Foto’s Francois Oberholster, Evan en Kathi Hodkinson

Gesiggies in skakerings van blou, rooi papawers en geel vinkel verskaf kleur in die groentetuin.

Malva

Inkalelie

Asalea

Vir Evan Hodkinson is sy tuin sy passie. Elke naweek werk hy daarin en dit is hier waar hy en sy vrou, Kathi, graag saam tyd bestee deur in een van die talle sithoekies in die skadu onder die bome te ontspan. Maar hul gunstelingplek is die een in die groentetuin, met die mooiste uitsig op die berge.

“Albei ons ma’s was passievol oor tuinmaak,” vertel Evan. “Ons liefde vir ’n mooi tuin kom beslis van hulle af. Kathi kies die plante en besluit op die kleurskema en die ontwerp, terwyl ek en my regterhand, Standiwe Ndlovo, die tuinwerk behartig. Daar is maar altyd iets wat my besig hou in die tuin!” Die eiendom was oorgroei en erg verwaarloos toe hulle vyf jaar gelede hier gekoop het, maar het ’n goeie struktuur van gevestigde struike en groot bome gehad.

Dele van die tuin moes eers skoongemaak word en massas kompos is ingewerk voor hulle kon begin plant. Al is die tuin nou gevestig, plant hulle steeds nuwe struike. En elke Augustus is dit tyd om die sowat 80 laaie met saailinge vir lentekleur in die grond te kry.

[PLANTPALET ]

Die groot verskeidenheid plante in die tuin sorg veral in die lente vir ’n skouspel van kleur. Groot struike soos blousyselbos, geurige Buddlejas, blinkabelia en lintbos gee heeljaar struktuur terwyl eenjariges soos papawers, koringblomme, leeubekkies, feetjieprimulas en baardangeliere ’n oorvloed kleur gee. Japannese anemone, shastamadeliefies, laventel en daglelies is meerjariges wat in die gemengde beddings blom.

Tuinkamers

Evan en Kathi het die tuin so ontwerp dat dit by die argitektuur van hul huis pas, en het ’n tuin geskep met tientalle beddings propvol blomme – presies soos hulle daarvan hou. Dit is in vier duidelik onderskeibare tuinkamers verdeel:

#1 Voortuin

Die voortuin was heeltemal oorgroei en hier het hulle van nuuts af begin tuinmaak. Feitlik alles is uitgehaal en harde elemente soos die lae muurtjies en paadjies is gebou voordat hulle met die uitleg en voorbereiding van die beddings kon begin.

Dié kamer het ’n formele ontwerp met presiese afmetings wat die simmetrie van die huis eggo. Daar is vier vierkante, elk met ’n port jacksonvy (Ficus rubiginosa) wat die Hodkinsons as groot bome geplant het. Baksteenpaadjies skei die vier blokke en wit ‘Iceberg’-rose groei al met die paadjies langs. In die sementpotte is rondgesnoeide Australiese roosmaryn en op die hoeke van die vier blokke is vormgesnoeide balle van Australiese jamboes.

Solanum jasminoides

#2 Hooftuin

Die hooftuin, aan die agterkant van die huis, het die voorkoms van ’n tipiese Engelse kothuistuin met ’n oorvloed blomme in gemengde beddings. ’n Onderdakstoep met heerlike sitplek kyk uit op dié deel van die tuin. Die aartappelranker (Solanum jasminoides), wat al met die veranda langs groei, is vier jaar gelede geplant.

Sowat tien kubieke meter kompos is ingewerk voor die groot plantwerk hier gedoen kon word. Nuwe gras is geplant en die beddings gevul met onder meer vingerhoedjies, malvas, pronkridderspore, irisse, daglelies, dahlias en inkalelies. In hierdie deel van die tuin is ook meer as 200 rose geplant.

#3 Formele groente- en roostuin

’n Prieel waaroor bloureën saam met ‘Blossom Magic’- en ‘Clair Matin’-rose groei, verbind die hooftuin met die formele groentetuin en roostuin. Hoewel laasgenoemde twee tuine in dieselfde tuinkamer is, word hulle deur ’n baksteenpaadjie geskei.

In die groentetuin groei ’n groot verskeidenheid groente en kruie, terwyl daar in die formele roostuin vier beddings met 12 rose in elk is. ‘Duet’, ‘Lemonessence’, ‘Garden Queen’ en ‘Sharifa Asma’ is die gunstelinge.

[WAT JY SAAI ...]

Dit is vir Evan baie bevredigend om vars produkte te kweek. “Ek bestee baie van my tyd in die groentetuin; daar is altyd iets om te doen. Dit het byvoorbeeld gedurig kompos nodig. Elke keer as ons nuwe saailinge plant, werk ons kompos in.

“Voeding is belangrik om ’n goeie oes te verseker. Die groente kry elke twee weke wateroplosbare plantkos soos Seagro en die tamaties kry ook tweeweekliks epsomsout – 1 eetlepel opgelos in 5 liter water,” vertel hy. Die vrugtebome (daar is lemoen-, suurlemoen- en appelkoosbome) kry weer drie keer per jaar twee groot hande vol epsomsout elk.

“Ongelukkig is die goggas ook gek oor groente! Om plae te beheer, spuit ek met Biogro se organiese spuitmiddels. “Baie groente soos tamaties, ertjies, boontjies en eiervrug het iets nodig om teen op te groei. Hiervoor sny ek latte in ons eie bamboesbos.”

Gunstelinge in die groentetuin is tamaties, blaarslaai, ertjies, seldery, rissies, wortels, roket, radyse en kruie soos basilie, koljander, pietersielie, roosmaryn, tiemie, origanum en ment. 

