Foto’s Francois Oberholster • Stilering Melissa Rautenbach

WIE Adene Nieuwoudt
WAARMEE Plukblomme
WAAR Wolseley
GROOTTE 1,5 ha

Toe Adene in 2010 met Andrew Nieuwoudt trou, het die plaas Platvlei haar nuwe tuiste geword.

Gou het sy besef hier sal sy, in haar eie woorde, “iets boervrouerigs” moet doen!

“Ek het Andrew gevra om vir my grond vir ’n groentetuin voor te berei. Hy maak toe die wêreld se grootste groentetuin – ek was skoon verstom! Maar ek hou van ’n uitdaging en het dit van ’n kant af vol geplant. Dit was vir my heerlik om te versorg en my eie groente te oes. Daar was so baie, ons en al die werkers kon elke dag kraakvars groente eet.

“Een Sondagmiddag, so twee jaar terug, het ons oor ’n glasie sjampanje besluit ek moet ’n blombesigheid begin,” vertel Adene. “Eers wou ek plukrose kweek, maar het gou besef die mark is te mededingend en die winsgrens baie klein.

“As troufotograaf kry ek met baie bloemiste te doen, en dit was gou duidelik daar’s ’n mark vir blomme wat bruide op die internet sien, maar nie in Suid-Afrika kan kry nie. Toe kry ek die plan om saad van dié eenjariges in te voer. Hoewel die saad duur is, is die finansiële uitleg nie so groot nie; boonop staan jy vinnig met ’n blom in die hand wat jy kan verkoop.” Dit was die begin van Adene’s Farm Flowers.

Adene en haar regterhande Beauhla Noch, Elton Sylvester en Moira Morris is al vroegoggend aan die blomme pluk en sorteer.

Om te saai...

Die Nieuwoudts het aan die werk gespring en ’n stuk grond digby hul huis, waar die ou plaashuis se perde-stalle en -kampe was, begin voorberei.

Andrew het skadunet gespan en die kikoejoegras begin uithaal. “Dis eers met trekkers losgemaak en daarna het tien mans drie weke lank gras met die hand uitgetrek,” vertel Adene.

“Altesaam 100 kubieke meter kompos is ingewerk en besproeiingslyne is aangelê. Intussen het ek elke boek wat ek oor plukblomme in die hande kon kry, gelees en elke stukkie inligting daaroor op die internet verslind!”

Met die grond gereed, het Adene saad van Amerika, Nederland, Italië, Duitsland en Engeland begin invoer.

Op die plaas word die saad eers in ’n spesiale ontkiemingsmengsel gesaai en later word die plantjies in ’n kweekhuis grootgemaak. Ná sowat vier tot ses weke word dit in goed voorbereide rye onder die skadunet uitgeplant. Elke werker kan omtrent 2 000 plantjies per dag plant. Om seker te maak dat daar dwarsdeur die seisoen blomme is, word die verskillende blomsoorte opeen-volgend gesaai.

“Jakobregops hoef ons net drie keer per seisoen te saai, want dit hou aan en aan met blom. Kantblomme saai ons voortdurend, want as jy dit eers gesny het, groei dit nie weer terug om nuwe blomme te vorm nie” verduidelik Adene. “Wanneer plante se leeftyd verby is, word hulle uitgetrek en binne dae word nuwe saailinge in hul plek geplant.

“Ek oes saad van sommige van my eenjariges, maar as jy doodseker wil wees hoe die blom gaan lyk, is dit beter om nuwe saad te koop. Met geoeste saad weet jy nooit of dit nie dalk met ’n familielid gekruis het en dan effens anders lyk nie. Vir my is dit ’n te groot risiko as ek nie aan kopers kan waarborg dat hulle gaan kry waarvoor hulle vra nie.”

Rye saadkassies staan reg om uitgeplant te word.

...en te maai

Van sesuur elke oggend tot omtrent 10:30 pluk Adene en nege werkers arms vol blomme. Elke plukker kry ’n pluklys wat sy volgens die dag se bestellings opstel. Die blomme word soort vir soort, ry vir ry gepluk en dadelik in emmers water gesit. Vir sowat ’n uur ná dit gepluk is, staan die blomme buite; daarna gaan dit koelkamer toe totdat dit aan bloemiste en groothandelaars oor die hele land versprei word.

Aanvanklik het Adene gedink sy sou gedurende die winter kan rus en niks kweek nie. “Maar ek het gou besef dit werk nie so nie. Ek moet steeds my werkers betaal en het dus ’n standhoudende inkomste nodig om die besigheid lewensvatbaar te maak. Vanjaar plant ons byvoorbeeld 30 000 anemoon- en ranonkelbolle wat in die winter tot vroeglente vir blomme sal sorg.”

Om elke dag genoeg vars blomme te pluk en te verseker dat dit net so mooi by hul eindbestemming uitkom, bly ’n uitdaging. “Ek het nooit geweet dit is sulke harde werk om ’n blomboer te wees nie. Ons werk elke Saterdag voldag en op Sondae moet ek steeds ’n ogie oor my blomkinders hou.

“In Januarie 2019 lê ’n reuse-uitdaging voor. Ek moet 1 000 dahliastele na Duitsland uitvoer – en dahlias hou nie van reis nie. Ek het reeds planne hoe om die blomme mooi en vars daar te kry, maar dit gaan vir ’n paar slapelose nagte sorg,” lag sy.

1. Kuda Mungofa tussen die plate blomme. 2. Elton Sylvester het sy hande vol tussen die dahlias!

Kies vooraf

Wanneer jy blomme saai of plant moet jy hul geur, blomvorm, tekstuur en kleur in gedagte hou. Kies blomme in skakerings van kleure waarvan jy hou en wat mekaar komplementeer. As die blomme boonop geurig is, soos pronkertjies en vilette, sal jou hele huis lekker ruik.

Kies ook verskillende blomvorms om later saam te gebruik: ’n dahlia met ’n groot blomkop, blomme met ’n ronde gesig soos kosmosse en jakobregops, en leeubekkies en vingerhoedjies wat lank groei en hoog uittroon. Duiwel-in-die-bos se saadkoppe is pragtig en sorg vir tekstuur. Los van dié blomme om saad te vorm en gebruik die sade in jou rangskikking.

1. Andrew en Samuel (4) maak seker die blomme kry genoeg water. 2. Eva (7) geniet dit net soos haar ma om tussen die blomme te wees!

Meer oor die boer
  • Adene se gunstelingblomme is dahlias; die Spartacus-dahlia is bo-aan haar lys.
  • Die beste tyd van die dag is vir haar wanneer hulle pluk en emmers vol blomme aangedra word. “Maar as daardie trokkie van ons vol blomme by die hek uitry, is eintlik nog beter. Dan kan ek my eerste koppie koffie van die dag rustig geniet!”
  • Sy sê die wonderlikste van die blom-besigheid is wanneer ’n plant wat sy nog nooit voorheen op die proef gestel het nie, die eerste keer blomme dra. “Ek onthou nog hoe opgewonde ek was toe my Italiaanse anemone begin blom het!”
  • Adene werk gereeld as troufotograaf en rangskik blomme vir troues, want sy hou van die kreatiwiteit daarvan. “Dit voed my siel,” sê sy. Daar is ook ’n selfsorg-gastehuis, Orchard Stay, op die plaas.


KONTAKTE
  • Adene’s Farm Flowers info@adeneflowers.co.za
  • Orchard Stay orchardstay.co.za