Foto’s Elza Cooper

Terwyl die Merbold-gesin in 2010 besig was met die opknap van hul ouderwetse huis in Pretoria, het die indrukwekkende gedaantewisseling hulle laat besef dat die tuin en werf ook dringend aandag kort. Maar die koste van die opknap het sy tol geëis.

“Ons het heelwat werk aan die huis gedoen; ek het selfs my praktyk op die eiendom gevestig,” sê Rouxlene, ’n mediese dokter en eienaar van Rejive Skin & Body Clinic. “Toe stel my man voor ons herstel eers van die uitgawes wat ons tydens die 10 maande lange opknap aangegaan het!” Twee jaar later was hulle gereed vir die volgende transformasie.

Hulle het ’n landskap-onderneming se hulp ingeroep vir die ontwerp. Maar pas nadat hulle begin het om die beddings, trapklippe en besproeiing aan te lê, het die eienaar aangekondig dat hy emigreer en die onderneming sy deure sluit.

Dis toe dat Rouxlene en Werner besluit om die reusetaak aan te durf en die tuin self verder op te knap. Oor die volgende vyf jaar het hulle hul werf oorgedoen deur ’n proses van leer en probeer.

Drie boomaalwyne staan wag by die ingang van die Merbolds se huis.

WIE WOON HIER?

Rouxlene en Werner Merbold en hul tienerseun, Günther

WAAR Pretoria

GROOTTE 1 872 m² 

Rouxlene se mediese praktyk (regs van die loopgang) is tydens die opknap by die voorkant van die huis aangebou en die paartjie wou ’n treffende nuwe ingang hê wat by die opgeknapte fasade sou pas. AJ Smit van Palin Smit Architects het die paadjie met die hoë mure tussen die praktyk en garage ontwerp. Piouter-hanglamp van African Affair

’n Skanskorfmuur skei die braai-area van die voordeur. Werner het ’n stopteken, wat hy langs die pad opgetel het, gebruik as blad vir ’n prettige kanttafel. Porselein-vloerteëls van Union Tiles

Die kikoejoe-grasperk is groot genoeg dat Günther boogskiet, sokker en hokkie hier kan oefen. Lae, netjies gesnoeide heinings omring die grasperk en braaihoekie met sy leiklip-bedekte bankies en vormgesnoeide Viburnum tinus-boompies in potte. Werner het die braai uit stukke gietyster en ’n geroeste vragmotor- wielvelling gemaak. Wenk Rouxlene glo aan KAN en Efekto Karbadust elke agt tot 12 weke om die grasperk so welig en groen te hou.

/

In elke hoekie van die Merbolds se werf is daar iets interessants te sien, soos dié groot lemme van ’n transformator se verkoeler, wat Werner by ’n skrootwerf opgetel het. Vormgesnoeide bukshoutboompies (Buxus sempervirens) in potte rond die hoekie af. Plante van Lots of Pots Garden Centre

Die braaistoep is die hart van ons huis, veral in die somer. Ons maak graag vuur, al braai ons nie. – Rouxlene

Groot stapeldeure verbind die eetkamer met die oordekte braaistoep en ronde swembad; laasgenoemde se vorm is geïnspireer deur dié van ’n tipiese plaasdam. In die agtergrond het kruipvy (Ficus pumila) een muur van Rouxlene se praktyk so te sê toegerank. Seagrass Squares-mat van Coirtex; tafel van Amatuli; bank van Sinkhuisie Antiques; grys stoele van La Grange Interiors

Tekstuur is ingebring met ’n leiklip-fokusmuur en ’n dekoratiewe staal-reënwatertenk wat die ander tenke elders in die tuin komplementeer.

’n Halfronde verhewe bedding huisves ‘n nuut aangeplante groentetuin; teen die smeeyster-heining rank wingerdstokke op.“Ná ’n lang dag ontspan ek en Werner graag hier in die boma met ’n koppie koffie. Dit gebeur dikwels dat ons dan sommer op die muur se rand gaan sit en in die bedding begin werskaf,” sê Rouxlene. Donkergrys bougruis is gebruik as grondbedekking.

Werk slim in jou tuin

Rouxlene se wenke:

• Verdeel jou buiteruimte in verskeie klein fokuspunte sodat jy dit stuk vir stuk kan aanpak.

• As jy jaarplante vir kleur wil hê, plant dit in potte, en dalk in een of twee beddings; die res van die tuin moet min moeite verg.

• Versier met enkele treffende bykomstighede wat ’n storie vertel. • Ruil steggies uit! Ek is dankbaar vir al die plante wat ek gekry het – dit het baie dooie hoekies in my tuin help opkikker. 