Die groentetuin is my gunstelingplek. – Evan

#4 Die ‘Gin Shack’

Die ‘Gin Shack’–met ’n reghoekige dammetjie en pottetuin – is ’n gesellige buitekroegie en die perfekte plek vir skemerkelkies. Hier groei malvas, vlooikruid en eenjariges soos lobelias en gesiggies in potte. Gruisklippies rondom die waterfokuspunt rond die prentjie af.

Die leiwaterdam is in die formele roos- en groentetuin geleë. Die dam word volgemaak met boorgatwater en in die somermaande opgevul met leiwater wanneer dit beskikbaar is. Natuurlike plantegroei omraam die dam.

In die lente blom die pienk ‘Blossom Magic’- en die wit ‘Iceberg’-rose langs die paadjie oorvloedig. Soutbos (Rhagodia sin. Einadia hastata) en Australiese jamboes (Syzygium paniculatum), in netjiese balle gesnoei, gee struktuur.

‘Pink Polo’

Gunstelinge

Hoe kies ’n mens gunstelinge as daar so ’n groot verskeidenheid in jou tuin is? Vir Evan en Kathi lê dié hulle baie na aan die hart:

• Die ‘My Granny’-roos wat vir ses maande van die jaar blom. “Eintlik enige roos wat ons vir die huis kan pluk,” sê Evan. “Ons sou bankrot gewees het as ons nie ons eie snyrose gehad het nie!”

• Niks kom by die bloureën (Wisteria sinensis) wat vir vier tot ses weke in die lente ’n skouspel van kleur is nie.

• Vingerhoedjies (Digitalis purpurea) en pronkridderspore (Delphinium x elatum) gee kleur en hoogte in die hart van ’n bedding.

• “Albei ons ma’s was lief vir pronkertjies (Lathyrus odoratus) en ons plant en pluk dit ook graag,” vertel Kathi.

• Krismisrose (Hydrangea-spesies) vir hul pragtige blinkgroen blare en oorvloed kleur onder die bome.

[ROOSSORG]

Met meer as 200 roosbome in die tuin moet Evan spesiale aandag aan elkeen gee. Die struike kry in die somer elke tweede oggend 20 liter water elk. Hy gebruik oorhoofse besproeiing wat in die warm somermaande terselfdertyd die rose afkoel. Elke roos kry ook ’n deklaag om die grond vogtig en koel te hou. In die winter kry die rose net water as dit nie gereën het nie.

In die middel van September, in Desember en in Februarie word elke roos met Ludwig’s Vigorosa gevoed, en van September tot April kry dit maandeliks Nitrosol as blaarvoeding. Evan spuit die rose elke drie weke in die groeiseisoen met Rosecare en volg ’n maandelikse spuitprogram teen swartvlek en poeieragtige meeldou.

Die derde week in Julie is dit altyd snoeityd. Doen hy dit dan, is die rose op hul mooiste vir die Greyton-roosskou in die laaste week van Oktober.

20201110GDNhodkinson
20201110GDNhodkinson

Die hooftuin en veranda met sy aartappelranker is iets om te aanskou. Die beddings wat die grasperk omraam, spog met sowat 200 rose, asook een- en meerjarige plante soos irisse, daglelies, vingerhoedjies en pronkridderspore.

[EVAN SE TUINWENKE]

• Ons grond is sanderig en het gereeld kompos nodig. In Augustus werk ons kompos in sodat die beddings gereed is vir nuwe saailinge in die lente. In November kry dit weer kompos ná die kragtige lentegroei en om die grond vir die warm somermaande voor te berei. “Kompos voed nie net die beddings nie, dit help ook dat die beddings langer vogtig bly,” verduidelik Evan. “Waar die tuin op sy weligste is, word die kompos bo-op die grond gesit; op ander plekke spit ons dit in. Ons kry baie goeie kompos van Agri Organics in Grabouw. Dit is beslis die moeite werd om die beste kompos moontlik te koop.” Nuwe plante en saailinge kry ook beenmeel in die plantgat om hulle ’n hupstoot te gee.

• “ ’n Goed versorgde grasperk laat die hele tuin mooi lyk,” vertel Evan. Hul grasperk kry in Augustus ’n bobemesting van gelyke dele bogrond en kompos. Dit voed die gras net voor die groeiseisoen begin.

• Bekyk jou tuin in die wintermaande wanneer die kaal raamwerk sigbaar is. Dit is ’n goeie tyd om enige veranderinge te maak.

• Gee vir elke bedding ’n rand. Dit lyk netjies en maak grassny soveel makliker. Evan sê hulle gebruik ’n enkelry bakstene hiervoor en druk bamboeslatte in die grond om die plante van die gras af te hou. “Daar is ’n bamboesbos op die erf, so ons kan na hartelus latte in enige lengte afsny.”

• Koop saailinge by ’n groothandelaar indien moontlik. Dit help baie met jou lentesaailingbegroting! Die Hodkinsons koop hul saailinge by Pieter Niel Kwekery op Caledon.

• Skep fokuspunte met groot potte, beelde of ’n bankie. “Die uil in ons tuin, wat gemaak is deur Alastair Barnes, ’n plaaslike kunstenaar, het ons staangemaak op ’n voetstuk wat ons spesiaal daarvoor gebou het, verduidelik Evan. “Dit vang dadelik die oog.”

• As jou rose nie goed vaar nie, skuif hulle na ’n ander deel van jou tuin. Dis dikwels die plek waar ’n roos geplant is, en nie die struik self nie, wat die probleem is.

Japannese blomappel (Malus floribunda)

KONTAKTE

Agri Organics

Pieter Niel Kwekery 028 212 2465