book-icon Uitgawe September 2020

Lê ’n groentetuin aan en kweek om te deel

akkreditasie
Krisistye, soos nou tydens Covid-19, noop mense om meer selfonderhoudend te leef. Dis tyd dat ons weer oorwinningstuine soos in die oorlogstyd plant – vir eie gebruik én vir ander wat in sulke tye swaarkry. ’n Kenner vertel hoe.

Foto’s Francois Oberholster en Karen McEwan

WIE WOON HIER?

David en Karen McEwan en hul kinders, Lisa (7) en Andrew (5)

WAAR Die plaas Fairfield, Middelburg, Oos-Kaap

GROENTETUIN SE GROOTTE 35 x 40 m

GRONDSOORT Sanderig



Met min kennis en geen ondervinding nie het Karen McEwan op hul plaas in Middelburg in die Oos-Kaap begin groente kweek.

“Ons is in 2009 getroud en ek is plaas toe. As opgeleide sjef het ek aanvanklik kookklasse en kosdemonstrasies aangebied en ook spyseniering in die omliggende dorpe gedoen. Ná my oudste se geboorte het ek met die groentetuin begin – grootliks om my gesin met organiese groente te voed,” vertel Karen.

“In die eerste jaar was die oes ongelooflik. Ek kon nie glo wat alles in die droë Karoogrond groei nie. Die gogga het my behoorlik gebyt en ek het die groentetuin begin uitbrei. Dit het in ’n klein besigheid ontwikkel en vandag kom al die vars produkte vir my kookklasse uit my eie tuin. Ons gebruik dit saam met heerlike Karoolam of wildsvleis van die plaas.”

Boonop kon sy einde 2019 haar eerste plaasmark met vars produkte hou. Deesdae bied sy ook praatjies aan oor hoe om groente organies te kweek.

Jy kan dit ook doen. Nou is die ideale tyd om ’n somergroentetuin aan te lê. Begin klein en brei uit namate jy meer ervare raak. Hou die klimaat in jou omgewing in gedagte, want dit speel ’n groot rol in wat jy plant. Vra ook raad by jou plaaslike kwekery. Voor jy weet, pluk jy jou eie groente én is daar genoeg vir uitdeel aan ander.

[OORWINNINGSTUINE]
Tydens die vlak 5-inperking weens Covid-19 het baie mense hul eie groente begin kweek. Almal was in dié krisistyd meer op hulself aangewese, en net soos tydens die twee wêreldoorloë het dié krisis gelei tot ’n groter vlak van selfonderhoudendheid. Die tuine wat gedurende die wêreldoorloë aangelê is, het as oorwinningstuine (“victory gardens”) bekend gestaan. Dit is gebore uit nood om mense deur tye van tekort en ontwrigting te voed. Dieselfde verskynsel herhaal homself nou in die tyd van Covid-19.

1 PLANTPLEK

In ’n groentetuin van sowat 10 m² kan jy oorgenoeg groente kweek vir ’n gesin van vier. Kweek ’n verskeidenheid, en plant die groentes waarvan jou gesin hou. As jy minder plek het, is dit nie ’n probleem nie. Al plant jy net tamaties en slaaiblare, is dit al ’n goeie begin.

Kies ’n plek in jou tuin wat sowat ses tot agt uur son per dag kry, sê Karen. “Dit moet verkieslik gelyk wees, of maak dit so gelyk moontlik. Groente hou van goed gedreineerde, komposryke grond. Sit ’n dik laag kompos bo-op die grond neer, maar moet dit nie inspit nie – laat die natuurlike organismes die werk doen. Ek bedek die grond elke vier maande so met ’n laag tuisgemaakte kompos.”

’n Groentetuin kan enige vorm hê, hetsy ’n sirkel, reghoek of vierkant. Selfs net ’n hoekie in die tuin kan werk. “Die belangrikste is dat die beddings nie so breed is dat jy daarin hoef te staan om by die groente uit te kom nie,” verduidelik sy. “Loop jy gedurig oor die grond, trap jy die mikro-organismes dood en die lugholtes waarin hul lewe plat. Enige saad wat besig is om te ontkiem, word terselfdertyd doodgetrap. “Maak ook seker daar is genoeg plek dat jy met ’n kruiwa naby jou groentetuin kan kom. Só is dit baie makliker om kompos aan te ry.”

