In die middel van die groot olyfboord met sowat 100 bome loop ’n paadjie wat met sonsondergang oranjerooi verkleur. Vlooikruid groei die beddings waarin die olyfbome geplant is toe en massa-aanplantings van onder meer engelvlerkies, spoorsalie, roosmaryn, perswildeknoffel en die grasse Pennisetum orientale ‘Shogun’ en Muhlenbergia capillaris groei tussen die rye.

Foto’s Kosie Jansen van Rensburg

WIE WOON HIER?

Larisa en Hubert Brody, hul tienerkinders Rebecca en Alex, en Sputnik die Schnauzer

WAAR Somerset-Wes

GROOTTE VAN TUIN 1 ha

GRONDTIPE Kleigrond 

Van die roostuin af loop ’n breë graspaadjie met gemengde beddings aan weerskante. In dié beddings, wat omraam is met oranjejasmyn, groei Salvia leucantha, engelvlerkies en tuinheliotrope in groot groepe bymekaargeplant. Dit gee in die somer en herfs baie kleur.

Kruidjie-roer-my-nie (Melianthus major) se reuk herinner Larisa aan haar kinderdae. “Die vorm van die blare is dramaties en ek hou van die gedagte dat dit sommer oral langs die paaie in Suid-Afrika groei.”

Van ’n mengelmoes van plante tot orde en asemrowend mooi – dit is die gedaantewisseling wat Larisa Brody se tuin in vyf jaar ondergaan het.

“Ons het einde 2014 van Gauteng af Somerset-Wes toe getrek en die eiendom gekoop vir sy groot tuin en die uitsig op die Helderberg aan die een kant en die see en die Hottentots-Hollandberge aan die ander kant,” vertel Larisa. “Met ons intrek het ek besef die tuin het baie aandag nodig. Toe ontmoet ek Pietman Diener, ’n tuinkenner van Stellenbosch, en voor ek my kom kry, was ons met ’n massiewe projek besig!”

Die tuin is in twee fases aangepak. Eerste aan die beurt was die inrit en sypaadjie, die skaduryke tuin rondom die tennisbaan en die deel naaste aan die huis. Pietman het met Larisa en Hubert se voorkeure en idees in gedagte ’n meesterplan geteken, en Danie Steenkamp van DDS Projects het in Augustus 2015 met die projek begin. Dit het sowat ses maande geduur. Die tweede fase het eers in September 2018 aan die beurt gekom. “Daar was baie gras en heeltemal te veel verskillende plante en veral agapante in die tuin. Met ’n swak boorgat was die water min en van die plante verdroog,” verduidelik Larisa.

“Die tuin was plek-plek donker en oorgroei. Ons het bome soos die amberbome (Liquidambar styraciflua), besemtrosvy (Ficus sur), kajapoetboom (Melaleuca quinquenervia) en witstinkhoute (Celtis africana) geïdentifiseer wat ons wou hou, maar die oormaat silwereike (Grevillea robusta) en kasuurbome (Pittosporum viridiflorum) is uitgehaal. Die dennebome se lae takke is afgesaag om die bome meer elegant te laat lyk en dié wat te na aan mekaar was, is afgesaag om meer lig deur te laat.”

Nuutgemaak en hergebruik

Om seker te maak die tuin kry genoeg water is ’n nuwe boorgat gesink en watertenks wat altesaam 40 000 liter kan hou, is staangemaak. Die grensheinings, wat voorheen net lemmetjiesdraad was, is vervang en die plante en gras wat hulle wou hergebruik of weggee, is uitgehaal. Waar moontlik is die vlakke in die tuin net so behou, maar rondom die huis is dit gelykgemaak en is klipmuurtjies en trappies gebou. Massas kompos en bogrond is by die kleigrond ingewerk, en met die besproeiing in plek kon Danie en sy span begin plant.

“Ek hou van massa-aanplanting en omdat die tuin so groot is en ek self graag daarin werk, was dit die perfekte oplossing,” sê Larisa. “Dit maak my werk minder en skep ’n gevoel van orde en eenvoud. Ons het soveel moontlik van die bestaande plante behou, soos die groot Viburnum tinus-struike onder die dennebome. Dit is net hard teruggesny sodat dit weer mooi kon uitloop, en nou vormsnoei ons dit.

“Ek geniet my tuin elke dag. Dit is die plek waar ek kan rustig wees ná ’n besige dag. Dis vir my heerlik om op die stoep te sit en te kyk hoe die berge se kleur met sonsondergang verander of hoe die maan opkom. Dit is ook vir my lekker om my tuin met ander te deel en te sien hoe mense dit geniet – soos toe ons dogter en al haar maats hul matriekafskeidfoto’s hier laat neem het.”Kruidjie-roer-my-nie (Melianthus major) se reuk herinner Larisa aan haar kinderdae. “Die vorm van die blare is dramaties en ek hou van die gedagte dat dit sommer oral langs die paaie in Suid-Afrika groei.”

Larisa het grasse soos Muhlenbergia capillaris in die voorgrond en Pennisetum orientale ‘Shogun’ met hul pienk pluime tussen van die rye olyfbome geplant.