• Met ’n besproeiingstelsel moet jy op jou hoede wees. Werner hou ekstra onderdele in voorraad sodat hy self herstelwerk kan doen en verseker dat daar nie water vermors word nie. Ons het ook ’n reënsensor wat die stelsel outomaties afskakel.

• Raadpleeg kenners met goeie verwysings sodat jy nie tyd of geld mors nie. Aanvanklik het ek beplan om die vertikale tuin self aan te lê, maar ná ’n bietjie navorsing het ek besef dis ’n groot taak en sou baie onderhoud vra.

• Praat met jou gesin! Ek het onlangs al die struike in ’n hoek van die tuin uitgehaal, maar my man en seun was ontevrede, want dit het hul dubbelverdieping-boomhuis oop en bloot gelaat; ek het hul “woud” verwoes! • Tuinplae kan ’n probleem wees. Ná die somerreën kry ons dikwels ’n wurm-infestasie op die grasperk, maar daar’s niks wat Efekto Karbadust nie kan regruk nie.

• Kry die nodige hulp om jou tuin te onderhou sodra dit eers gevestg is. Ek en Werner werk voltyds en is so gelukkig dat ons tuinier, Mchacha Beg, twee keer ’n week na die tuin kom omsien – hy hou sy hand daarop en maak seker dit lyk altyd op sy beste. 

Rouxlene het versamelings potplante van wisselende hoogtes en style op verskillende plekke gebruik vir visuele trefkrag. Die paadjie van ronde betonblokke omring deur woestynrosies lei na die garage; laaggroeiende heilige bamboes (Nandina domestica) langs die paadjie verkleur helderrooi in die herfs en winter, wat die kleur van die klippies en die baksteenmuur eggo. ’n 5 000-liter-watertenk van Heunis Steel staan op ’n Eva-Last-dek wat deur Decking 4 Africa geïnstalleer is.

Afvoerpype is donkergrys (Fired Earth Battleship Grey) geverf om te kontrasteer met die ligter mure daarrondom. Rouxlene het die ou straatnaambord iewers opgetel en daaraan gehang.

’n Leerkurwe

“Buiten die oorspronklike ontwerp is niks anders beplan nie; dit was nogal intimiderend,” sê Rouxlene. “Aanvanklik was ons nie eens seker wat waar geplant moet word nie. My ma was lief vir tuinmaak, en al het ek baie by haar geleer, is ek nie ’n foendi nie. Kom ons sê net ons het ’n paar dure lesse geleer, veral nadat ons die mooiste plante gekoop het en nie rekening gehou het met hul behoeftes vir sonlig, water en potgrootte nie. Maar so het ons baie geleer!”

Die Merbolds het hul tuin in verskeie hoekies verdeel en dit een vir een aangepak. Hulle het die meeste van die werk self gedoen met Mchacha se hulp, maar het die kenners ingeroep vir groot take soos die hidroponiese vertikale tuin.

Dis wonderlik om te sien hoe dié ruimtes oor die jare verander. Dit begin gewoonlik by ’n kreatiewe bevlieging wat ek in die middel van die nag kry, of iets inspirerends wat ek in Tuis sien; dan moet Werner daardie planne implementeer. Die liefde en geduld wat daai man vir my het ...”

Baie van die bykomstighede op die werf is Werner se handewerk, insluitend die lampe en ’n paar dekoratiewe stukke; hy het ook die braai vir die buitebraai-hoekie gebou. Deesdae is hul geil tuin ’n lushof wat vir hulle baie vreugde verskaf – dit vra min onderhoud en pas hul moderne gesinslewe perfek.

“Ons het in dié proses baie slimmer geword; as ons dit kan doen, kan enigeen dit doen,” sê Rouxlene. “Begin met ’n eenvoudige uitleg en rig interessante hoekies stuk-stuk in. Gebruik wat jy het en bring geleidelik nuwe elemente in. Rome is nie binne ’n dag gebou nie!”

Wenk Met ’n verhewe bedding hoef jy minder te buk wanneer jy in die tuin werk.

Dwergmondogras kontrasteer pragtig met die woestynrosies by die boma se ingang.

VERSKAFFERS

African Affair 044 343 1008

Amatuli 011 440 5065

Builders 0860 284 533

Coirtex 021 762 2227

Decking 4 Africa 083 645 4616

Heunis Steel 012 372 0021

La Grange Interiors 011 444 5379

Lots of Pots Garden Centre 012 348 6650

Palin Smit Architects 012 346 7391

Sinkhuisie Antiques 071 245 6179

Union Tiles 011 663 2000

Vertical Landscapes 073 486 6288