Karen plant ook haar eie grondboontjies. Dit neem tyd en kan eers ná sowat vier maande geoes word, sê sy

2 KIES JOU GROENTE

As jou tuin klein is, begin met tamaties, spinasie, pietersielie, basiliekruid, wortels, slaaiblare en beet. Brei dan mettertyd uit met aartappels, rissies, boontjies, ertjies en botterskorsie of enige klein pampoen soos ‘Jack Be Little’. Beplan slim en maak gebruik van vertikale ruimte deur ertjies, tamaties, boontjies, botterskorsie en klein pampoene teen ’n raamwerk op te lei. So het jy meer groeiplek grondlangs om knolgroente en kruie te plant. As jy baie plek het, saai mielies en plant murgpampoentjies, patat en spanspek.

Verskeie plante is gelukkig bymekaar: groen kersietamaties, kappertjies, wildeknoffel, grasuie, pampoen – en ’n koolkop in die skadu van appelliefieblare.

3 SAAD OF SAAILINGE?

Jy kan saai óf saailinge plant. Kies organiese saad en vermy geneties gemanupileerde saad. Daar is talle verspreiders van organiese saad in Suid-Afrika wat hul produkte aanlyn verkoop, soos The Gravel Garden en African Marmalade.

Karen beveel aan dat tuiniers aan die einde van die seisoen ook hul eie saad oes. “Dit is dan reeds aangepas by jou klimaat,” verduidelik sy. “Boonop bou groente met verloop van tyd immuniteit teen die plae in jou omgewing op.” Koop om dieselfde rede verkieslik saad by verskaffers in jou omgewing.

As jy liewer saailinge wil plant, maak seker dit wat jy koop, pas by jou klimaat. Op die platteland kom saailinge grootliks van ander streke en moet dit eers aan die klimaat gewoond raak. “Hou die saalinge vir ’n paar weke in die houer waarin jy dit gekoop het voor jy dit uitplant,” gee Karen raad. “Sit die saailinge aanvanklik vir ’n dag of twee onder ’n boom of onder dak vir beskutting. Neem dit daarna daagliks uit in die son – eers vir vier uur, daarna vir ses uur, en so elke dag ’n bietjie langer. Die plantjies pas binne min of meer twee weke by hul nuwe omgewing aan. Wees net versigtig dat dit nie ’n knou kry as die nagte nog koud is nie.”

Indien jy die saailinge dadelik wil uitplant, is dit raadsaam om hulle eers met skadunet of ryplap (afhangende van die seisoen) te beskerm of deur plastiekbottels bo-oor hulle om te keer.

As jy genoeg plek het, maak soos Karen en plant mielies.

Afrikaners met hul heldergeel blomme hou ongewenste goggas weg.

  • Vir ’n volledige lys van wat om wanneer te plant, laai ons groentekalender af.

4 BESPROEIING

Genoeg water is noodsaaklik. Hoeveel genoeg is, hang af van jou klimaat. In sekere dele van die land waar dit meer reën en vogtig is, is besproeiing nie nodig nie.

“Hier in die Karoo is besproeiing noodsaaklik,” vertel Karen. “Ek gebruik drupbesproeiing omdat ons boorgatwater ’n hoë kalkinhoud het en dis nie ideaal dat dit op die blare en groente beland nie. Met drupbesproeiing gaan min water ook verlore, want dit word direk by die wortels toegedien. Niks loop weg nie en die wind het ook nie ’n invloed daarop nie.” As die groentetuin klein is en jy genoeg tyd het, maak dit met die hand nat. Beplan en lê jou besproeiingstelsel aan wanneer jy jou groentetuin uitlê. “In ’n sirkelvormige groentetuin is dit raadsaam om die drupbesproeiing in ’n ronde of spiraalvorm in die bedding aan te lê,” sê Karen. “Jy wil beslis nie besproeiingspype hê wat oor jou paadjies loop nie. Dieselfde geld vir ’n reghoekige of vierkantige bedding. Oorhoofse besproeiing is ’n opsie, maar daarmee word die paadjie ook natgespuit en heelwat water vermors.”

As jy nie ’n boorgat het nie, gebruik verkieslik reënwater wat in ’n tenk opgevang word.

5 BEDDINGMAATS

Beplan slim wat jy saam in ’n groentebedding plant, veral in ’n klein ruimte:

• Pasmaats groei nie net goed saam nie, hul geur en kleur vul mekaar ook perfek aan – soos tamaties en basiliekruid; rankboontjies en patats; aartappels, pietersielie en tiemie; en radyse en slaaiblare. Aarbeie en beet aard baie goed saam met tamaties en kan onderlangs geplant word as die tamaties teen ’n struktuur oplei is.