Ek verkies massa-aanplanting. Dit maak die tuin baie makliker om te onderhou, omdat daar meer orde is.
– Larisa

Die struktuur van die ommuurde tuin (sien bl. 103) is minder opsigtelik gemaak met houtskoolkleurige verf, en welige Bostonse klimop groei dit toe. Die olyfboord is sigbaar deur die opening waar voorheen ’n venster was. 

Ek hou daarvan om nuwe projekte aan te pak. Daarom wil ek graag meer plante kweek wat bye lok sodat ek my eie heuning kan oes.
– Larisa

’n Baksteenrand om die grasperk keer dat die beddings groter word elke keer dat die rande gesny word. Dit verhoed ook dat gras by die beddings ingroei.

Hubert het gesê ons kan enigiets doen solank die tennisbaan behoue bly en hy gedurende die projek kan aanhou speel!
– Pietman
Larisa se tuinwenke

• Lees tuinboeke en -tydskrifte. Ek kan ure lank daardeur blaai en ’n mens kry ongelooflik goeie idees daarin.

• As jy honde het en hulle hardloop paadjies deur jou beddings, maak paadjies waar hulle dit wil hê. So hou jy almal tevrede!

• Plant lentebolle soos ranonkels in die roostuin, dan lyk dit vroeglente al mooi, nog voor die rose in Oktober begin blom. Ek spuit die rose elke twee weke in die lente en somer met ’n mengsel van een eetlepel Funginex, een eetlepel Aphicide Plus, drie eetlepels Nitrosol, drie eetlepels asyn en drie eetlepels skottelgoedwasmiddel in 10 liter water.

• Verf grensmure swart of houtskoolkleurig. Dit laat die mure “verdwyn”.

• Ons gooi twee keer per jaar Eco Pellets, ’n organiese bemesting wat ek by Agrimark koop, in die beddings en werk ook gereeld tuisgemaakte kompos in. In die lente en somer bemes ons die gras met KAN wanneer dit nie mooi groen is nie. Ongelukkig is hier baie molle wat hope grond op die gras uitstoot. Daarvoor het ek nog nie raad nie!

Larisa hou baie van heinings, of dit nou reguit lyne het of in ’n interessante vorm gesny is. Dit gee die tuin struktuur en lyk heeljaar mooi. Die heinings word gesnoei wanneer dit onnet lyk of wanneer dit te hoog groei en die uitsig belemmer.

Die inheemse pambatieboom (Anastrabe integerrima) is vir dié rondgesnoeide heining gebruik, terwyl ligusterheinings (regs) die roosbeddings omraam.

[Pietman vertel] “Die Australiese ontwerper Paul Bangay se werk was die inspirasie vir Larisa se tuinontwerp. Sy tuine met hul tradisionele uitleg en formele elemente soos gelyk oppervlakke, reguit lyne, grasperke en massa-aanplantings werk baie goed saam met die argitektuur van die Brody’s se huis. “Hoewel die uitleg formeel is, word dit versag deur die bome en massa-aanplanting van ’n uitbundige en losser aard, en het dit ’n natuurlike voorkoms. Die tuin is nog jonk en gaan namate die heinings groei en die verskillende tuinkamers meer gedefinieer raak, nog mooier vertoon. “Dit was ’n wonderlike projek en Larisa ’n droomkliënt. Dit voel vir my asof ek haar gehelp het om haar tuin te ‘bou’ en nou kan sy dit self verder mooi maak.”

Liguster

Ek hou van Paul Bangay se styl, maar dit kan nogal formeel wees. Ek het vir Pietman vrye teuels gegee om die tuin te beplan met dit in gedagte. Wat ek wel wou hê, was ’n roostuin, kamille-grasperk, waterfokuspunt en massa-aanplantings met orde.
– Larisa

Tuinkamers

Pietman het die tuin in verskillende kamers verdeel, elk met ’n unieke karakter en plantkeuse. In groot dele het hy massa-aanplantings gebruik en saam met Larisa plante gekies op grond van interessante teksture, kleure en maklike onderhoud.

1 Parterre

By die voordeur is ’n parterre, ’n formele bedding met netjies gesnyde kniehoogte-heinings van liguster (Ligustrum ibota) wat ’n patroon vorm. Aanvanklik is swart mondogras en lamsore tussenin geplant, maar dit was nie suksesvol nie. Nou is Larisa besig om in die oop dele nog heinings in ’n diamantvorm te skep. Dié formele ontwerp word afgerond met ’n eenvoudige fontein met koperpypies as waterspuite. Dié fontein was hier en is net so behou. 

Klippaadjies lei deur die woudtuin. Die tekstuur van die klip en interessante blaarvorms het heeljaar trefkrag.

2 Inrit, sypaadjie- en woudtuin

Dié deel van die tuin het baie aandag geverg. Keermuurtjies in die inrit het die witstinkhoutbome se wortels vasgedruk en onooglike grys keerblokke het die sypaadjietuin se grond in posisie gehou. Larisa het dié blokke vervang met skanskorwe wat gevul is met bourommel van muurtjies wat afgebreek is.

