’n tuindiens bedryf, vir my sakke blare wat ek dan rondom my plante pak. • Moenie blomme afsny wanneer dit begin doodgaan nie; los dit net so aan die plant. Dit gee tekstuur aan die tuin en sorg dat daar altyd onverwags iewers ’n plantjie van saad opkom.
  • Ek spit so min moontlik in die tuin om nie die saadjies wat vanself opkom, te versteur nie.
  • Plant struike met verskillende loofkleure. Wanneer die blomme min is, gee die blare steeds kleur.
  • Maak jou eie kompos en strooi dit in dik lae in die tuin. So het die plante minder water nodig. Ek het twee komposhope en probeer alles (behalwe roostakke) wat in die tuin afgesny word, daarin te gooi.
  • Al my kombuisafval gaan na my erdwurmplaas. Ek het ses bakke erdwurms wat gelyk gevoer word! Die erdwurmtee en -mis verrig wondere.
  • Om die tuin so welig te laat groei, gee ek ook twee tot drie keer per jaar gekompakteerde hoendermis. Ek gebruik Atlantic Fertilisers se Bio Ganic-produk.

1. Wit bougainvillea

"Ek eindig altyd saans in my tuin, om te ontspan of om dooie rose uit te knip." – Annemi
PLANTLYS
  1. Fynblaar-olm
  2. Luiperdbome (Caesalpinia ferrea)
  3. Japanse blomkersie (Prunus serrulata)
  4. Tulpmagnolia (Magnolia x soulangeana)
  5. Katjiepierings (Gardenia)
  6. ‘Blossom Magic’-rose
  7. ‘My Granny’-rose
  8. Kantelbergklokkies (Campanula medium)
  9. Duranta erecta ‘Sheena’s Gold’
  10. Kamelias
  11. Indiese meidoring (Raphiolepis indica)
  12. Viburnum tinus
  13. Rooi roos
  14. Wit bougainvillea
  15. Hibiskus
  16. Papawers
  17. Waterlelies
  18. Boslelies
  19. Mondogras