• Eetbare blomme laat jou groentetuin én jou bord mooier lyk. Dit is ook voedsaam! Die ander voordeel van blomme tussen groente en kruie is die bestuiwers soos skoenlappers, bye en insekte wat dit lok. “Ek plant heuningblommetjies, stokrose, baardangeliere, leeubekkies, gesiggies, kappertjies, jakobregops, gousblomme en rose tussen of naby die groente,” vertel Karen. “En al is dit nie eetbaar nie, plant ek ook kosmos, pronkertjies en papawers. Bye is gek daaroor. Pronkertjies en papawers is die eerste wat ná die winter blom en lok bye nog voor die groente- en vrugteblomme verskyn.”

6 VOEDING

Karen beveel aan dat tuiniers net organiese voeding in hul groentetuin gebruik. “Daar is so baie produkte beskikbaar. Wurmkompos en -tee, of ghwano in teevorm is baie gewild.” Sy maak ook haar eie doepa van koffiemoer en piesangskille. “Gebruik ’n 5-liter-roomysbak en tap 3,5 liter water daarin. Gooi dan agt tot tien piesangs se skille en die koffiemoer van vier tot ses mediumgroot dompelpotte by. Laat dit vir tien dae goed trek; in die somer ’n bietjie korter.” Sy sê wanneer dit behoorlik gis, is jy op die regte spoor. Gebruik dit net so of “rek” dit deur die mengsel om die helfte met water te verdun.

Jy kan tot 18 maande lank van een spinasieplant oes, mits dit gereeld met kompos gevoed word en genoeg water kry. – Karen

7 PESTE EN PLAE

Karen bestry enige onwelkome natuurlewe op ’n natuurlike manier:

• Droog eierdoppe uit, maak dit fyn en strooi in die groentetuin. Die growwigheid irriteer slakke en snywurms.

• Strooi kaneel in jou saailingbakkies – dit verhoed swamgroei. Miere hou ook nie van kaneel nie. (Terloops, kaneel kan gebruik word as groeihormoon wanneer jy steggies maak.)

• Meng 15 ml neemolie met 1 liter water in ’n spuitkan; voeg 10 ml natuurlike opwasmiddel by. Spuit teen plant- en wolluise, blaaspootjie, pampoenvlieë en swamme.

• Maak ’n tee van 2 liter water, ’n hand vol rissies, ’n hand vol pietersielie, ’n hand vol ment, tien knoffelhuisies en 20 ml paprika. Verpulp alles saam en laat oornag staan. Dreineer die mengsel en spuit elke 10 dae daarmee om plantluise, rooispinnekopmyte, koolmotte – selfs muggies – weg te hou; of spuit elke vyf dae as jy reeds ’n plaag opmerk.

• Plant perswildeknoffel en afrikaners in of naby die groentetuin – dit hou skadelike insekte weg. Wildeknoffel se pers blomme en langsteelblare is ook eetbaar en lyk pragtig in ’n slaai.

• Roosmaryn en artisjokke lok vlieë en brommers. Plant hulle eenkant sodat hulle dié lasposte van die sithoekies in jou tuin kan weglok.

Ek deel graag uit, al is dit ook net ’n arm vol sonneblomme! – Karen

Karen het elke jaar honderde sonneblomme in haar tuin. Behalwe dat dit pragtig lyk, dien dit ook as windskerm en gee dit welkome skaduwee. “Die somerson kan skroeiend warm wees en die sonneblomme gee koelte vir eetbare blomme en sommige groente en kruie,” verduidelik sy. “Ek laat ook rankboontjies en tamaties daarteen opgroei. Ná blomtyd, wanneer die koppe begin verdroog, verskaf dit kos vir die voëls in die tuin en op dié manier hou ek hulle van my groente weg! Wanneer die plante heeltemal droog is, knip ons die stingels net bo die grond af; dit word fyngemaak en gaan komposhoop toe.”

[KAREN SE GROENTETUINWENKE]

• Besluit hoeveel tyd jy het om in jou groentetuin te spandeer. As jou tyd min is, kweek liewer minder groente wat jy behoorlik kan versorg, en brei elke jaar ’n bietjie uit.

• Maak ’n komposhoop sommer nog voor jy met jou groentetuin begin. Goeie kompos is die belangrikste bestandeel van ’n organiese groentetuin.

• Wag tot die laaste ryp verby is voor jy buite plant of saai. Kweek reeds in Julie saailinge op ’n warm, sonnige vensterbank.

