Foto’s Jeandri Streicher
Ian en Mariaan van Zyl het in Mei 2017 ingetrek op ’n hoekerf in ’n nuwe ontwikkeling in die Paarl waar daar nog geen tuin was nie. En tuinspasie is beperk. Tussen die huis en die grenslyn is daar nêrens meer as vyf meter nie, plek-plek net twee meter. Vandag, wanneer die groot skuifdeure op die stoep in die mure in wegskuif, voel dit vir jou jy’s midde-in die tuin, al sit jy in die huis.
“Buiten die bome op die sypaadjie was hier niks rondom die huis nie,” vertel Mariaan. Sy en Ian hou baie van ’n mooi tuin en omdat die Wes-Kaap toe in die middel van ’n groot droogte was, het hulle Helia Smit, tuinboukundige van Cape Garden, gevra om hulle met die ontwerp en die keuse van plante te help.