Bruin sandsteenklip van Stonehenge Marble & Granite rond die skanskorwe af sodat dit lyk asof dit van dié klip gebou is. Rondom die tennisbaan is bome in die woudtuin uitgehaal om meer lig in te laat. Met die baie bome in dié deel groei hier oorwegend skaduliewende plante, hoofsaaklik met wit blomme – onder meer krismisrose (Hydrangea), Azalea alba, Japannese anemone (Anemone-hibriede), spoorsalies (Plectranthus-spesies) en die gewone sneeubal (Viburnum opulus ‘Sterile’). Larisa het poublomme (Dietes grandiflora) wat hulle elders in die tuin uitgehaal het, in die sypaadjietuin geplant.

3 Groot olyfboord

Larisa het haar inspirasie vir ’n eie olyfboord gekry toe sy die Wellington Wine Walk gestap het. Daar en dan het sy besluit om olyfolie te begin maak wat sy Spook Hill gaan noem – na die boonste deel van die Parel Vallei-pad naby hul huis. “Somerset-Wes se klimaat is ideaal vir olywe en ons het genoeg plek daarvoor. Dit was ook tydens die erge droogte in die Wes-Kaap en ek wou iets plant wat meer waterwys is. Olywe en die massa-aanplanting rondom die boord is almal met min water tevrede. Daar is sowat 100 ‘Frantoio’- en ‘Coratina’-olyfbome; albei is geskik vir olie,” vertel sy. 

Die kamille-grasperk met vlooikruid en bergtee tussenin.

’n Groep laaggroeiende plante onder ‘n klompie bome is altyd treffend. Dit gee die bome ’n meer dramatiese voorkoms en voltooi die prentjie.
– Pietman


4 Klein olyfboord met kamille-grasperk

Een van Larisa se wense was ’n grasperk van kamille (Chamaemelum nobile); dit is ook een van haar gunstelingplekke in die tuin. Die grasperk is onder 36 ‘Frantoio’-olyfbome en tussenin groei vlooikruid (Erigeron karvinskianus), tiemie (Thymus doerfleri ‘Bressingham’) en die inheemse bergtee (Geranium incanum). Hierdie massa-aanplanting gee ’n treffende voorkoms aan die boord, ’n heerlike geur en ’n sagte gevoel onder jou voete. Dié tuinkamer lei onderdeur ’n heining van Viburnum tinus ‘Compacta’ na ’n boma van klip – ’n kuierplek waar ’n kajapoetboom (Melaleuca quinquenervia) met sy growwe stam hope karakter verleen. ’n Groot groep grasse (Pennisetum orientale ‘Tall Tales’ en P. ‘Cream Falls’) sorg vir beweging.

5 Roostuin en gemengde bedding

Naby die huis is Larisa se roostuin. Hier het sy vier roosbeddings wat met netjies gesnoeide ligusterheinings omraam word. In die beddings groei van haar gunstelingrose soos ‘My Granny’, ‘Antique Silk’, ‘Roberto Capucci’, ‘Magaliesburg Rose’ en ‘Rina Hugo’ – almal in skakerings van pienk en roomkleur. Van die roostuin af loop ’n breë graspaadjie met gemengde beddings aan weerskante. In dié beddings, wat omraam is met oranjejasmyn (Murraya exotica), groei Salvia leucantha, engelvlerkies (Oenothera lindheimeri) en tuinheliotrope (Heliotropium arborescens) in groot groepe bymekaargeplant. Dit gee in die somer en herfs baie kleur.

Plataanbome verskaf skaduwee in die somer. Die bome is getop sodat hulle nie te groot groei vir die ruimte nie.

Ek is nie seker of ek weer rose sal plant nie. Om rose in die droë, winderige Kaap te kweek is nie dieselfde ding as in Gauteng waar dit in die somer reën nie.
– Larisa


6 Ommuurde tuin

Wat eers ’n buitegebou was, is nou ’n pragtige ommuurde tuin met ’n koidam in die middel. “Dié struktuur is te ver van die huis om dit behoorlik as ’n kuierplek te benut en die dak het die pragtige uitsig op Landdroskop belemmer. Ons het besluit om dit af te breek,” onthou Larisa. “Die dag voor ons dit sou doen, het ’n paniekbevange Pietman my gebel en gesê die dak en vensterrame moet af en uit, maar die mure moet bly. Hy het voorgestel dat ons die res van die struktuur laat toerank met Bostonse klimop (Parthenocissus tricuspidata) en ’n koidam in die middel bou. Dit was beslis die regte ding om te doen!”

In die herfs verkleur die Bostonse klimop in skakerings van oranje en geel, en somer- maande is die hele struktuur groen. Dit skep ’n interessante tuinkamer met ’n unieke karakter. Rondom die ommuurde tuin groei sterjasmyn (Trachelospermum jasminoides), terwyl heroutstrompet (Beaumontia grandiflora) en Chileense jasmyn (Mandevilla laxa) van die binnemure toerank. Japannese anemone, aronskelke (Zantedeschia ‘Green Goddess’) en oranjejasmyn blom in skakerings van wit en groen. In die koidam groei waterlelies. 

KONTAKTE EN VERSKAFFERS