• Plant die groente van noord na suid: Plant groente wat laer groei aan die noordekant van die bedding en dié wat hoog groei of teen ’n raamwerk oprank, suid. So sal die hoër groeiers nie die son van die laer groeiers afkeer nie. Gebruik in die somer die skadukant vir slaaiblare en roket, maar wintertyd het dit meer son nodig.

• Wanneer die saailinge geplant is, strooi ’n deklaag van fyn hooi, houtsnysels of iets soortgelyks daarrondom. Dit beskerm die plantjie, beperk onkruidgroei en keer dat die grond uitdroog.

• Knolgroente soos wortels en beet het nie baie kompos nodig nie; in armer grond het dit minder blare, maar groter knolle. Maak wel seker die grond is sag en sonder kluite of klippe.

• As jy nie plek het vir ’n aparte groentetuin nie, saai of plant groente en kruie in jou blombeddings.

• Eksperimenteer met ’n verskeidenheid groentes en kruie en maak aantekeninge dat jy volgende seisoen weet wanneer het jy wat gedoen.

• Moenie moed opgee as jou eerste oes nie ’n sukses is nie. Probeer weer. Plant wat maklik groei en wat suksesvol is.

• En as jy ’n groot oes het, lê in, droog, vries of deel uit!

[PLANT IN ’N HOUER]

Daar is baie groente en kruie wat in potte of ander houers aard. Tamaties, spinasie, blaarslaai, wortels, radyse, boontjies en rissies is perfek hiervoor; heelwat kruie soos pietersielie, basiliekruid, tiemie, origanum, laventel en roosmaryn aard ook in potte.

“Sit die houers op ’n sonnige plek, verkieslik naby jou kombuis, waar jy maklik kan pluk. Laventel en roosmaryn het groot potte nodig; vir ander kruie sal klein tot mediumgroot potte werk. Pietersielie of roket kan selfs in ’n klein pot op ’n vensterbank groei.”

Volgens Karen is ’n suurlemoenboom en verskeie ander vrugtebome ook geskik vir groot potte. “ ’n Boom groei net so groot soos jy dit toelaat om te groei,” sê sy. “Snoei dit dat dit klein genoeg bly vir die houer en die plek waar dit staan.”

Selfs ou trekkerbande kan as verhoogde beddings ingespan word.

[VERHOOGDE GROENTEBEDDINGS]

’n Verhoogde bedding is nie net geriefliker vir tuin- en plukwerk nie, dis ook voordelig as jou grond nie juis vrugbaar is nie. Houtbokse is ideaal, maar Karen plant op die plaas sommer in ou trekkerbande.

• As jou boks direk op die grond staan en nie ’n bodem het nie, sit heel onder ’n paar lae nat koerantpapier en dan ’n stuk karton. Die papier en karton onderdruk onkruidgroei en erdwurms lê graag eiers in dié papierlaag.

• Strooi ’n growwe laag goed verrotte blare of hooi bo-op die karton. Vul die boks verder met ryk kompos.

• As jou boks ’n bodem het, begin met ’n laag growwe droë bas, houtsnysels, stokkies of miskoeke. Volg verder dieselfde resep.

Kennersraad

Deon de Goede, Tuis se nutsman, vertel hoe bou jy ’n verhewe houtbedding:

Gebruik enige stewige oorskietplanke vir jou plantboks; paletplanke is ideaal. Besluit hoe diep jy die groenteboks wil maak. As jou grond vrugbaar genoeg is, is selfs net een plank van sowat 10 cm hoog genoeg.

1 Saag die planke in die verlangde lengte en behandel die hout met Super Laykold of enige ander waterwerende verf om dit teen nattigheid te beskerm.

2 Vir die lang sye: Sit genoeg planke vir jou verlangde hoogte langs mekaar neer; skroef ’n vertikale stut dwars oor elke ent vas. Skroef dan die planke vir die kort sye haaks tussen die lang sye vas om ’n raam te vorm.

Wenk Maak die vertikale stutte effens langer en saag die deel wat onder uitsteek met ’n punt voor jy dit aan die lang planke vasskroef; só kan jy die onderkant stewig in die grond druk. 

KONTAK

Fairfield Foods fairfieldfoods@gmail.com

VERSKAFFERS VAN ORGANIESE SAAD

African Marmalade

Living Seeds 

Seeds for Africa 

The Gravel Garden 

The Heirloom Bean Company 

Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees